Kenners sê: Besluit só watter grond gevat moet word
Van Suid-Afrika se voorste regskenners het onlangs moontlike oplossings vir die grondkwessie aan die Parlement se grondwet hersiening s komitee voorgelê. JOYLENE VAN WYK berig.
WYSIG die Onteieningswet (Wet 63 van 1975) sodat plase wat in onbruik is, teen geen of minimale vergoeding onteien kan word. Maak dit ook moontlik vir plaaswerkers om meer aandele in landboubesighede te kry.
Dít is van die oplossings wat oudregter Albie Sachs aan die grondwetlike hersieningkomitee voorgehou het. Dit was toe die komitee onlangs met verskeie kenners beraadslag het of dit nodig is om artikel 25 van die Grondwet (die sogenoemde eiendomsklousule) gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding vir grondhervorming mee te bring.
Sachs meen ’n hersiene Onteieningswet kan die kwessie hanteer waar mense ’n aantal plase het, waarvan sommige glad nie gebruik word nie. Kriteria kan ingesluit word wat omskryf wanneer geen of minimale vergoeding betaal kan word.
Hy sê ook wanneer plaaswerkers meer aandele kry, moet dit nie beskou word as die ontneming van eiendom nie, maar bemagtiging kragtens artikel 25 van die Grondwet, met die siening dat dit ’n manier is om herverdeling te hanteer. Die wetgewing moet duidelik uiteensit in watter omstandighede dit die Regering sal toelaat om onteiening sonder vergoeding toe te pas.
STEDELIKE GROND
Sachs sê ’n gewysigde Onteieningswet kan ook behuisingsbehoeftes in stedelike gebiede takel, soos dat mense nie grond vir die doeleindes van spekulasie kan hou terwyl daar ’n groot behuisingsnood bestaan nie. Hy gee toe dit sal ’n “duik” in die be- ginsels van ’n vrye mark beteken, maar indien dit nie op ’n ordelike, wetgewende en parlementêre manier hanteer word nie, sal mense dit met “hul voete hanteer, en die resultate sal baie meer katastrofies wees”.
Hy redeneer ook dat deur dié temas in die Onteieningswet in te sluit, sal dit makliker wees om in die Grondwethof klarigheid te kry oor enige probleme wat daaruit voortspruit.
Sachs sê ofskoon ’n mens nie aan die Handves van Menseregte wil torring nie, word dit wel geregverdig deur die dwingende behoefte om die kwessie van grondhervorming op nuwe maniere te takel.
Hy sê kreatiewe maniere om grondhervorming te bevorder, saam met parlementêre voorstelle en beheer, asook die feit dat die hof oor die grondwetlikheid daarvan sal besluit, kan dalk die mense van Suid-Afrika eerder nader aan mekaar bring as om hulle
verder van mekaar te verdryf.
WIE MOET BAAT VIND?
Een van die dwingendste vrae oor die grondwetlike hersiening is aan wie die grond gegee moet word wanneer dit onteien word.
Dr. Ruth Hall, senior navorser by die instituut vir armoede-, grond- en landboustudies (Plaas) aan die Universiteit van WesKaapland, sê aangesien grondtoelaes nie meer aan ’n toets vir behoeftebepaling voldoen oor wie die grond moet kry nie, is dit onbekend hoe die staat begunstigdes bepaal. Die toestaan van grond is ondeursigtig.
“Dit is ’n stelsel wat voorberei is vir korrupsie en begunstiging. Dit geld ook die een vir herkapitalisering. Daar is ook nie ’n moniteringen evalueringstelsel nie.” Die primêre vraag wat gevra moet word, is vir wie die grondhervorming nou eintlik is.
Hall het gesê sy wonder of daar teruggekeer moet word na ’n stelsel waar bepaal word wie die grootste behoefte aan grond het en aan daardie mense voorrang te gee. Sy het in dié opsig verwys na die Regering se behuisingsprojek, waar rykes nie vir behuising in aanmerking kom nie.
“Moet dieselfde nie met grond gedoen word nie?” Sy sê dié debat is nog nooit gevoer nie.
Die beleid vir die herverdeling van grond spruit uit artikel 25 (5) van die Grondwet, wat aandui dat toegang tot grond op ’n gelyke grondslag moet wees. Daar bestaan egter geen wetgewing om gelyke toegang te omskryf nie.
Tot op hede het die Regering baie beweegruimte gehad oor hoe hy die herverdeling van grond doen. In die era van oudpres. Nelson Mandela het huishoudings onder die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram klein toelaes ontvang, gegrond op ’n behoeftebepaling of jy arm genoeg was om dit te kan kry.
In die tyd van oudpres. Thabo Mbeki het die klem uitgebrei en opkomende kommersiële boere kon ook toelaes kry. Die afgelope tien jaar het die staat herverdeling gedoen deur grond aan te koop en dit uit te verhuur.
Volgens Hall kan uit die afgelope tien jaar gesien word daar is groot tekortkominge in die staat se grondadministrasiestelsel. Toe sy navorsing in die Oos-Kaap gedoen het, kon sy nie één plaas kry wat die staat aan begunstigdes toegestaan het en wat huurkontrakte kon verskaf nie.
VERBLYFREG
Dr. Aninka Claassens, senior navorser in die departement openbare reg aan die Universiteit van Kaapstad, dring daarop aan dat grond nie aan die staat gegee moet word nie. Dit is omdat niemand die staat tot verantwoording kan roep nie en die staat nie huurkontrakte uitreik soos hy moet nie.
Sy wys daarop dat miljoene mense se verblyfonsekerheid daaruit spruit dat hulle woon op grond wat hulle nie besit nie. In baie gevalle is die staat in naam die eienaar, soos in die voormalige tuislandgebiede en aan die buitewyke van stede.
Huurarbeiders en plaaswerkers wat vir geslagte op plase woon waar die grond in die besit van wit boere is, is in dieselfde posisie. Dit geld ook mense wat woon op grond waarvan die eienaars afwesig is.
Claassens meen in sulke gevalle, waar mense onsekerheid van verblyfreg ervaar net omdat hulle swart is, moet iets van die formele eienaar ontneem word om aan daardie mense regte tot hul grond te gee.
“Óf die titelakte moet oorgedra word van die eienaar na diegene met onsekere regte óf deel van die eienaar se reg (op die grond) moet aan die houer van die informele verblyfreg oorgedra word.”
Veral staatsgrond kan maklik aan hierdie mense oorgedra word sonder dat vergoeding ter sprake kom.
Claassens redeneer dat plase en stedelike grond hulle goed leen tot onteiening sonder vergoeding, of minstens min vergoeding, aangesien die Grondwet voorsiening maak vir gelyke toegang tot grond, selfs aan mense wat nie formele eienaarskap het nie.
VERGOEDING
Claassens sê grondeienaars wat vir geslagte lank nie hul grond gebruik het nie, kan nie aanspraak maak op markverwante vergoeding nie. Sy meen ook daar moet gevalle wees waar meer as die markwaarde vir grond betaal moet word. Dit is soos in die geval waar die staat grond van arm mynbougemeenskappe onteien, aangesien die grond geen waarde het as mynboubedrywigheide eers daarop plaasgevind het nie.
* Die grondwethersieningskomitee moet op 27 September aan die Nasionale Vergadering terugvoering gee oor die wenslikheid daarvan om artikel 25 en ander klousules van die Grondwet te hersien ten einde onteiening sonder vergoeding in die openbare belang moontlik te maak.
Die primêre vraag wat gevra moet word, is vir wie die grondhervorming nou eintlik is.