VERGEETVANDIEDODGE
Hulle was darem mooi — die rye groot, blink Amerikaanse bakkies in die parkeerterrein van Amerika se Nampo, die Farm Progress Show. Trokkies, soos hulle in die Vrystaat bekend staan, soos Fords, Chevvies en monsteragtige GMC’s. Die laaste keer dat ons sulke menere in Suid-Afrika gesien het, was toe die klassieke Ford F-reeks uit die 1960’s ons plaaspaaie aangedurf het, voor sanksies ’n einde daaraan gemaak het.
Deesdae het ons nie sanksies nodig om dié mooi goed uit SuidAfrika te hou nie. Die brandstofprys doen dit sommer vir ons, veral nadat dit laas week met ‘n ongekende 14% die hoogte ingeskiet het.
Die inflasionêre uitwerking van die brandstofprys gaan natuurlik meer doen as om net die droom van ’n monsterbakkie te laat verdof. Dit dien ook ’n wankelrige ekonomie, wat op ’n kwartaalgrondslag met 2,2% gekrimp het, nóg ’n gevoelige lyfhou toe.
Paul Makube van FNB beraam vir elke R1 per liter wat die brandstofprys styg, styg die prys van landbouproduksiemiddele met R1 miljard. Dis ’n aardige klomp geld wat die landbou moeilik gaan kan bekostig, veral met landbouskuld wat styg en die Wes-Kaapse droogte. Die droogte het alles van koring tot vrugte só lelik geknou dat die landbou se nasionale bruto binnelandse produk in die eerste kwartaal met ’n yslike 24,4% teenoor die vorige kwartaal gekrimp het. ’n Stygende brandstofprys is wragtig die laaste ding wat die landbou, en die land, nou nodig het.
’n Mens sluk veral moeilik aan die buitensporige brandstofprys omdat dit grootliks aan die staat te wyte is. Heffings en belastings maak nou 36% van die totale prys uit. Die basisprys van brandstof is net 43% van die prys wat die verbruiker by die pomp betaal. In Suid-Afrika se buurlande betaal verbruikers sowat 30% minder as ons vir hul brandstof, en dié lande voer dit van Suid-Afrika af in!
Hierdie bisarre stand van sake is natuurlik te wyte aan ’n reeks Ministers van Finansies wat elke jaar die heffings en belasting op brandstof soos klokslag verhoog het in ’n poging om meer geld uit die verbruiker te wurg om die gate van die Zuma-jare se ongekende verkwisting toe te stop. En soos ons almal weet, as daardie belasting eers gehef is, kom hy maar moeilik weer af. Só het die Suid-Afrikaanse verbruiker en die ekonomie toe nooit werklik die voordeel van ’n lae olieprys geniet nie, net soos ons twee hulpbronoplewings in die mynbedryf misgeloop het oor vrotsige staatsbestuur.
Daar is ook ’n meer verskuilde impak wat nie veel aandag kry nie. Ek’s g’n ekonoom nie, maar jy wonder byvoorbeeld hoe ver die brandstofprysverhoging iets soos die broodprys gaan opstoot en of dit nie moontlik ’n groter impak sal hê as wat ’n aanpassing in die koringinvoertarief sou gehad het nie. Maar wanneer dit kom by die ondersteuning van die produktiewe deel van die ekonomie, skop die staat veels te gereeld vas. Nou moet ons droogtegeteisterde koringboere met ’n marginale koringprys klaarkom.
Waar is die planne om die ekonomie te stimuleer pleks van om dit leeg te suig? Al wat belasting in die meeste gevalle doen, is om die verbuikersvraag en ekonomiese groei te demp, veral wanneer soveel belastinggeld nog tussen hand en mond verdwyn. Ja, die middelklas voel die knyp, maar vir armes, wat reeds die meeste van hul inkomste aan vervoer en kos bestee, is dit rampspoedig.
Daar moet ’n beter manier wees om dinge te doen as Suid-Afrika as ’n land ooit ’n blinknuwe Dodge-bakkie wil bekostig. Dít sal die manne by die Tesourie moet begin besef. — CHRIS BURGESS