Manie
MANIE is nie ’n statistikus nie en sy somme is ook soms maar verdag, maar enige leek sal met TLU SA saamstem as hy waarsku dat die skielike debat wat weer oor plaasmoordstatisitek opgevlam het, nie die aandag moet aflei van die werklike probleem van plaasaanvalle nie. Elke moord is een te veel!
Henry Geldenhuys, ondervoorsitter van die organisasie en voorsitter van die veiligheidskomitee, sê almal raak so besig met mekaar oor hoe die statistieke bygehou word, dat die aandag afdwaal van die misdaad self en die bestryding daarvan. TLU SA se brief aan die Minister van Polisie waarin versoek word dat ’n geleentheid geskep word vir kruiskontrolering van statistieke sowel as gesprek oor die daarstelling van ’n spesialis-eenheid om plaasmoorde te ondersoek, is nog onbeantwoord.
TLU SA stel dit op rekord en Manie weet uit jare se dophou van dié organisasie se syfers dat aangemelde gevalle slegs tot die databasis bygevoeg word nadat dit met ’n saaknommer en naam bevestig is. Daar word ook gewerk volgens die polisie se amptelike definisie van ’n plaasaanval. Omdat die polisie sy eie infrastruktuur van meer as 1 400 polisiekantore en amptelike bronne tot sy beskikking het, behoort sy syfers vir aanvalle gewoonlik hoër te wees. TLU SA moet op mediaverslae en sy lede se inligting staatmaak. Dit bly egter vir Manie vreemd verdag dat die polisie se syfers vir moorde (wat eintlik makliker bygehou kan word) laer is.
’n Vinnige paar voorbeelde: Die polisie se moordsyfer vir 2016-’17 is 66 en TLU SA se syfer is 78, vir 2017-’18 is die verskil nóg groter – 47 teenoor 70 en net vir die paar dae vanaf 1 April tot 18 April vanjaar praat die polisie van een en TLU SA van drie. Manie kry hond se gedagte.
POLISIE SE EIE SYFERS VERSKIL
Maar kom ons kyk na ander syfers ook. Iemand wat onder die skuilnaam The Ratcatcher vir Politicsweb skryf, het ’n berig op Netwerk24, “Die plaasmoordkoers is die laagste in 20 jaar”, verdag gevind en ondersoek ingestel.
Eerstens verskil die polisie se eie onlangse syfers van sy eie vroeëre syfers. Op ’n onlangse vraag in die Parlement sê die polisie daar was 49 moorde in 446 plaasaanvalle in die boekjaar 2015-’16, 66 in 478 aanvalle in 2016-’17 en 47 in 561 aanvalle in 2017-’18. Die 47 moorde is kwansuis die laagste op rekord.
Volgens die polisie se syfers vroeër het die moorde van 58 (nie 49) in 519 (nie 446) aanvalle in 2015-’16 toegeneem tot 74 moorde (nie 66 nie) in 638 (nie 478) aanvalle in 2016-’17. Daardie verskille word nie verduidelik nie.
SYFERS VIR 2017-’18 OOK VERDAG
Die provinsiale syfers, wat die totaal van 47 moorde vir 2017-’18 vorm, klop ook nie.
Volgens die polisie was daar byvoorbeeld net een plaasmoord in die Wes-Kaap, een in die Noord-
Kaap en drie in Mpumalanga. Daar was die moorde op mnre. Joubert Conradie van Klapmuts en Martin Louw van Tulbagh in die Wes-Kaap in dié boekjaar. In die Noord-Kaap is mnre. Danie (Kat) Fourie naby Kuruman, Piet Els naby Kimberley en Athol Harvey by Barkly-Wes vermoor. In Mpumalanga was daar moorde op mnre. Piet van Es van Barberton, Dries Schoeman van Waterval-Boven, Anton Smuts van Kinross, Christo Redelinghuys van Hoedspruit, Gunther Prigge van Piet Retief, Dries Steenkamp van Lydenburg, Hans Meyer van die distrik Charl Cilliers en me. Hantie van der Vyfer van Chrissiesmeer.
Waar die polisie dus praat van vyf moorde in drie provinsies toon ’n vinnige soektog in die media dat dit minstens 13 moet wees – iets wat reeds die totaal op minstens 55 moorde te staan bring en nie 47 nie.
Hoe kan die polisie met sulke blatante onjuisthede wegkom? Dit is nie net boere wat hier uitgewis word nie, maar blykbaar die syfers ook!
DIE MINISTER PRAAT SAAM
Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het in die Nasionale Raad vir die Provinsies te velde getrek teen organisasies soos AfriForum wat volgens hom internasionaal waninligting versprei oor ’n volksmoord op wit mense wat voortspruit uit die gesprek oor grond. Hy sê daar is geen gronde vir sulke aansprake nie en dit moet blootgelê word.
Hy wens Agri SA geluk met ’n verklaring wat sê plaasmoorde is op ’n laagtepunt in 20 jaar.
Dit is in die lig van al die verskillende uitsprake wat Manie wil beklemtoon hoe belangrik noukeurige en betroubare statistieke is. Elkeen gebruik die statistieke om sy eie doelwitte te bevorder. As die syfers nie vertrou kan word nie, beteken die aansprake ook niks.
WATVANDIEARMES?
Titelaktes is nie ’n geskikte vorm van eiendomsreg vir arm, werklose Suid-Afrikaners nie, meen prof. Ben Cousins van Plaas, die instituut vir armoede-, grond- en landelike studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy het op Hortgro se simposium op Somerset-Wes gesê hy wil hê mense moet wegdoen met die mite dat titelaktes ’n soort platform tot vooruitgang is omdat mense daarteen kan leen en dan klein ondernemings begin.
“Dit werk nie so nie. As jy ’n huis het, waarom sal jy die risiko loop om dit te verloor met ’n klein onderneming wat in 75% van gevalle vou? Dit maak nie sin nie, daarom doen mense dit nie.”
Cousins is nie bang om omstrede te wees nie. Die meeste boere en kenners in die georganiseerde landbou sal waarskynlik van hom verskil. Maar sy argument bewys net weer hoe eendimensioneel die openbare debat oor grondhervorming die afgelope jare daar uitsien. ’n Mens kan maar net hoop dat die ANC en die komitee wat tans ’n voorgestelde grondwetwysiging oorweeg, álle standpunte oorweeg voor hulle ’n besluit neem.
VERPLIGTE SKENKING
Die dominee doen kollekte en klop by ’n boer aan, maar die boer sê: “Dominee, ek gee vir die weduwees en die weeskinders, vir die diens van barmhartigheid, vir die boufonds en nog ’n klomp ander goed, maar ek gee nie vir die sending nie.”
“Hoe dan so, broer?” vra die dominee.
“Dominee, ek gee nie vir mense wat skole afbrand, winkels plunder en onskuldige mense doodmaak nie. Jammer.”
Onverrigtersake is die predikant toe daar weg.
’n Paar dae later skakel die boer hom. “Dominee, ek het weer oor die saak gedink, ek bedoel nou oor die kollekte vir die sending en het besluit om tog maar ’n bydrae te lewer. Ek gee een os en vier skape.”
“Wat ’n pragtige gebaar van welwillendheid, broer,” sê die predikant dankbaar. “Wanneer kan ons dit kom haal?”
“Hulle het dit laas nag al kom haal, dominee”, sê die boer. “Dominee moet dit net deur die boeke sit.”