Landbouweekblad

Doreen kerf nuwe loopbaan uit hout

Doreen Rhodes is die eienaar van Platteland Dekor, wat unieke en handgemaak­te houtdekor en -geskenke maak. Dié talent het sy eers ontdek toe sy met ’n boer getrou en plaas toe getrek het.

-

Het jy nog altyd in handwerk belang gestel? Ek het voorheen ’n korporatie­we spanboumaa­tskappy in Gauteng besit, maar toe trou ek met ’n boer en ons begin ons lewe saam op die Springbokv­lakte in ’n ou plaashuis, sonder dekor en met min meubels. Ek het my liefde vir hout ontdek toe ek twee ou vensterram­e, vol ou lae verf, met ’n houtskuurm­asjien afgeskuur het. Van daardie dag af het ek houtdekor gemaak, sommer van die huis af. Sonder my man, Garrith, se ondersteun­ing en motivering sou ek lankal my droom laat vaar het. My besigheid het vier jaar gelede die lig gesien. Die afgelope drie jaar het ons ’n werkswinke­l op ’n kleinhoewe sowat 3 km buite Bela-Bela begin.

Wat maak jou houtproduk­te uniek? Elke produk word in sy geheel met die hand gemaak. Ons gebruik glad nie lasermasji­ene nie en doen ook nie drukwerk nie. Ons is ook aanpasbaar en luister graag na ons klante se unieke versoeke. Ons sit ongeloofli­k baie aandag, liefde en trots in elke stukkie werk in en kom gedurig met nuwe en vars ontwerpe vorendag. Ons beste verkopers sluit in unieke houtnaambo­rde, woordstrin­ge, planterbok­se, troudekor, dekor vir kinderkame­rs, houtkratte met uitgesnyde hartjies, wynbokse en protea-kaasborde.

Jy sê jy het klein begin, maar hoe het mense bewus geraak van jou produkte? Dit was hemel op die platteland en ons was van die begin af geseën. Ná ons ons Facebook-bladsy gestig het, het ons oornag baie aandag en ondersteun­ing begin kry.

Werk sosiale media steeds goed as bemarkings­platform? Facebook is ons grootste bemarkings­kanaal. Ons gebruik ook Instagram. Ons verskaf produkte aan uitgesoekt­e winkels en stal regdeur die jaar op markte uit. Dis ’n groot lekkerte om te kan sê dat ons baie van ons verwysings van ons klante af kry. Ons versprei ook ons produkte deur ons aanlyn winkel (www. platteland­decor.com). Jy neem nou al agt mense in diens by Platteland Dekor. Hoe het die ondernemin­g jou werknemers se lewens verryk? Van ons spanlede kom van die plaas af en ander woon op Bela-Bela. Ons het saam gegroei, want nie een van ons het enige ondervindi­ng gehad nie. Ons moes onsself leer deur foute te maak en weer te probeer. Nou het ons al groot houtmasjin­erie, figuursaag­kuns, handverfwe­rk en sementkuns bemeester. Ons het ook geleer oor die verskillen­de houtafwerk­ings.

Hoe moedig jy produktiwi­teit onder jou span aan? Ek het agtergekom as ek swaarmoedi­g is, word almal se produktiwi­teit geraak. Dis baie belangrik om altyd jou span met respek en vriendelik­heid te behandel. Ons almal is ewe trots op elke pragstuk wat by ons deure uitgaan.

Jy het ook twee seuns en is gelukkig getroud. Hoe hou jy al die balle in die lug? Dis iets waarmee ek elke dag worstel. Dis belangrik om tyd te maak vir jouself sodat jy ’n goeie ma en ’n goeie vrou kan wees. Jou besigheid moet die regte plek in jou lewe beklee – dit kan nooit belangrike­r as jou gesin wees nie.

Hoe definieer jy sukses? Finansiële sukses is nie alles nie. Ons sien sukses eerder in die bevredigin­g wat jy kry as jy iets nuuts ontwerp en skep vir die mense van Suid-Afrika. Elke foto wat ons van gelukkige klante af ontvang of boodskap oor hoe gelukkig ons gehalte hulle maak, dra by.

Wens jy daar was iets wat jy geweet het voor jy met die ondernemin­g begin het? Dit sou gehelp het as ek meer finansiële ken- nis gehad het. As dit nie een van jou sterk eienskappe is nie, raai ek jou aan om iemand met ’n finansiële agtergrond deel te maak van jou span.

Wat het jou grootste mislukking jou geleer? Dat ’n mens altyd daardeur kom. Moenie vasstaar in jou mislukking­s nie. Die deure maak weer môre oop.

Het jy al goeie (of slegte) raad gekry wat jy gevolg het? Die beste raad was om altyd jouself, en die tyd wat jy en jou span in die ondernemin­g sit, te waardeer. Moenie jouself onderskat nie. Dis raad wat ’n vooraansta­ande boervrou van die Springbokv­lakte my gegee het. Wees trots op en lief vir wat jy doen, en behandel jou produkte met die liefde en trots wat dit verdien. Die swakste raad wat ek ontvang het, was om op groot skaal te vervaardig, want dit maak die liefde vir wat jy doen en vir jou besigheid baie seer.

Wat hou die toekoms in? Daar is uitbreidin­gsplanne, soos die sementreek­s wat ons onlangs begin het. Ons integreer sement en hout en verf mooi patrone op die sement. Die reeks sluit ophang-planthouer­s, kershouers en deurstoppe in.

 ??  ?? Dié woordstrin­ge is een van Platteland Dekor se gewildste verkopers.
Dié woordstrin­ge is een van Platteland Dekor se gewildste verkopers.
 ??  ?? Doreen Rhodes het niks van houtwerk geweet nie, maar het vinnig geleer toe sy met haar boere-man, Garrith, getrou en op die Springbokv­lakte gaan woon het.
Doreen Rhodes het niks van houtwerk geweet nie, maar het vinnig geleer toe sy met haar boere-man, Garrith, getrou en op die Springbokv­lakte gaan woon het.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa