JOHNE-SIEKTE, BLOUTONG KAN VEEBEDRYF POOTJIE
JOHNE se siekte steek ál meer kop uit in die hele Suid-Afrika, en boere moet nie ontkennend daaroor wees nie.
“Ent jou skape in en verbeter jou kudde se gesondheidstatus,” het dr. Sewellyn Davey van die direktoraat veeartsenydienste van die Wes-Kaapse departement van landbou op die Wes-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie se jaarvergadering op Moorreesburg gesê.
Veral stoetboere ontken dikwels dat die siekte in hul kuddes aanwesig is.
KOMMER OOR BLOUTONG
Die feit dat geen entstof teen bloutong tans beskikbaar is nie, is ’n groot bekommernis en kan die lammeroes vanjaar benadeel. “Entstof sal dalk eers weer volgende jaar beskikbaar wees.”
Intussen kan boere hul skape in droëlandkampe op hoër dele van die plaas aanhou waar daar minder muggies is. Dit kan ook help as ’n paar beeste saam met die skape loop, want die muggies steek eerder die beeste, wat meer bestand is. Die skape se gesigte kan ook met insekweerders bespuit word.
Sy het gewaarsku as bloutongentstof gebruik word wat reeds verval het, moet die doeltreffendheid daarvan eers getoets word. Dit moet steeds lewende organismes bevat om doeltreffend te wees. “Hou dit ook uit die son.”
Voëlgriep is steeds ’n groot bekommernis en talle seevoëls vrek daaraan.
Sy raai boere aan om hul kuddes te laat toets vir brucellose sodat hulle kan weet wat hul status is. Cryptosporidium en E. coli is verder ernstige probleme wat baie lam- en kalfvrektes veroorsaak.
Min brandsiek kom vanjaar in die provinsie voor.
Davey het gesê baie inligting is oor dié siektes beskikbaar. “Die Kaapse dieregesondheidsforum hou gereeld inligtingsvergaderings. Bly ook op die hoogte van die biosekerheid op jul plase.”
KLIMAAT
Dr. Peter Johnston, ’n klimaatkundige aan die Universiteit van Kaapstad, het gewaarsku oor risiko’s wat met klimaatsverandering gepaardgaan. Dit sluit in ’n verandering in die verspreiding van siektes en plae, meer gereelde tye van hittestres, swakker groei en voorplantingsvermoë en laer vleisproduksie en -gehalte.
Boere sal moet aanpas deur beter skuiling en skadu vir hul diere op te rig. Goeie weiveldbestuur kan ook die uitwerking van klimaatsverandering teenwerk.
‘Veral stoetboere ontken dikwels dat die siekte in hul kuddes aanwesig is.’