‘Nuwe’markvir Kaapstad beplan
PLANNE ter waarde van honderde miljoene rand is onderweg om die varsproduktemark in Kaapstad te herontwerp.
“As ek kyk na die leiers in die bedryf en ook die supermarkte se pakhuise, verkoelingsgeriewe en algemene logistiese vermoëns, het die mark agtergebly. Ons wil die mark meer relevant maak en al die fasette daarvan herontwerp sodat dit die voorranghandelsplek kan raak,” het mnr. Philé van Zyl, direkteur van ZZ2 en ’n aandeelhouer in die mark, op die Sandveldse Aartappelkwekersorganisasie (Sako) se algemene jaarvergadering op Velddrif gesê.
Stelsels én infrastruktuur sal opgeknap word. “Die instandhouding van die ou gebou, water en die harmonisering van ’n wyd uiteenlopende klomp belangegroepe stel tans groot eise aan ons.”
Die mark is op 32 ha grond geleë en bied sowat 50 000 m2 onderdakruimte.
“Ek is seker as ons alles doeltreffender maak, kan ons met die helfte daarvan oor die weg kom. Ons moet die vermorsing uitskakel en ’n meer doelgerigte gerief skep. Ek sal ook eerder met ’n kleiner, maar meer gebruikersvriendelike mark werk, want dit is die tipe mark wat op die lang duur sal groei.”
Met ’n omset van sowat R1,6 miljard per jaar is die mark in Epping die derde grootste varsproduktemark in Suid-Afrika.
“As ek die varsproduktelewering in die Kaapse Skiereiland in ag neem, behoort die omset eintlik sowat R2,5 miljard te wees. Ongelukkig het baie boere nie meer vertroue dat die mark die regte plek is om te wees nie. Jy kan hulle nie oornag anders oortuig nie, maar moet aanhou om dinge op die regte manier te doen en geriewe te verbeter tot hulle terugkom,” sê Van Zyl.
Die mark is sedert 2015 in private besit en behoort aan ’n groep van sowat 30 aandeelhouers, van wie nie een meer as 20% eienaarskap het nie.
“Sedert ons in 2015 oorgeneem het, was ons eintlik baie gelukkig. Veral die afgelope twee jaar was goeie jare, miskien vanweë die droogte, al was dit moeilik vir ander. Ons kon al ons leningsrekenings terugbetaal, al ons finansiële verpligtinge nakom en ’n fonds begin bou om onsself gereed te maak om ’n nuwe mark te bou,” sê Van Zyl.
Hulle sal onder meer staatmaak op kommersiële lenings om die projek te finansier. “Ons het, soos Naspers wat ook nie dividende betaal nie, ’n strategie om genoeg bronne bymekaar te maak sodat ons die markprojek kan voltooi.”
PRIVATE PROJEK OP OPENBARE GROND
Van Zyl het aan Landbouweekblad gesê die projek sal twee jaar duur sodra hulle besluit hulle gaan voort. Dit is ’n ingewikkelde proses waarvoor die Stad Kaapstad se ondersteuning nodig is. Hul visier is om teen Augustus 2019 “’n antwoord te hê”.
“Daar is baie kwessies op die tafel, want die eiendom behoort aan die Kaapse munisipaliteit, maar dit sal ’n private ontwikkeling wees. Ons sal dus ’n ooreenkoms moet sluit, waarvoor sekere reëls geld. Ons is egter vol vertroue dat ons dit binne die reëls sal regkry.”
BETREK ALMAL
Een van die probleme is die inwonende groothandelaars en die informele handelaars buite die mark, wat die prysbepalingsmeganisme van die varsproduktemark in ’n mate ondermyn.
“Daar is sinergie, want hulle is ons kliënte en terselfdertyd skep die mark vir hulle ’n logistieke voordeel. Ons wil egter beter onderskei tussen die kommissiemark en die groothandelaarsmark. Die boodskap moet duidelik deurkom met wie jy onderhandel – ’n agent of ’n groothandelaar.”
Hy sê die informele handel buite die mark se status en posisie kan nie geïgnoreer word nie.
“Hulle is net sulke waardevolle en geëerde groothandelaars as enige ander in ons omgewing en ons behandel hulle dienooreenkomstig. Ons wil hulle in ons nuwe reëlings betrek. Ons sakeplan is inklusief. Almal wat buite die mark sit en hul eie ding bedryf, moet deel raak van die stelsel. Dit is die ideaal. Die geheim is om dit tot uitvoering te bring, maar as ’n besigheid is ons oop om amalgamasies te bewerkstellig en verhoudings te bestuur.”
‘Ongelukkig het baie boere nie meer vertroue dat die mark die regte plek is om te wees nie.’