SEB-skok wag op landbou
VOORGESTELDE maatreëls waarmee die staat die toestaan van ’n wye reeks lisensies en permitte as hefbome wil gebruik om voldoening aan teikens vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in die landbou af te dwing, veroorsaak groot ontsteltenis in landboukringe.
Dr. Pieter Prinsloo, wat namens die Landbouprodukteagenteraad (Apac) in die AgriSEB-handvesraad dien en ’n uitgesproke voorstander van transformasie in die sektor is, sê dié voorstelle van die Departement van Handel en Nywerheid, vir toepassing deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, kan ’n groot beperking op landboubedrywighede plaas.
Die voorstelle is volgens hom “onregverdig en diskrimerend” en behoort heeltemal van die tafel gevee te word sodat nuwe voorstelle in ’n behoorlike, raadplegende proses opgestel kan word.
Die voorgestelde riglyne, wat as ’n vertroulike dokument vir kommentaar aan die handvesraad gestuur is, beskryf ’n lang lys sogenoemde hefbome waarmee die departement as’t ware tande aan die nuwe AgriSEBkode wil gee, om seker te maak dit word nagekom.
50% VAN HEFFINGS AAN TRANSFORMASIE
’n Paar voorbeelde van die hefbome is invoer- en uitvoerpermitte, permitte vir markagente, magtiging van grondgebruike en die onderverdeling van landbougrond, registrasiesertifikate vir plantproduksiepersele, sertifisering van diere- en diereproduksiegeriewe, jagpermitte en permitte rakende bedreigde spesies.
By die meeste van die hefbome word voorgestel dat voorkeur verleen word aan kwytgeskelde mikro-ondernemings (jaarlikse omset van minder as R10 miljoen, wat dus die meeste familieboerderye insluit).
Wanneer kwalifiserende mediumgroot ondernemings (omset van R10 miljoen per jaar tot R50 miljoen per jaar) en groot ondernemings (omset groter as R50 miljoen per jaar) daarna oorweeg word, moet voorrang verleen word aan ondernemings op vlak 1 van voldoening, wat onder meer 100% swart eienaarskap behels, en daarna net vlakke 2 tot 4, met laasgenoemde wat 26% swart eienaarskap behels.
In die riglyne word voorgestel dat 50%, pleks van die huidige 20%, van die statutêre heffings wat bedryfsorganisasies hef, aan transformasie bestee moet word.
Verder word voorgestel dat staatsorganisasies wat entstowwe koop, dit by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) as voorkeurverskaffer moet koop. As die OBP dit nie kan lewer nie, moet die verkrygingsproses voorkeur verleen aan private maatskappye wat verkieslik aan vlak 1, en minstens aan vlak 4 van SEB-vereistes voldoen.
KOMMER OOR GEVOLGE
Prinsloo voorsien dat boere wat uitvoer, baie erg deur die voorstelle benadeel kan word.
Hy voorsien verder dat die voorgestelde 50%-vereiste rakende statutêre heffings daartoe kan lei dat bedryforganisasies hul registrasie intrek en eerder vrywillige heffings van boere vra.
Prinsloo sê transformasie in die sektor moet eerder spontaan gebeur as wat dit deur sulke maatreëls afgedwing word. Regsmenings word nou oor die grondwetlikheid van die voorstelle ingewin.
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz en lid van die handvesraad, sê dié sakekamer waarsku al lank sy lede dat SEB-nakoming nodig gaan word om in aanmerking te kom vir onder meer staatstenders, lisensies en permitte.
“Die manier hoe die departement nou die inwerkingstelling voorstel, veral hoe die kwalifiseringskriteria daargestel word, stem ons tot groot kommer, want dit gaan beslis die landbou se ekonomie groot skade berokken.
“Die regsgeldigheid van die departement se voorstelle sal eers in ’n hof getoets moet word,” sê Purchase.
‘LANG PAD LÊ VOOR’
‘Die regsgeldigheid van die departement se voorstelle sal eers in ’n hof getoets moet word.’
Mnr. Melcus Nel, SEB-kenner en ook lid van die handvesraad, sê dié interne dokument van die departement moet wel nog ’n lang pad loop voordat dit amptelik vir kommentaar gepubliseer kan word. Hy wys daarop dat die inhoud van die dokument nie noodwendig nuut is nie en dat landbou-organisasies lankal reeds gewaarsku is dat sulke maatreëls op pad is.
Mnr. Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, beskryf die voorstelle in ’n rubriek op Netwerk24 as “drakoniese strafmaatreëls” wat enorme risiko’s vir die landbou inhou.
Daar moet volgens hom onderskei word tussen voldoening en strafmaatreëls. “Eersgenoemde het ten doel om standaarde te handhaaf en ’n internasionaal mededingende bedryf te vestig.”
Daarteenoor het laasgenoemde ten doel om permitte, lisensies, goedkeuringsertifikate, finansiële steun en toegang tot dienste wat deur die staat gelewer word, te weerhou as ’n landbou-entiteit nié aan die SEB-teikens voldoen nie.
Die maatreëls kan volgens Van der Rheede die landbou se kenmerkende entrepreneursdrif smoor en volhoubaarheid en mededinging in die gedrang bring.