BEDRYF GEDOEM SONDER BETER SAMEWERKING
DIE pluimveebedryf en die Regering moet ’n baie beter verhouding bou, anders kan die bedryf nie vooruitgaan nie.
Só het mnr. Marthinus Stander, herkose voorsitter van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) se braaihoenderorganisasie, op die SAPV se jaarvergadering in Kempton Park gesê.
Die bedryf is deel van ’n regeringstaakspan wat verlede jaar op die been gebring is toe sowat 1 500 werkers hul werk verloor het. Tog is die vlak van gesprekke en samewerking nog nie goed genoeg nie.
“Ons het nog nie die formule gevind om waarlik met die Regering gesprek te voer en saam te werk nie. Een ding wat ons moet doen om vorentoe te beweeg, anders as om net te baklei, is om regtig met mekaar te begin praat, want ons skep nie werkgeleenthede nie en ons bevorder nie voedselseker- heid, voedselveiligheid en landelike ontwikkeling nie.”
GEEN OPLOSSINGS
Stander meen groter vertroue tussen die partye is nodig. Hy het in sy voorsittersverslag oor die boekjaar 2017-’18 gesê voëlgriep het die tweede helfte van die jaar oorheers. “Ons het onsself in die hande van die staat bevind. Daar is steeds geen oplossings rakende vergoeding (vir voëls wat van kant gemaak moes word) en inenting (teen die siekte) nie.”
Die bedryf het maatreëls nodig waardeur hy ’n mate van beheer oor sy eie lot kan hê. “Ons en die beleidmakers moet mekaar vind,” sê Stander.
Voëlgriep in die Europese Unie (EU) het invoer van daar af verlede jaar gestuit. ’n Voorlopige beskermende tarief van 13,9% op ingevoerde Europese hoenderstukke aan die been het egter reeds op 3 Julie verlede jaar verval. “Ons wag op ’n betekenisvolle beskermingsmaatreël.”
Die goedkeuring daarvan berus by die Suider-Afrikaanse Doeaneunie en na bewering is een van die lidlande daarteen gekant.
WEERLOOS
Oor transformasie in die sektor het Stander gesê die droogte en voëlgriep het opnuut gewys hoe weerloos klein ondernemings is.
“Totdat ons ’n ondersteunende omgewing het, sal ons net hier en daar sukses sien.”
Groot maatskappye verbeter hul doeltreffendhede deur tegnologie. Dit maak egter nie saak hóé doeltreffend ’n maatskappy is nie, “’n mens kan nooit teen storting meeding nie omdat produkte teen minder as produksiekoste verkoop word”.