Jou storie: Kraai, kekkel en kloek
’n Hoenderfabriek — perfek in alle opsigte. Is dit te goed om waar te wees? In die middel van ’n stuk grasveld staan dit daar – en binne word die hoenders tot die wonderlikste geregte verwerk waaraan jy kan dink . . .
Terwyl ek deur ’n stuk droë, geel grasveld loop, gewaar ek die vreemdste, groot rooi struktuur doer in die verte. Op die deur lees ek dit het iets te doene met hoenders. Ek loop vinniger – angstig om dit van naderby te betrag. Het bewoners van ’n ander planeet met hul ruimtetuig hier op die plaas kom plak? In die middel van nêrens, in die verlate veld? Is dit ’n lugspieëling of die werklikheid, wonder ek.
Ek is verstom oor hoe groot die kubusstruktuur is – seker byna vier verdiepings hoog. Op ’n manier kan ek dwarsdeur die metaalagtige struktuur sien. Aan die voorkant van die gebou is ’n naam in wit letters op ’n rooi agtergrond. Ek kan nie die naam onthou nie, maar dit het iets met hoenders te doene gehad. Ek maak die deur huiwerig oop. Sê nou die ding styg op en hierdie vreemde wesens ontvoer my? My nuuskierigheid kry egter die oorhand.
Ek is aangenaam verras. Die mense binne lyk heeltemal normaal en is baie vriendelik. ’n Gawe man, ene mnr. De Haan, begin verduidelik wat binne gebeur: “Dis ’n fabriek waar hoenders verwerk word. Daar is ook ’n winkel waar jy allerhande hoenderprodukte kan koop.”
Die lewende hoenders is op die boonste vlak, van waar hulle deur ’n skag na die eerste lokaal gaan, waar die koppe en pote afgesny word. Arme hoenders, dink ek. As hulle maar geweet het wat wag, het hulle nie by die skag afgeseil nie.
Met ’n volgende skag gaan hulle na ’n ontveringslokaal. In die derde lokaal word hulle behoorlik skoongemaak voor hulle na die volgende lokaal gaan om voor berei te word vir gaarmaak doeleindes. Niks gaan verlore nie. Die afval raak troeteldierkos en selfs die vere word verwerk en gebruik.
Mnr. De Haan neem my rond. Ek is heel beïndruk met die fabriek. Die dekor is modern – taamlik futuristies.
Ek sien ’n lopende band waarop ’n plaat van vlekvrye staal, met gleuwe daarin, gemonteer is. Iemand verduidelik hulle sit die gaar hoenders daarop en met die sterk vibrasie van die band skud die bene los, wat deur die gleuwe glip. As ek dit nie sien gebeur het nie, sou ek dit moeilik geglo het.
Een vir een beland die gaar hoenders op die vibrerende plaat en ek hoor hoe val die bene deur die gleuwe. En siedaar! Jy’t ’n heerlike goudbruin gebraaide én ontbeende hoender. Dis ’n algehele treffer.
HOENDERHEMEL
Die geure van al die heerlike disse prikkel my smaaksintuie en ek raak vreeslik honger. “Dit is geen probleem nie,” sê my gids.
Hy neem my na ’n area met verskeie muntoutomate. Daar is hoendergeregte om te kus en te keur – van hoender à la king, kerriehoender, hoenderpastei, gebraaide hoender, hoenderpasta en hoenderslaai tot hoendersop.
Om nie eens van die eierdisse te praat nie. Jy gooi net jou geldjie in en binne ’n minuut kry jy die gereg van jou keuse – stomend warm en netjies verpak. Dit voel asof ek in die hoenderhemel is. Ek sien net nie gevleueldes wat harpies speel en op wasige wolkies rondsit nie.
Ai, die arme hoendertjies, dink ek weer, half skuldig. Maar nou ja . . .
Ek maak myself gemaklik by een van die tafeltjies waar jy kan sit as jy dadelik wil eet en smul aan die geurigste hoenderkerrie wat ek tot nog toe geproe het. My skuldgevoel oor die hoendertjies se lot is nou heeltemal vergete. As ek nie so versadig was nie, het ek ’n tweede porsie verorber.
Ek koop nog ’n gereg om huis toe te neem, en sommer ook ’n paar botteltjies van hul hoenderspeserye, wat glo die skop van ’n veghaan het. Ek kan nie wag vir om almal te vertel van hierdie vreemde, maar wonderlike plek nie.
Bestaan so ’n plek reeds? Het iemand dalk al ’n masjien ontwerp wat hoenderbene uitskud? Ek wonder maar net, want ek het dit alles in ’n droom ervaar – sowat 30 jaar gelede. Chrissie Botha is ’n vryskut-uitlegkunstenaar wat gereeld by Landbouweekblad hand bysit.