Hou familie uit die hof
Dit is nie net belangrik om ’n ondubbelsinnige testament te hê nie, dit is ook belangrik dat dit aan al die vereistes van die wet voldoen. Indien nie, kan dit lei tot ’n onverkwiklike stryery tussen jou naasbestaandes.
Wanneer ek sê jou testament is die belangrikste dokument wat jy in jou lewe gaan onderteken, oordryf ek nie. ’n Mens word nie gebore om te lê en asem haal tot jy eendag sterf nie. Jy groei en jy het doelwitte, drome en ideale – vir jouself én vir jou naasbestaandes.
Vanuit ’n finansiële oogpunt gesien, probeer jy welvaart skep. Wanneer jou tyd op aarde wel eendag tot ’n einde kom, wil jy tog gaan met die wete dat diegene vir wie jy iets beteken het, sal voordeel trek uit jou toewyding en sorgsaamheid. Hopelik sal hulle mekaar nie in ’n hof moet uitmekaar skeur om dit te verdeel waarvoor jy gewerk en gespaar het nie.
Tog sien ons so baie dat dit gebeur. Hoekom? Omdat daar nie ’n testament was nie, die testament onduidelik was in sy bedoeling of omdat die wetlike prosedure met die opstel daarvan nie gevolg is nie.
As jy sonder ’n testament sterf (of as jy wel ’n testament het, maar dele daarvan is onuitvoerbaar), kan dit tot gevolg hê dat daar ten opsigte van daardie bemakings gehandel word asof jy nie ’n testament het nie. Die Wet op Intestate Erfopvolging (Wet 81 van 1987) bepaal dan hoe daar met jou bates gehandel moet word. Dit kan beteken dat mense wat jy nooit bedoel het van jou moet erf nie, nou skielik erfgename word.
Indien jy byvoorbeeld ’n gade en kinders nalaat, sal die oorlewende gade en kinders elk ’n kindsdeel erf. As daar nie ’n gade of kinders is nie, sal dit vererf na die naaste bloedfamilie. Plaasvervulling (byvoorbeeld kinders van kinders) word nie toegelaat nie. Die naaste bloedverwantskap in ’n reguit lyn (dit kan voorsate ook wees) sal bepaal wie erf.
Die oplossing is maklik: Maak seker jy het ’n testament.
Nie enige dokument is ’n testament nie. Die bedoeling dat ’n dokument ’n testament is, moet duidelik blyk. Die bedoeling met die bemakings – wie wat kry – moet eweneens duidelik wees. Dit moet ook voldoen aan die vereistes vir ’n geldige testament, soos bepaal deur die Wet op Testamente (Wet 7 van 1953).
Testamente, of dan liewer dokumente of geskrifte waarin bemakings uiteengesit word, is al op rekenaars en selfs sigaretboksies geskryf. Al sê jy baie duidelik daarop dat dit bedoel is om jou testament te wees, sal dit nie voldoen aan die vereistes van die wet nie en sal die Meester van die hof dit nie aanvaar nie. Die enigste uitweg is dan om ’n hof te nader.
TAALGEBRUIK
Kom ons kyk eers na die betekenis van sommige woorde. Die hof moet besin oor die wense van die testateur, soos uiteengesit, teenoor die taalgebruik. In hierdie verband is die hof se gevolgtrekking in die saak Rens vs. Edelstein belangrik, naamlik dat ’n hof nie die taalgebruik in ’n testament kan vertolk om gevolg te gee aan iets wat die testateur dalk bedoel het, maar nie (behoorlik) uitgedruk het nie.
Kortom, dit gaan meer oor wat jy sê, nie noodwendig wat jy bedoel het nie. Die bedoeling moet duidelik uit die woorde blyk.
Die Wet op Testamente het duidelike voorskrifte vir die opstel van ’n testament. Ek wil net stilstaan by die ondertekening daarvan in die teenwoordigheid van getuies. In die appèlhofsaak Raubenheimer vs. Raubenheimer het die testateur ’n testament laat opstel en deur sy makelaar laat onderteken, maar nie voor twee getuies nie. Die makelaar sou die “getuies” sommer later by sy kantoor laat teken. In die appèlhofsaak is beslis dat dit wel as die testateur se testament aanvaar moet word.
Jou testament moet voor twee getuies onderteken word wat albei saam op daardie tydstip teenwoordig is. Hulle hoef nie te sien wat in die testament staan nie (jy kan dit selfs bedek). Hulle bevestig bloot dat daardie handtekening jou handtekening is.
Nico van Gijsen is lid van Fisa en besturende direkteur van Finlac, ’n onafhanklike finansiëlerisiko-bestuursmaatskappy. NAVRAE: Nico van Gijsen, e-pos: nico@finlac.com; tel. 021 461 2067.