‘Goddelike ingryping’ nodig in NK, Karoo
BOERE in groot dele van die Noord-Kaap en die Sentraal-Karoo sal spesiale genade (en baie hulp) moet ontvang om deur die droë winter te kom.
Met normale reënval sal dit boonop jare duur voordat die ekonomie, ekologie en veekuddes van die gebiede herstel, sê mnre. Willem Symington, boer van Williston en dagbestuurslid van Agri Noord-Kaap, en Déan Gouws, bestuurder van Agri Sentraal-Karoo.
Symington sê dit is die sesde jaar van ondergemiddelde reënval in die grootste deel van die Noord-Kaapse distrik Namakwa.
“Ná ses jaar is boere se spaargeld op en kan hulle nie meer geld leen nie. Die meeste boere het ’n kernkudde, maar moet gereeld van die diere laat slag om ander verpligtinge na te kom.”
Boere in die Noord-Kaapse distrikte wat op 13 Maart tot rampgebied verklaar is, het in Maart, April en Mei droogtehulp gekry volgens die grootte van hul kudde, tot ’n maksimum van 30 grootvee-eenhede.
Symington sê die R127 miljoen wat aan die Noord-Kaap toegewys is, het baie gehelp. “Dit het groot verligting gebring. Vir drie maande was jou voerrekening darem meer onder beheer, maar die geld het nie die droogte beëindig nie.”
GROOT STRES
Die reëntyd in die somerreëngebied in die Noord-Kaap is Februarie tot einde April. Symington sê daar sal ’n Goddelike ingryping moet wees voor dit beter gaan.
“Al word ons geseën met baie reën buite die reëntyd, sal ons steeds moet wag tot die dae langer en warmer is voordat iets in die veld groei.
“Die herstelfase sal baie lank wees. Ons weiveld is onder groot druk. Ek het vir mnr. Norman Shushu, Noord-Kaapse minister van landbou, gesê jy koop nie diere by ’n fabriek in China nie. Hulle moet hulself maak. Die fases van kudde-opbou en weidingsherstel sal moet saamloop.”
Hy meen omdat boere so min diere het, sal die veld ná die droogte ’n goeie herstelkans kry, maar hulle sal stelselmatig weer na gewone kuddegetalle beweeg. Die kudde-opbouproses kan vertraag word omdat boere weens finansiële druk verplig sal wees om van hul diere te verkoop.
Die Sentraal-Karoo is by uitstek ’n somerreëngebied. Gouws sê die gras groei en kan deur die winter hou as hulle van Oktober tot Februarie genoeg reën kry. Reën daarna is altyd welkom, maar dit raak dan koeler en plante groei stadiger. “Ons wêreld is so droog, dit sal vreeslik baie moet reën om ’n verskil te maak.”
RAMPVERKLARING
Die nasionale rampverklaring het op 13 Junie verstryk. Dit beteken Agri Noord-Kaap moet nou weer deur die gewone regeringskanale om ramphulp aansoek doen, sê mnr. Henning Myburgh, bestuurder van dié landbou-unie.
Die aansoek sal regstreeks aan die Departement van Finansies gerig word omdat die nood nou hoog is en daar nie genoeg tyd is om te wag vir ’n verdere rampverklaring nie. Hulle het nietemin aansoek gedoen om weer die gebiede tot droogterampgebiede te verklaar.
Namakwaland, ’n winterreëngebied, is die afgelope drie jaar bitter droog. Mnr. John Genis van die plaas Brakkies by Kamieskroon, wat van 1966 af reënvalsyfers opteken, sê verlede jaar was die droogste jaar. Dit het net 82 mm in die winter gereën, skaars ’n derde van die plaas se langtermyn-gemiddelde. Die vorige droogste jaar was 1969, toe hulle 104 mm gekry het. Hoewel die winterreën vanjaar aan die einde van April, net voor Paasnaweek, met ’n skaflike 26 mm begin het, het hulle in Mei net 12 mm gekry en 11 mm op 1 Junie. –