Rooibos: Van huurder tot bekroonde kweker
Rooibos Bpk. se Boer van die Jaar en sy gesin het ’n lang pad in boerdery geloop voor hulle op hul eie plaas kon begin boer, maar nou is mnr. Hannes van der Merwe een van die voorste produsente van dié inheemse tee.
Baie jare het verloop voor mnr. Hannes en me. Anetta van der Merwe van die plaas Rietvlei by Clanwilliam in 1996 in ’n posisie was om grond te begin huur, en later te koop, om hul eie boerderypotjie te krap. Tot in 1999 het Hannes deur die week op plase by Clanwilliam en Eendekuil gewerk en Anetta het sake op hul huurgrond aan die gang gehou. Deesdae boer hulle op 7 000 ha grond wat hulle besit en huur. Hulle plant rooibos op die huurgrond. Altesaam 1 700 ha van die grond tot hul beskikking is geskik vir rooibos, maar vanweë die rotasie wat hulle volg, oes hulle elke jaar rooibos op 1 000 ha tot 1 100 ha.
Hannes is verlede jaar as Rooibosboer van die Jaar aangewys in Rooibos Bpk ., die teeverwerkings-en-verpakking s maatskappy op Clanwilliam, se tweejaarlikse kompetisie vir boere wat tee aan hom lewer.
Mnr. Johan Brand, tegniese bestuurder van Rooibos Bpk., sê wat Hannes se boerdery laat uitstaan, is sy noukeurige produksiebeplanning en die sukses wat hy met die vestiging van nuwe plantasies en die instandhouding van bestaande plantasies het.
Johan sê verder Hannes se sukses kan toegeskryf word aan die doeltreffende en gereelde toepassing van voorgeskrewe verbouings praktyke en die toepassing van navorsingsinligting wat Rooibos Bpk. van tyd tot tyd aan boere deurgee.
Die beoordelaars het ook waardering gehad vir Hannes se bereidwilligheid om plantasies af te staan vir navorsing.
Hannes is een van Rooibos Bpk. se voorste 20 rooibosboere. Sy visie is om elke jaar 400 ton droë rooibostee van die hoogste gehalte wat nie chemiese residu of pirrolisidien-alkaloïede (PA) weens byvoorbeeld bitterbos of
geelfgifbossie bevat nie, te lewer.
Johan sê daar is drie maniere waarop PA-plante rooibos kan besmet:
■ Rooibos word saam met PA-plante geoes.
■ PA-plante se stuifmeel word teen die rooibosblaar se wakslaag gewaai.
■ As PA-plante nie verwyder word tydens die skoffelaksie nie en dit word in die plantasie gelos om te verweer, kan die wateroplosbare alkaloïede in die PA-plante deur rooibosplante se wortels opgeneem word. Vanjaar was Hannes se rooibosoes 25-30% kleiner as verlede jaar, wat ’n goeie jaar was. Toe hy Rietvlei in 2003 gekoop het, was die rooibosteeprys R16/kg. Hy meen die huidige teeprys van sowat R60/kg is “gevaarlik hoog”. “R30-R40/kg is ’n meer realistiese prys.” Hulle verkoop al hul groen tee aan Rooibos Bpk., wat dit verder verwerk. Anetta sê hulle bly lojaal aan die maatskappy, want toe hulle begin boer het, was Rooibos Bpk. die enigste teekoper wat betaal het op die datum wat hy gesê het hy sal. “Dit was baie belangrik vir ons kontantvloei, veral toe ons begin het. Ons het gevoel ons kry eerder ’n paar rand minder, maar ek weet ek kry my geld.”
Hoewel rooibostee die grootste inkomste inbring, het hulle van die begin af besef hulle moet die boerdery diversifiseer. Hulle het eers met aartappels geboer, maar stygende insetkoste het dié vertakking se winsgewendheid geknou. Hulle het in 2015 18 ha van verskillende soorte sitrus, soos Valencias, nawels en sagte sitrus, gevestig – iets wat Hannes sê hy baie vroeër moes gedoen het.
Hy gaan in 2019 en 2020 jaarliks nog 6 ha sitrus plant. Hy het ook begin om 22 ha lusern te vestig. Water kom uit winterwater wat in damme opgegaar word, en sterk boorgate.
SIKLUS VAN SEWE JAAR
Hannes sê hulle volg ’n sewejaarsiklus met
die rooibos, soos hiernaas aangedui.
Hulle koop saad teen R800 tot R1 000 per kg by mense wat dit in hul en ander plantasies rooibos optel. Hulle het ’n plantjiekwekery, maar koop ook plantjies van hul bure naaste aan die land wat hulle gaan beplant.
“Ons glo daaraan om die aankoop van plantjies te versprei. Daar kom gou ’n probleem by plantjies.”
Hulle het verlede jaar gesien die plantjies wat hulle vroeg geplant het, het beter gevaar as dié wat laat geplant is. “Ons moes al in Junie geplant het, maar ’n mens weet nooit wanneer die ryp kom nie,” sê Anetta.
Hulle gebruik mikrobesproeiing in die plantjiekwekery.
Hannes sê behalwe landmeterwurms en
muggies sukkel hulle nie juis met plae in hul rooibosplantasies nie. “Op een van ons huurplase waar dit koud en nat is, is swamme en terugsterwing van bosse ’n probleem, maar tans is die droogte die grootste probleem.”
BOU EIE WERKTUIE
Hannes het saam met sy vier broers op die plaas Groenvlei buite Citrusdal grootgeword, waar hy baie van rooibos, sweis en planne maak geleer het. Hy gee egter eer aan wyle mnr. Oubaas Engelbrecht van die plaas Groenkol vir alles wat hy hom van rooibos en “ysters” geleer het.
Oubaas was bekend vir die gespesialiseerde werktuie wat hy gebou het om rooibosboerdery makliker en doeltreffender te maak. Alles wat hy by Oubaas geleer het, kom nou nuttig te pas. Omdat Hannes so meganies aangelê is, maak hy wat die rooibosvertakking ook al nodig het, of verander hy gebruikte werktuie vir die plaas se behoeftes.
Hy het ’n skeurploeg ontwerp waarmee Neutrogkorrels (gekomposteerde hoendermis) onder die grondoppervlak geplaas kan word voordat rooibosplantjies geplant word. Hy het ook skoffels om grasonkruid tussen die rooibosrye uit te roei en waens waarmee die gesnyde tee van die land na sy vragmotor geneem word sodat dit na Rooibos Bpk. se teebaan op Clanwilliam vervoer kan word.
“Ek het ook staalhokke so groot soos ’n palet gemaak waarin die rooibosgerwe gepak word nadat hulle gesny is. Die hokke is aan die een kant oop om die gerwe in te laai. Die oop kante word teenoor mekaar op die vragmotor gelaai. Die hokke word met ’n vurkhyser (’n omboude Bosvark-laaigraaf) op die vragmotor gelig. Dit bespaar tyd en arbeid.”
Hy gebruik ’n span tydelike werkers om sy rooibos te sny omdat hy probeer om werk te skep in ’n gebied waar werkloosheid hoog is.
Aan die einde van ’n rooibosplantasie se leeftyd kap hulle die bosse stukkend met ’n rolmoer, ’n pyp met lemme aan wat hulle met die trekker sleep.
OPLOSSINGS VIR DIE TOEKOMS
In sy toespraak op die boeredag wat in Okto- ber verlede jaar op Rietvlei gehou is om die prys aan hom te oorhandig en sy boerdery vir ander rooibosboere te wys, het Hannes gesê hul grootste probleme is hoë en stygende brandstofpryse, seisoenswerkers, PA-plante, droogte en die moontlikheid van klimaatsveranderinge n die afstand tussen sy eie plaas en die huurplase.
Moontlike oplossings om dié probleme te oorkom, is beter logistieke beplanning (deur te sorg dat alles op die bakkie is voordat jy iewers gaan werk om sodoende ekstra ritte uit te skakel), doeltreffender bestuur en beter opleiding van werkers om PA-plante uit te roei en insekte en swamme te bekamp.
Verder sal hulle voortgaan om, waar moontlik, saailinge te koop van kwekers wat naby aan hul lande woon en hul grond aan Rooibos Bpk. beskikbaar stel om navorsing te doen. Hulle wil ook aanhou om die boerdery te diversifiseer, veral omdat dit kan help dat ’n groter proporsie van hul werkerskorps heeltydse werkers is en dit probleme met wisselende seisoenswerkers kan verminder.