Reuse-Dormersukses: Só bou jy ’n boerdery vanniksaf!
Hy’s nie’ n vierde-of vyfde generasie boer wat’ n reuse plaas geërf en boerdery pap saam met moedersmelk ingegee is nie. Mnr. Danie Thomas moes sy pad oopveg en vasbyt tot waar hy vandag veilingsrekords met sy suksesvolle Dormerstoetery herskryf. Jy kan k
Met ’n melkkoei en 30 braaihoenders wat hy met spaargeld gekoop het, kon mnr. Danie Thomas sy boerdery op ’n klein plasie met skrapse infrastruktuur begin. Vandag verskuif sy Dormerstoetery, wat hy op ’n onortodokse manier gekoop het, keer op keer rekordgrense.
As skoolseun op Sasolburg het Danie mense se motors gewas en die geld gespaar. “Ons gesin het gereeld by my oupa, Ben Claassen, op hul plaas gaan kuier. Ek het toe al geweet ek wil eendag boer.”
In 1995, toe hy 12 jaar oud was, het sy gesin na die plaas Bankies naby Edenville getrek. Sy ma het die plaas van 109 ha met net ’n beeskraal en ’n groot skuur by sy oupa geërf. Met sy motorwasspaargeld kon hy ’n melkkoei en 30 braaihoenders koop, die begin van sy eie boerdery.
Danie se ouers het nie self geboer nie, maar op die plaas kom woon. Hulle was reeds afgetree en hy het die plaas by sy ma gehuur. “My pa het ’n bietjie probeer boer, maar die plaas was net te klein.”
ALLEEN OP PLAAS AS 17-JARIGE
“’n Mens hoef nie baie geld te hê om te begin boer nie,” sê Danie.
“As skoolseun het ek Dinsdae op Kroonstad se veeveiling varke gekoop en dan weer verkoop. Soms het ek die varke regstreeks aan die slagplase verkoop en ander kere het ek hulle huis toe geneem om te voer en dán te verkoop.”
Mnr. Koos Basson, ’n varkboer van Kroonstad, het Danie geleer hoe om ’n vark se gewig te skat. “Dit was in die dae nog voor
Op 12 het Danie Thomas sy eerste melkkoei gekoop en op 17 alleen begin boer. Ná verskeie draaie in die sakewêreld herskryf hy nou in sy vroeë dertigs rekordboeke op veilings. Hy kan nie die waarde van teelmateriaal in sy Dormerstoetery genoeg beklemtoon nie, en sê ’n mens kan eintlik nie die waarde van ’n goeie stoetram bepaal nie. ■ Leen geld reg, sê Danie. Hy pas die beginsel toe dat hy geld moet terugbetaal binne 36 maande nadat hy dit geleen het.
skale op veilings gebruik is.”
Mnr. Pietrich Crotz van Prima Afslaers het hom toegelaat om eers die volgende week die varke wat hy gekoop het, te betaal. “Só kon ek stadig maar seker op my voete kom. Ek was baie Dinsdae nie op skool nie.”
Vir nóg ’n inkomstestroom het hy hout uit ’n bloekombos op die plaas gesaag. Sy pa het hom gehelp om dit op die dorp as brandhout te verkoop.
“My ouers het my baie gehelp om die boerdery aan die gang te kry, en daarvoor is ek dankbaar.
“Hulle het egter nie self vir die boerdery
‘Dis niks om groot te lyk nie . . . Die vraag is of dit jou eie is.’
kans gesien nie en het later dorp toe getrek.”
Danie het as 17-jarige alleen op die plaas gebly. “Ek glo in klein begin. En elke ding wat ek klein begin het, het uiteindelik gefloreer.”
SLAG VIR BEMARKING
In gr. 11 het Danie naweke en vakansies by die koöperasie Natal Agri gewerk en besluit om die skool te verlaat. “Ek het heeltyds as verkoopsman vir Natal Agri begin werk en het my matriek buitemuurs verwerf.”
Bemarking is saam met boerdery ’n passie vir hom en Danie vertel hy het gou uitgeblink as verkoopsman.
Op 19 kon hy danksy sy salaris grond byhuur en 400 hektaar sonneblomme aanplant. “Dit het my van saaiboerdery genees!”
Die saaiery was nie ’n groot sukses nie en deesdae plant hy net wat sy diere kan vreet. “My mielies word lamsvleis.”
Hy is in sy element as hy met vee werk, diere kan afrond en vet voer. “Ek het intussen heeltyds begin boer, maar gou besef die erfplaas is te klein. Met ’n ander bron van inkomste kon ek die boerdery nog vinniger uitbrei, en ek het in 2005 as bemarker vir BKB Louwid begin werk. Die vaste inkomste het my gehelp sodat ek nie van my vee hoef te verkoop om van te leef nie.”
Die bemarkingswerk het baie deure as boer vir hom oopgemaak. Intussen het hy aangehou om deeltyds met braaihoenders te boer, hout te verkoop en sy skaapboerdery uit te brei sodat hy kort voor lank 50 tot 100 lammers kon voer.
Teen 2007 kon Danie danksy sy salaris reeds 1 500 lammers voer en het hy weer heeltyds gaan boer.
“Ek het geld by ’n handelsbank geleen om uit te brei. Dit is iets waaroor ek baie spyt is.”
’n Bankamptenaar het al hoe meer voorskriftelik geraak oor hoe hy sy boerdery moes bedryf. “Die bank het ook nie sy woord gestand gedoen nie en my boerdery het skade gely.”
‘IS DIT JOU EIE?’
’n Mens moet reg geld leen, sê Danie. “Banke hou van ’n hoë omset en dit lyk goed, maar omset en wins is nie dieselfde ding nie. Dit gaan nie oor omset nie, dit gaan oor wins. ’n Hoë omset maak dit net maklik om geld te leen.
“Dis niks om groot te lyk nie . . . Die vraag is of dit jou eie is.”
In 2009 het Danie die plaas Bankies verkoop en drie ander plase – Canada, Morning Star en St. Lawrence – in die distrik Edenville gekoop. Dié plase is saam 571 ha groot.
Teen daardie tyd het hy 5 000 tot 6 000 lammers per siklus van 50 tot 60 dae gevoer en afgerond, asook 1 000 speenkalwers vir 120 dae op die veld gehou.
“Toe was ek ’n groot boer, maar dit was nie myne nie – dit was die bank s’n.”
In 2012 het die voerkraalmark baie swak gevaar en Danie het feitlik bankrot gespeel, maar kon gelukkig die plase behou.
“As ’n mens finansieel ondergaan, word jy in ons land gemerk asof jy ’n melaatse is. Maar jy moet net opstaan.”
Danie het in hierdie tyd ook besef hy skenk te veel aandag aan geld en nie aan dít wat sy passie is nie. “Toe ek ophou om net op geld klem te lê, toe word ek geseën.”
Sy vrou, Riekie, het intussen in Augustus 2012 ’n koffiewinkel met haar erfgeld gekoop en die egpaar het in Pretoria gaan bly om die koffiewinkel te bestuur.
Danie sê hy was gelukkig dat hy die plase kon behou.
“Ek het koeie aangehou en ’n voorman, mnr. JP Grobbelaar, aangestel om na die boerdery te kyk.”
WAARDEVOLLE SAKELESSE
Hy het baie waardevolle lesse oor entrepreneurskap by sakemanne in Pretoria geleer. “Daar was ’n groot leemte in my sakekennis, maar vandag kan ek my kennis op my boerdery toepas.”
Danie het geleer ’n mens se papierwerk moet in orde wees en alle sake-ooreenkomste op skrif. Hy het ook geleer dat bemarking op sosiale media ’n suksesvolle manier vir bemarking is.
“Ek het in Pretoria geleer om buite die kassie te dink oor die bemarking van my ondernemings en dat dit belangrik is om ’n handelsmerk te hê. Ek het groot sukses met dié konsepte in die landbou behaal.”
Dit is ook belangrik om beroepsmense aan te stel om jou bemarking te doen, sê Danie.
Mnr. Henk Cilliers, ’n Pretoriase sakeman van die prokureursfirma Cilliers en Reynders, het aan hom gesê enige onderneming moet homself in 36 maande kan betaal om dit die moeite werd te maak. Danie glo vandag steeds in die beginsel van 36 maande.
“Ons leen geld oor ’n té lang tydperk. As jy geld leen om ’n onderneming te begin, moet jy dit binne 36 maande kan terugkry.”
Hy pas dié reël toe en meen dit het die wêreld vir hom verander, want dit het hom laat besef hy moet hoëwaarde-diere aanhou om sy grond te kan betaal. “Jy maak jou somme anders as jy die 36 maande-reël toepas.”
Die Thomas-egpaar het in 2014 die koffiewinkel verkoop en teruggekeer plaas toe. Die koffieroostery het intussen ’n groot liefde geword en Danie bemark steeds sy eie koffie onder die handelsmerk Daniel Thomas. “Ons kon 200 Simbrakoeie met die koffiegeld koop.”
DIE KRAG VAN KRUISTELING
In 2013 het Danie na Dohne-Merino-ramme gesoek, maar kon nie kry nie. “Ek koop toe 10 Dormerramme wat ek by 300 Dohne-ooie gesit het omdat ek nie anders kon nie. Dit was ’n ongelooflik goeie kruisteling.”
Die kruislammers weeg gemiddeld 6,3 kg swaarder as die rasegte Dohnelammers en tel gemiddeld 80 gram gewig meer per dag in die voerkraal op.
In 2015 het die Kairos-Dormerstoetery van mnr. John Havenga op die mark gekom en Danie het dit gekoop. “Ek het die stoetery sonder ’n sent gekoop. Mnr. Hendrik Steyn, John Havenga se skoonseun, het my ses maande kans gegee om die geld bymekaar te maak om vir Kairos te betaal.”
Soos koffie, het die Dormerras Danie se passie geword. “Dit gaan nie net oor geld nie . . . Vanjaar gaan ek ook vleis onder die handelsnaam Thomas Lamb bemark.”
Thomas sê ’n Dormerram, Dik Piet, wat die Kairos-stoetery in 2013 vir R150 000 gekoop het, het oor en oor die waarde van goeie teelmateriaal bewys. Dik Piet se seun Baksteen is in Februarie verlede jaar teen R140 000 verkoop.
“Ek het geloof in die waarde van goeie teelmateriaal en tegnologie. Danksy tegnologie kan een goeie ooi nou tot 100 lammers voortbring deur embriospoeling en kan goeie teelmateriaal in ’n stoetboerdery bevorder word.”
Boere wat hul kuddes wil verbeter, moet in die beste moontlike ramme belê, sê hy.
“Goedkoop ramme bring vir jou skade en jy beweeg nêrens heen nie. Net een goeie ram kan vir jou baie genetiese waarde toevoeg.”
REKORD OP REKORD
Kyk om jou en praat met mense wat suksesvol is, is Danie se raad aan jong boere.
Sedert 2016 het hy vier Dormer-produksieveilings gehou en op elke veiling het die rekords gespat danksy die goeie genetiese materiaal in die stoetery.
In Februarie verlede jaar het sy stoetramme teen gemiddeld R52 300 verkoop. Met sy vierde produksieveiling in April vanjaar het hy die duurste Dormerooi met haar ontvangerooie teen R100 000 verkoop.
“Dik Piet het R150 000 gekos en was die duurste Dormerram in Suid-Afrika, maar sy teelmateriaal het R1,4 miljoen tot die stoetery gevoeg. Jy kan egter nie die waarde van die beste stoetdier in Suid-Afrika bepaal nie.”
Bemarking is belangrik. Hy doen baie bemarking op sosiale media en meen dit is die manier om sy mark uit te brei. “Aanvanklik was die Kairos-stoetery net ’n onderneming, maar toe word dit deel van my.”
Danie sê deesdae spits hy hom meer op die verbetering van sy eie weiding toe en hy huur minder grond. Hy plant voersorghum en smutsvingergras aan en pas ook drukbeweiding toe met sy beeste.