EFF-advokaat: ‘Grondwet genoeg vir grondhervorming’
Die Suid-Afrikaanse Grondwet hoef nie aangepas te word om grondhervorming te laat plaasvind nie. Die klem moet verskuif na die herverdeling van grond en weg van restitusie, sê ’n bekende advokaat.
Die gesukkel om grondhervorming tot uitvoering te bring, is nie weens wetgewing nie, maar is ’n politieke probleem. Dit is waarom dit nienodigisomdieGrondwette verander om grondhervorming te laat plaasvind nie.
Só sê adv. Tembeka Ngcukaitobi, advokaat en skrywer van The land is ours: South Africa’s first black lawyers and the birth of constitutionalism.
Hy sê die resolusies wat die ANC verlede jaar op sy beleids-en-verkiesingskonferensie aanvaar het ( SIEN DIE KASSIE ), is ’n erkenning deur die party dat hy nie die Grondwet toegepas het nie. Hy het opgemerk dat die resolusies nie voorsiening maak dat alle grond sonder vergoeding onteien moet word of dat die Grondwet verander moet word nie.
Volgens hom gaan dit nie net oor grond nie, maar oor alle eiendom, insluitend behuising. Daarom moet artikel 25, die sogenoemde eiendomsklousule, saam met artikel 26 oor die reg tot behuising, gelees word.
Die klem en meganismes moet verander word om ’n sukses van grondhervorming te maak. Hy meen die restitusieproses het misluk en dat die herverdeling van grond voorrang geniet. Herverdeling moet eerder deur ’n adminstratiewe stelsel plaasvind, soos dié wat Australië en Kanada gebruik het om aan hul eerste mense vinnige toegang tot grond te gee, as deur ’n geregtelike proses.
“Dit is vinnig, toeganklik en goedkoop. Haal die prokureurs uit die proses en laat dit oor aan administrateurs. Laat individue sê waarom hulle grond nodig het sodat grond aan hulle toegewys kan word.”
Tembeka sê dit beteken nie dat daar nie meer ’n rol vir die howe is nie. “Die howe moet oorsig uitoefen.”
Daarbenewens moet SuidAfrika die rug keer op ’n markgedrewe benadering tot grondhervorming en die beginsel van ’n gewillige koper en gewillige verkoper. Billike en regverdige vergoeding, waarvoor die Grondwet voorsiening maak, kan betaal word.
“Die afgelope 24 jaar het bewys die beginsel van ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper werk nie. Dit beteken nie ons moet grond in alle gevalle sonder vergoeding onteien nie. Ons moet deur ’n spektrum van vergoedingsvlakke werk, wat by onteiening sonder vergoeding begin en deurwerk tot volle markwaarde.”
Tembeka het saam met prof. Ruth Hall van die instituut vir armoede-, grond- en landboustudies (Plaas), dr. Aninka Claas- sens van die Universiteit van Kaapstad en dr. Litha Magingxa van Land Bank aan die Universiteit Stellenbosch se bestuurskool se paneelbespreking oor grond in Kaapstad deelgeneem.
WAAROM GRONDHERVORMING?
Volgens Tembeka is daar drie redes waarom grondhervorming moet plaasvind: Die geskiedenis van onteiening wat regstelling noodsaak, toegang tot grond as ’n manier om die kringloop van armoede te verbreek en om te help met die verbreding van deelname aan die ekonomie, aangesien grondherverdeling kan help om monopolieë op te breek.
Hy sê die afsnydatum, 1913, in die Grondwet was nie toe ontneming van grond begin het nie.
Dit was die datum waarop die verowering gefinaliseer is, toe ’n wet begin het om oorlog te vervang. Die ontneming van grond het ’n verarmde klas swart mense geskep. Dit het hulle ook ontneem van geleenthede om kennis en vaardighede te verwerf en armoede oor geslagte heen vasgelê en herhaal.
WAARBORG NIE EIENDOMSREG NIE
Hy sê in teenstelling met wat mense glo, waarborg artikel 25 van die Grondwet nié die reg op private eiendom nie. Wat dit wel sê, is dat niemand op arbitrêre wyse van eiendom ontneem mag word nie. “Ons weet die Grondwet maak voorsiening vir die reg tot vergoeding, maar die reg is beperk en besluite daaroor kan net deur ’n hof geneem word, nie deur staatsamptenare of politici nie.”
Die Grondwet maak ook nie voorsiening vir ’n markgedrewe benadering tot grondhervorming nie.
Hy sê ongelukkig het die Regering nie die verpligtinge wat die Grondwet op hom lê, in werking gestel nie. “Ons het nog nie eens ’n wet vir die herverdeling van grond nie. Anders as vir restitusie, maak herverdeling voorsiening vir billike toegang tot grond.”
Hy sê die Regering het nog nie die mag om vir grondhervorming te onteien, gebruik nie. “Elke keer wat die Regering grond onteien het, het hy die ooreengekome bedrag of ’n markverwante bedrag betaal. Die Regering het die beginsel van ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper slaafs nagevolg, al is dit nie in die Grondwet nie.
“Dit beteken ons het nie ’n wetlike probleem nie, maar ’n politieke probleem en ’n Regering wat net eenvoudig nie die wil het om grondhervorming te laat plaasvind nie.”
Hy het ook gesê Suid-Afrika het wette wat verblyfregsekerheid op plase (die Wet op die Uitbreiding van Verblyfsekerheid, of Esta) en in stedelike gebiede (die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsettings, of Pie) verseker, dog Hooggeregshofrolle is gelaai met sake oor uitsettings. Volgens hom staan die Regering meestal in die beskuldigdebank oor uitsettings. Hy sê verblyfreg is nou onbestendiger pleks van sekerder en hy meen Suid-Afrika het ’n omvattende nasionale wet oor verblyfsekerheid nodig sodat apartheid ook in die praktyk beëindig kan word.
GEMENE REG
Afgesien van die voorsiening vir onteiening sonder vergoeding in die Grondwet, waarsku Tembeka dat dié konsep al vir meer as 100 jaar deel van gemene reg in Suid-Afrika is. Die “gunstelingregter van sy tyd, die liberale regter sir James Rose-Innes” het in 1915 gesê die staat mag ’n eienaar ontneem van waardevolle eiendom sonder vergoeding. In die geval van die Groepsgebiedewet het regters in die 1950’s gesê dit is nie ’n probleem dat mense sonder vergoeding uit sekere gebiede verskuif is nie. Sodanige uitsprake is ook in die demokratiese era gemaak, naamlik dat onteiening in sekere omstandighede sonder vergoeding kan plaasvind.
Tembeka sê wat in dié verband bespreek moet word, is wat dié omstandighede is en watter prosedures gevolg moet word om besluite te neem en hoe mense wat deur die onteiening geraak word, beskerm moet word. “Ons moet dit deur ’n regstelsel doen.”
Hy bepleit ook verandering aan regeringsinstellings. “Ons moet die Grondwet uitlos en eerder ’n wet deurvoer om die herverdeling van grond moontlik te maak en die instellings vir grondhervorming, soos die Grondeisehof en -kommissie wat nie baie suksesvol was nie, verander.”
Tembeka sê daar is ’n veel ernstiger probleem, en dit is dat daar so swaar op die howe gesteun word (judicialization ) om restitusie te laat plaasvind. Hy sê die proses om ’n eis te bewys, is “belaglik”. Hy wonder wie die hulpbronne, tyd of kennis het om dit te doen. “Dit maak ook nie sin nie, want alle swart mense se grond is onteien.”