Landbouweekblad

RUOLIE KAN NOG KUNSMISPRY­SNEIGING LAAT OMSWAAI

- — GERRIT BEZUIDENHO­UT

Kunsmispry­se behoort in die afsienbare toekoms meestal sywaarts te beweeg, sê mnr. Corné Louw, senior ekonoom van Graan Suid-Afrika. “Die enigste faktor wat wel dié neiging kan verander, is die ruolieprys wat weer besig is om te styg. Dit kan moontlik in die toekoms ’n impak hê. Stikstof word uit natuurlike gas vervaardig, wat in die Noordelike Halfrond met ruolie meeding. Die prys van natuurlike gas en ruolie loop hand aan hand. Daarom kan ’n styging in die prys van hierdie kommoditei­t later kunsmispry­se begin beïnvloed.”

Op internasio­nale vlak en in dollarwaar­de het die prys van ammoniak op ’n jaargronds­lag met 28% gedaal, terwyl die prys van ureum met 14% gestyg het. Fosfaat- en KCl-pryse het ook met onderskeid­elik 11,4% en 16,1% toegeneem. “Die styging in ureumpryse is die gevolg daarvan dat ureum meer as ammoniak in kunsmis gebruik word. Die verwagting is egter dat die ureumprys dié van ammoniak later van tyd sal volg en weer daal,” het Louw gesê.

’n Sterker wisselkoer­s op ’n jaargronds­lag het ook gunstiger kunsmispry­se vir plaaslike boere bewerkstel­lig. Suid-Afrika voer meer as 80% van sy kunsmis in, en ’n sterker rand is dus meer voordelig vir kunsmisinv­oer.

“Wanneer ons boonop die internasio­nale prys daarna in rand omgesit het, lyk die prentjie nog rooskleuri­ger, met die ammoniakpr­ys wat met 35% gedaal het, die ureumprys wat met 2,5% gestyg het en DAP se prys wat slegs 0,1% toegeneem het. Plaaslik, waar ons KAN met ammoniak vergelyk het, het KAN met 8,2% gestyg, terwyl die ureumprys met slegs 1% gestyg het en dié van KCl met 2,6%,” volgens Louw.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa