Landbouweekblad

Sitrusskad­e kan by R100 m. draai

- — FREDALETTE UYS

KRATTE vol sitrus is vernietig toe ’n pakskuur in die Sondagsriv­iervallei aan die brand gesteek is te midde van onwettige protesoptr­ede oor loonverhog­ings.

Die pluk en pak op die meeste sitrusplas­e in onder meer die distrikte Addo en Kirkwood staan reeds meer as ’n week lank stil. Onwettige stakers intimideer werkers en verhinder hulle om met hul werk voort te gaan.

Lt.genl. Liziwe Ntsinga, kommissari­s van die polisie in die Oos-Kaap, sê ’n groep van ongeveer 200 werkers het op 5 Junie die R336 wat na die Moses Mabhida-gebied naby Kirkwood lei, met klippe en brandende bande versper. Die betogers is toe uitmekaar, waarna die skuur en drie trekkers aan die brand gesteek is.

“Ons beskou hierdie brandstigt­ers as opportunis­tiese misdadiger­s en ons sal sterk teen hulle optree,” sê Ntsinga.

Mnr. Hannes de Waal, besturende direkteur van die Sondagsriv­ier-sitrusmaat­skappy, sê dit lyk of die protesoptr­ede aangevuur word deur mense wat geen belang by die sitrusbedr­yf het nie.

“Die skade vir die week beloop reeds R20 miljoen en dit sal tot R100 miljoen styg. Ons het ’n nawel-oes wat gepluk moet word, en die Clementine-oes moes al gepluk gewees het. Die staking gaan ’n groot impak op die stakers se lewe hê. Niemand gaan wen nie.”

ONWETTIGE WEGBLY-OPTREDE

De Waal sê die protesoptr­ede kan nie as loononderh­andelings beskryf word nie, maar eerder as ’n onwettige wegbly-optrede wat deur Sanco (South African National Civic Organisati­on) gereël is. “Sanco verhinder omtrent alle landbou-ondernemin­gs in die streek om met werk aan te gaan. Die betogers raak gewelddadi­g en intimideer die mense wat wil gaan werk.”

Hy sê dit is nie moontlik om ’n algemene onderhande­ling met die werkers te hê nie, aangesien elke werkgewer met sy eie werknemers moet onderhande­l. Dit sal verkeerd wees om op nasionale vlak ooreenkoms­te aan te gaan. Die protesoptr­ede verhinder egter werknemers om by hul werkplek uit te kom, wat onderhande­linge onmoontlik maak.

Volgens berekening­e het werkers in die vallei die afgelope twee tot drie jaar verhogings van altesaam 25% tot 35% gekry.

Hy sê die maatskappy werk saam met die landbousak­ekamer Agbiz, Agri SA en nasionale vakbonde om die situasie op te los. “Die Food and Allied Workers’ Union (Fawu) is reeds in die vallei, en die provinsial­e regering lig ook die stakers in dat die staking onwettig is.”

Hy sê die meeste stakers is seisoenswe­rkers of mense van buite. Min heeltydse werknemers van die verskillen­de ondernemin­gs neem aan die staking deel.

De Waal sê die landboubed­ryf in die gebied probeer sover moontlik aan die wette van die land voldoen.

Werkers in die vallei het die afgelope twee tot drie jaar verhogings van tot 35% gekry.

 ?? FOTO: WILLIE ROSSOUW ?? Betogers verlede week by die Hermitage-pakhuis naby Addo.
FOTO: WILLIE ROSSOUW Betogers verlede week by die Hermitage-pakhuis naby Addo.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa