Trekkerstories
Duisende jare lank het die mens die dier ingespan om hom te help voortbestaan, veral om kos te verbou. Eers later het stoom- en binnebrandenjins trekdiere se las ligter kom maak.
Reeds vóór Christus is karre en primitiewe ploeë deur osse getrek. In die Middeleeue het die perd sy opwagting op plase gemaak, maar baie boere het steeds die rustige, sterk os bó die meer temperamentele en duur perd verkies. Die os was goedkoper om te onderhou en aan die einde van sy dienstyd was die vleis en vel ook ’n bate vir die eienaar.
Later het stoomenjins, veral van 1885 tot 1914, energie begin verskaf vir kosproduksie. Hoewel stoom op ’n redelike groot skaal as stilstaande en bewegende kragbron in die landbou gebruik is, het dit baie beperkings gehad.
Stoomkrag was sowat tien keer doeltreffender as om met perde te ploeg, maar die stoomtrekker was heeltemal te duur vir die gewone boer (basies ’n kleinboer in vandag se terme).
Op Amerika se groot plase het veral J.I. Case se stoomtrekkers geloop. Vir Brittanje se swaar grond het die ploeg-enjin die lig gesien. Trekkrag is verskaf deur ’n kabel om ’n silinder, horisontaal tussen die vooren agterwiele van ’n besonder swaar stoomtrekker gemonteer. Die ploeg is dan heen en weer getrek tussen twee trekkers, of met een trekker en ’n anker en katrol aan die teenoorgestelde kant van die land.
BINNEBRANDENJINS
’n Volgende ontwikkeling was toe binnebrandenjins op wiele gemonteer is en trekkers (byna soos ons dit vandag ken) ploeë en dies meer kon trek. Dit was sowat 120 jaar gelede, en die begin van die moderne trekker.
Die eerste ekonomies suksesvolle trekker was die Ivel Agricultural Motor, wat die uitvinder Dan Albone in 1901 in Brittanje bemark het. Die eerste trekkers is ook nie trekkers genoem nie, maar van Albone se agricultural
motor is 500 gemaak, waarvan baie uitgevoer is.
In die voorafgaande tien jaar is daar in Brittanje en Amerika met “trekkers” met binnebrandenjins geëksperimenteer om trekdiere en stoomaandrywing te vervang. Die produkte wat uiteindelik op die mark was, was egter nie veel meer as eksperimente nie.
VOORKEURKEUSE
Die moderne mens is verstom as vandag se gesofistikeerde trekkers met ’n eeu gelede s’n vergelyk word. Vir hul tyd was die ontwerpers en vervaardigers egter in dieselfde klas as vandag se voorlopers.
Van 1920 tot 1950, die tydperk toe trekkers as die voorste keuse vir trekkrag in die landbou gevestig is, het die aantal trekkers in Amerika van 2 miljoen tot 18 miljoen toegeneem. Perde en muile, daarenteen, se getalle het van 25 miljoen tot 8 miljoen afgeneem. In dieselfde tydperk het bewerkte landbougrond van 344 miljoen hektaar tot 350 miljoen hektaar toegeneem.
Sedert 1923 was rubberbande vir trekkers beskikbaar, hoewel die rubberskaarste tydens die Tweede Wêreldoorlog vervaardigers gedwing het om weer staalwiele te gebruik.
RUSPERBANDE EN 4x4
Nog twee belangrike mylpale by die ontwikkeling van trekkers was rusperbande en vierwielaandrywing, want totdat die krag doeltreffend na die grond oorgedra word (vastrap), is die krag nutteloos. Die eerste suksesvolle vierwielaangedrewe trekker was die Massey-Harris General Purpose, wat van 1930 tot 1936 in Amerika vervaardig is.
Aan die begin van die 1900’s het die Britte met rusperbande begin eksperimenteer vir militêre gebruik. Dié bande is met groot sukses in die Eerste Wêreldoorlog gebruik.
Ná die oorlog het Holt en Best, twee Amerikaanse vervaardigers, saamgesmelt nadat hulle soos kat en hond baklei het. Die Caterpillar-maatskappy is in 1925 gestig en het op groot skaal kruiptrekkers begin maak.
Volgende week: Lees oor John Deere, die man wie se naam vandag sinoniem is met trekkers. In sy lewe het hy nooit eens ’n trekker gesien nie!