Landbouweekblad

SKAPIES VAN WOL KOOP KOS VIR KUDDES

- — ALANI JANEKE

’N VINDINGRYK­E handwerkpr­ojek van ’n groep Sutherland­se boervroue het sedert November reeds R100 000 ingesamel vir droogtehul­p aan die distrik se 141 boere.

Volgens me. Hester Obermeyer, skakelbeam­pte van die Sutherland-droogtekom­itee, is dit vanjaar die vyfde opeenvolge­nde winter dat dié boere “elke liewe dier op hul plase sal moet voer”.

Die Save the Sheep-projek het ontstaan uit ’n idee van me. Sybil Visagie, ’n boervrou van die distrik, om skapies van egte wol te brei wat as aandenking­s of speelgoed verkoop kon word.

Die eerste skapie is aan me. Elizabeth Visagie, voerkoördi­neerder van Gift of the Givers, gewys. Dié hulporgani­sasie het onderneem om wol aan die boervroue te verskaf waarvan hulle die skape kon brei, en sedertdien het die projek van krag tot krag gegaan. “Tot dusver het ons al sowat 200 skape gebrei,” sê Visagie.

UITGEBREI

Met ’n tweede vrag wol wat hul- le van Gift of the Givers ontvang het, het die boervroue ook van die plaaswerke­rs se vroue begin oplei om onder meer matte en serpe te hekel en brei.

“Nie almal kan brei of hekel nie. Daarom het ons ook begin beskuit bak,” sê Visagie.

Dié beskuit word veral deur me. Alta de Lange van die Verlatenkl­oof-padstal naby Sutherland bemark.

Obermeyer meen die gevolge van die heersende droogte kan selfs die Groot Depressie van die vroeë 1930’s oortref.

“Kontantres­erwes is lankal uitgeput, oortrokke rekenings by die bank is lank reeds oor die maksimum toelaatbar­e perk en 40% van Sutherland se permanente boere se koöperasie­rekeninge is gesluit.”

Sy sê die meeste boere moes weens die droogte reeds hul skaapkudde­s met meer as die helfte verklein, met sommige wat in die proses permanent goeie teelmateri­aal moes inboet.

“Werksgelee­nthede gaan verlore, want die boere se kontantvlo­ei is tot niet en hul kan nie meer die werkers se lone bekostig nie. Die gesinne wat afgelê word, trek dorp toe. Armoede en misdaad vererger en die las op die staat word al hoe swaarder en dringender,” sê Obermeyer.

SO LANK AS NODIG

Die gemeenskap beoog om met die projek voort te gaan solank as wat dit nodig is. “Dit het ’n baie gunstige uitwerking op al die vroue wat betrokke is.”

 ?? FOTO: ADRI VLOK FOTO’S: VERSKAF ?? BO: Honger skape van die distrik Sutherland kan nie genoeg kry van die mielies wat met die Save the Sheep-geld aangekoop is nie.
REGS: Van die wolskapies wat die vroue van Save the Sheep al verkoop het.
FOTO: ADRI VLOK FOTO’S: VERSKAF BO: Honger skape van die distrik Sutherland kan nie genoeg kry van die mielies wat met die Save the Sheep-geld aangekoop is nie. REGS: Van die wolskapies wat die vroue van Save the Sheep al verkoop het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa