Jou storie: Telefoonkuiers
Toe ek teen skemertyd vir ’n vriendin koebaai sê en my grys draadtelefoon ingedagte op sy mik terugglip, kom daar nostalgiese prente in my kop van die telefoonkuiers wat ek as kind in ons plaashuis se koel gang betrag het.
Ek dink aan die dae op die plaas en my ma wat op die telefoon kuier met haar buurvrou, haar skoonsuster, haar bak-vriendin, ’n naaldwerk-suster of die verstaan-vroue in haar lewe . . . Dit was nou namiddae, as die sinkdak kraak en ek en my broer uitgelate buite langs die windpomp in die sinkdam swem en sy die draadloos kon afsit nadat Esmé Euverard Só máák mens gekloek het en die Geheim van Nantes nóg ’n episode se loop geloop het.
Vier langes. Dit was ons plaas-lui wat my ma laat weet het om haar swart Dolores-naaldwerkskêr op die geel linoleumkombuistafel met die silwer pootjies neer te sit. Sy is halfpad gesny aan die geruite pienk seersucker-lap vir my nuwe rok met die hoë lyfie en wit magrietjies, soos op die patroon-prent.
Maar sy’s gang-af, sy móét antwoord, want aunt Hendriena het ’n geselslus aan die ander kant. Ek weet sommer aunt Hendriena staan met haar groen pennetjie-krullers in die hare, wat sorgvuldig deur haar kombuisregterhand, Liesbet, met bierlappies ingedraai is.
My ma kry gemoedelik-moeg haar sit op my oupa se roomkleur geverfde bentwood-stoel wat onder die stewige swart bakaliet-telefoon staangemaak is. Die telefoon is lank terug deur Telkom se besoekende tegnikus met die hoëwiel-bakkie teen die blink olieverf-muur gemonteer, want elke ding het sy plek en van wireless, mobile of remote was daar nog nie sprake nie.
EDELE WERK
My ma en Buurvrou deel stories en stukke oor tamatieplantjies wat belowend opkom, westewinde wat plaasvensterbanke weer van voor af onder die stof waai of die handtertjies en Hertzoggies wat nog moet klaar vir Sondag se wyksbiduur. Ander kere kon my ma en haar skoonsuster, Anna Maans, ’n ronde uur bespiegel en bieg oor hul penkop-seuns se skoolbroeke – some wat vir die soveelste kere moet uit, lang bene van twaalfjariges wat veels te vinnig nóg langer word. Of vlootblou skooltruie wat halfpad is en dye lots van die koöperasie se wol wat nou skielik verskil.
So het hulle die koue seisoene en die warm somers op ongesteelde plaaslyne deurgepraat. Uitgetrap. Voos gewerk.
Daar was stories oor brood wat treurig rys, Burda-patrone wat afgerol gaan word, beskuit wat uitdroog in houtstowe, skoolblikke wat moet volgemaak word of beesslag-speserye wat in vysels wag.
Inkopiesentrums, Dolce-hoëhakskoene, Gucci-handskoene of pienk vroue-oggende met pronk en praal was nooit op die agenda nie. Nee, op die agenda was namiddag ná namiddag skaapwors, boerbeskuit, suurdeegbrood, korrelkonfyt, vyerolle, springbokbiltong, koljander, breiwol, hekelpatrone en katoenlap vir kinderrokkies.
Die werkwoorde was nie spog, blink of nuus aandra nie, maar die taal liewer kerf, knie, karring, skil, natlei, opsny of uitstryk. Plaasvroue . . . met hul unieke, edel styl van vrouwees, die noue band met ’n vriendin om die swoeg en wroeg van ’n dag deur te trap, uit te rafel, oor te speel. Want, so hoor hulle dan élke middag by tannie Esmé van Springbokradio: Só máák mens!
En só, onverklaarbaar, het ek ook al plekplek my ma se styl begin aanneem om teen waterstaanson ’n vriendin te bel op my karteldraad-telefoon en te vertel: Só maak mens, so maak ék of hoe maak jy?
Hannli Nel-Smith woon op Stellenbosch, waar sy haar man se tandartspraktyk bestuur en die administrasie behartig. Sy het op die plaas Erfdeel, tussen Loeriesfontein, Kakamas, Brandvlei en Pofadder, grootgeword. Hannli is lief vir boeke, skryf en bespeel die mandolien en kitaar.