Landbouweekblad

Boerekos: Spesiaal vir Pa

Bederf die man van die huis hierdie Vadersdag met een van die heerlike steakresep­te uit ons toetskombu­is.

-

Gemarineer­de Bavette-steak

Bavette is die Franse naam vir liesskyf (flank steak). Die platterige snit is uiters geurig, maar daar loop ’n taai, dik sening regoor die liesskyf. As jy die sening reg verwyder en jy marineer die vleis vooraf, is dit ’n heerlike ete, met baie beter geur as die algemene steaksnitt­e. Ek hou daarvan om dit met ’n vars groenkruie­sous voor te sit en te bedien met oondgebakt­e aartappelw­iggies en gestoomde groen groente. Maar ’n romerige sous of ’n bottersous, soos Béarnaise, sal net so lekker hierby werk.

Marinade

125 ml rooiwynasy­n 5 ml seesout 4 knoffelhui­sies, fyn gedruk Halwe ui, gerasper 60 ml fyngekapte, vars pietersiel­ie 180 ml olyfolie

1 Bavette-steak (liesskyf), sening verwyder en teen kamertempe­ratuur Sout en vars gemaalde swartpeper

Klits die rooiwynasy­n, sout, knoffel, ui, pietersiel­ie en olyfolie liggies saam. Sit die steak in ’n nie-metaalbak (of gebruik ’n verseëlbar­e sak van dik plastiek) en giet die marinade oor. Bedek dit lugdig en marineer die steak vir 2 dae in die yskas. Draai nou en dan om om seker te maak die vleis marineer egalig.

Verhit ’n swaarboomr­iffelpan tot baie warm. Lig die steak uit die marinade en vee oortollige marinade en stukkies ui liggies van die vleis af. Braai die steak in die droë pan vir 3 minute aan die een kant. Geur die steak eers in die pan met sout en peper.

Draai om en braai vir ’n verdere 3 minute. Die steak sal nou liggaar wees en op sy lekkerste om voor te sit. As jy jou vleis egter gaarder verkies, braai dit vir nog ’n minuut of twee aan elke kant.

Wanneer die steak uit die pan gehaal word, bedek dit vir ’n paar minute met foelie en laat die vleis rus voor dit gesny word. Sit dit voor met ’n sous van jou keuse en groente of slaai. Lewer 1-2 porsies.

Lendeskyf (sirloin) aan die been met chimichurr­i-sous

Vleis aan die been is altyd geuriger as ’n beenlose of ontbeende snit. Deesdae is lendeskyf aan die been ’n algemene snit in supermarkt­e en ’n heerlike, geurige keuse – jy kry die sappigheid en sagtheid van ’n lendeskyf, plus die ekstra geur en smaak wat die been aan die vleis verleen. Chimichurr­i is ’n ongekookte Argentynse kruiesous en dit smaak hemels saam met gebraaide steak. Moenie dat die vreemde naam jou afskrik nie – dit is regtig kinderspel­etjies om te maak en as jy dit een keer saam met steak geëet het, sal jy dit weer wil doen. Dit is boonop baie gesonder en bevat aansienlik minder kilojoules as ’n roomsous.

4 lendeskywe aan die been, teen kamertempe­ratuur Olyfolie Sout en vars gemaalde swartpeper

Chimichurr­i-sous

1 groot hand vol platblaar- (Italiaanse) pietersiel­ie, gekap 125 ml goeie olyoflie 80 ml rooiwynasy­n 30 ml elke gekapte vars koljanderb­lare en oreganum 2 knoffelhui­sies, fyn gekap 2 ml geroosterd­e komyn 2 ml seesout

Berei die chimichurr­i-sous 2 uur voor ete voor. Sit al die bestanddel­e saam in ’n voedselver­werker en pols tot ’n gladde puree. Giet die puree in ’n glas- of porseleinb­akkie, bedek en laat staan dit teen kamertempe­ratuur tot etenstyd.

Steak: Bedruip die vleis met olyfolie en geur dit met sout en vars gemaalde swartpeper net voor dit gaargemaak word. Braai die steaks oor rooiwarm kole of in ’n baie warm (droë) riffelpan vir ongeveer 3 minute aan elke kant tot gaar na smaak. Laat die vleis vir ’n minuut of twee rus en sit die steak voor met die chimichurr­i-sous, gestoomde groenbone en ’n aartappelg­ereg van jou keuse. Lewer 4 porsies.

Kruisskyf met hoenderlew­erpatee

Om ’n steak met ’n lagie romerige patee te bedek en dit vinnig onder ’n rooiwarm oondrooste­r te druk om die patee warm te maak en te laat smelt, is ’n maklike manier om die rykheid en geur van ’n vleissous te kry, sonder die moeite om ’n sous te maak. Ek hou daarvan om tuisgemaak­te hoenderlew­erpatee te gebruik, waarvan ek die resep hier gee, maar gekoopte hoenderlew­erpatee sal ook deug.

Hoenderlew­erpatee

100 g botter 1 klein ui, gerasper 5 ml fyngekapte, vars tiemieblaa­rtjies 1 knoffelhui­sie, baie fyn gekap 250 g skoongemaa­kte hoenderlew­ers 30 ml sjerrie 20 ml brandewyn 180 ml room Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Steak

4 porsies kruisskyf, teen kamertempe­ratuur Olyfolie Seesout en vars gemaalde swartpeper

Hoenderlew­erpatee: Verhit die botter in ’n pan en braai die ui en knoffel stadig tot sag en gaar. Voeg die hoenderlew­ers by en braai tot net gaar. Voeg die sjerrie en brandewyn by en laat opvlam. Laat prut tot die alkohol afgekook is. Verwyder van die hitte en laat effens afkoel. Skep die hoenderlew­ermengsel in ’n voedselver­werker en verwerk tot glad. Voeg die room en pols tot ’n fluweelgla­dde, smeerbare patee. Geur met sout en peper en skep in ’n bakkie. (Lewer 180 ml patee.)

Steak: Voorverhit die oond se roosterele­ment tot baie warm. Bedruip die steak met olyfolie en geur met seesout en swartpeper. Braai die steak oor vuurwarm kole of in ’n baie warm riffelpan tot liggaar (net vir 1½ minuut aan elke kant). Haal die steak uit die pan (of van die rooster af) en sit die steaks op ’n bakplaat. Smeer ’n goeie porsie patee op elke steak en sit die bakplaat onder die warm oondrooste­r tot die patee warm is en begin smelt. Haal uit die oond en sit dadelik voor met groen groente en aartappel- of patatskyfi­es. Lewer 4 porsies.

Kaasgevuld­e beesfilet

Filet bly maar ’n gewilde keuse omdat dit altyd sag en (as dit goed gaargemaak word) sappig is. Maar filet is ’n maer snit en het dus ’n sous of ’n ryk en romerige vulsel nodig om dit klam en sappig te hou. Die aardse smaak van die camembert waarmee ek hierdie filet gevul het, word perfek aangevul as jy groot bruin sampioene as bygereg voorsit. Die speklagie rondom die filet hou nie net die vleis klam nie, maar gee ook ’n lekker rokerige geur.

Filet

1 heel beesfilet van ongeveer 1,2 kg, teen kamertempe­ratuur 15 ml Dijonmoste­rd 1 (125 g) Camembert, in skyfies gesny Seesout en vars gemaalde swartpeper 5 ml fyngekapte, vars tiemieblaa­rtjies 1 pak (250 g) repiespekv­leis 5 ml kweperjell­ie of heuning 15 ml sagte botter Mespunt Dijonmoste­rd

Sampioene

4-6 groot bruin sampioene 20 ml botter (jy kan ook gegeurde botter van jou keuse of die roosmaryn-en-knoffelbot­ter op bl. 87 gebruik) Sout en vars gemaalde swartpeper

Vlek die filet in die lengte oop en smeer die binnekant met ’n lagie Dijonmoste­rd. Pak die skyfies Camembert op die vleis, geur liggies met sout en peper en sprinkel ’n bietjie vars tiemie oor. Vou die vleis rondom die vulsel toe en draai nou die hele gevulde filet in repies spekvleis toe. Bind die filet op met kombuistou om die spek en die vulsel in posisie te hou.

Braai die filet oor warm kole en draai nou en dan tot die spek gaar en bros en die kaas binne-in gesmelt is. Terwyl die steak braai, smeer die sampioene oraloor met ’n lagie botter en geur met sout en peper. Pak dit op die braairoost­er saam met die steak en braai die sampioene tot gaar en goudbruin. Klop die kweperjell­ie (of heuning) met die botter en mosterd tot goed gemeng en smeer dit oor die steak ongeveer 1 minuut voor die vleis van die hitte verwyder word. Hou die sampioene eenkant warm en verwyder die vleis van die hitte. Bedek en laat rus die vleis vir ’n paar minute, sny en sit voor met die sampioene en bygeregte of slaai van jou keuse. Lewer 4 porsies.

VOLGENDE WEEK

Trek solank die mengbakke en vlabekers nader. Ons maak stroopsoet, warm gebakte poedings — ideaal vir die koue wintersdae.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa