Stort Zambië sy soja in SA?
SAAIBOERE op die Vrystaatse Hoëveld is omgekrap oor die voortgesette invoer van soja-oliekoek, veral nadat een van hulle onlangs tonne ingevoerde sojameel uit Zambië by ’n plaaslike voermaatskappy afgeneem het.
Mnr. James Stephen, ’n boer van Vrede, skat die twee hope het minstens 40 ton elk beloop.
“Hoekom sal ons plaaslike maatskappy sojameel invoer as hy dit in Suid-Afrika goedkoper kan koop?” vra Stephen.
“Naby Vrede is minstens een fabriek wat sojameel maak. Dit is baie nader aan ons as Ndola in Zambië. Wat van die vervoerkoste van minstens R1 000 per ton al die pad van Zambië af? Of werk Zambiese boere eerder op inkomste per hektaar omdat hul opbrengste heelwat hoër as hier in Suid-Afrika is?”
Veevoer-aankopers in Stephen se gebied bevestig dat ingevoerde Zambiese sojameel die afgelope tyd sowat R200/ton goedkoper as die plaaslike produk is. Vroeër was invoer uit Suid-Amerika sowat R300/ton goedkoper, maar dit is nie meer die geval nie.
PRODUKSIE STYG
Zambiese sojaboonproduksie het die afgelope tyd drasties gestyg vanweë groeiende wisselbou, maar Graan SA bevraagteken die heelwat laer prys van Zambiese sojameel teenoor die Suid-Afrikaanse produk.
“Dit maak glad nie ekonomies sin nie. Ons ondersoek dit reeds. Dit lyk asof Zambiese oliekoek goedkoper in Suid-Afrika verkoop word as daar,” sê dr. Dirk Strydom, bestuurder vir graanekonomie en -bemarking by Graan SA.
As enige onregmatighede gevind word, sal die organisasie dienooreenkomstig optree, want só ’n praktyk kom neer op storting.
Strydom sê weens Suid-Afrika se logistieke vervoerprobleme sal gebiede nader aan die kus, soos die Wes- en Oos-Kaap, altyd sojabone invoer. Nogtans is Suid-Afrika se heersende binnelandse vraag 1,42 miljoen ton sojabone, waarvan net oor die 1 miljoen ton plaaslik verwerk en verbruik word.
“Dit beteken daar is nog markruimte vir ’n bykomende 360 000 ton Suid-Afrikaanse sojabone wat plaaslik verwerk kan word, selfs al voer die kusgebiede hul behoefte per skip in.
“Dit is noodsaaklik dat vee- voervervaardigers meer Suid-Afrikaans moet begin koop om die plaaslike vraag na sojabone ’n hupstoot te gee,” sê hy.
MEESTE NÓG
Volgens die jongste amptelike oesskatting het Suid-Afrika se boere vanjaar 1,4 miljoen ton sojabone geoes – die meeste nóg. Die oordragvoorraad vanaf die produksiejaar 2017-’18 was 332 442 ton, en die voorspelde oordrag na die nuwe bemarkingsjaar is 571 635 ton.
Hierdie stygende oordragvoorraad plaas geruime tyd al druk op die Safex-sojaboonprys.
Statistieke wys voorts dat net 890 000 ton van die vorige produksiejaar se totale produksie – byna 1,3 miljoen ton – plaaslik vir oliekoek gepers is, terwyl invoer voortgeduur het.
Suid-Afrika se toegewyde sojaboonpersvermoë is 1,46 miljoen ton, en die aanlegte wat die volvetproduk lewer, kan sowat 160 000 ton produseer.
Verwerkingsaanlegte wat so- jabone én sonneblomme kan pers, bied nog 462 000 ton verwerkingsvermoë.
Die bestaande vermoë vir plaaslike sojaboonverwerking is dus eintlik meer as 2 miljoen ton, sê Strydom.
“Boere het aangedui dat hulle sal plant as verwerkers uitbrei. Dít het wel gebeur, en tans is daar selfs ’n groot oorskot. Verbruikers en verwerkers moet nou die plaaslike oes verwerk en benut – daar ís genoeg vermoëns.”
Verskonings dat plaaslike sojameel nie aan gehaltevereistes voldoen nie, is volgens die inligting wat Graan SA vanaf wetenskaplikes ingewin het, ongeldig. “Ons plaaslike produk se gehalte is binne die raamwerk en soms selfs beter as die ingevoerde produk,” sê hy.
‘Hoekom sal ons plaaslike maatskappy sojameel invoer as hy dit in Suid-Afrika goedkoper kan koop?’