Hart tot hart
Goeie verwagtinge kan ’n klomp vreugde bring lank voor die werklikheid aangebreek het. Soms lê daar ’n verwagting in die op weg wees na iets en – geprikkel deur die verbeelding, iets groots – ja, só groot dat die werklikheid later ’n teleurstelling kan wees.
Toe ek ’n kind was op ’n plaas, was daar min luukse dinge om te beleef. ’n Vakansie weg van die plaas af kon hoogstens een keer elke drie jaar plaasvind. Verwagtinge is dikwels omskep in teleurstelling as die oes nie dít opgelewer het waarop gehoop is nie.
Om sewe kinders in ’n verswakkende ekonomie groot te maak was nie speletjies nie. As ek vandag hoor van “agtergeblewenes” en wat hulle alles moet ontbeer, is dit nie vir my vreemde begrippe nie. In vandag se terme was ons ook maar agtergeblewenes.
Ons het kaalvoet en sonder skoolklere skool toe gegaan. Namiddae, as die huiswerk gedoen is, was dit tyd om in die koshuistuin te gaan werk waar talle groentesoorte gekweek is. Toe was dit nie kinderarbeid nie, maar deel van jou opvoeding en grootmaakproses.
Ek dwaal af, maar eintlik wou ek net die agtergrond gee waarom ons kinders so in verwagting geleef het. Jy kon jouself baie dinge verbeel; fantasie kos niks. Dis goedkoop plesier en dit temper die teleurstelling.
Maar temper beteken nog nie ’n totale uitskakeling nie. Ons het tog ook ons gebroke verwagtinge gehad, tye wat ons gewonder het: “Hoe sal dit wees om ryk te wees? Om belangrik te voel? Om in ’n spoggerige motor rond te ry?”
Vandag is dit anders. Ons kyk met ’n dowwe oog terug na dít wat was. En ons kla nie, want die Here was tog altyd daar om te sorg en ’n pad oop te maak.
Het ons dan ophou wonder? Nee, ons wonder net oor ander dinge. Hoe sal dit in die hiernamaals wees? Sal dit aan ons verwagtinge voldoen of selfs oortref? Intussen sal dit goed wees om die op weg wees daarheen ’n stuk vreugde te maak.
Van Abraham, die geloofsvader, verneem ons dat hy die verlossing uit die verte gesien het en hom daarin verheug het (vgl. Joh. 8:56 en Hebr. 11:13). Is dit nie ook soos ons as gelowiges na die hiernamaals moet kyk nie?