Onteiening: ‘Wees deel van proses’
PLANNE van die Regering oor die onteiening van grond sonder vergoeding sal waarskynlik nie uiteindelik op géén vergoeding uitloop nie. “Die volgende ses maande is egter van kritieke belang – dit is ons tyd om bydraes te lewer en daar gaan waarskynlik baie mededinging tussen politieke partye wees omdat elkeen verskillende aspirasies het.”
So sê mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsintelligensie van die landbousakekamer Agbiz, wat op die Wes-Kaapse RPO-jaarvergadering oor dié landbou-brandpunt gepraat het.
Artikel 25 van die Grondwet sê daar is geen “reg” op eiendom nie. “Dit sê bloot ’n beperking op jou eiendomsreg moet volgens die wet plaasvind en mag nie arbitrêr wees nie. Dit gee wél ingrypende magte aan die staat en wesenlike afwykings van die markwaarde van eiendom is moontlik.”
Die ANC maak dit duidelik dat voedselsekerheid nooit in die gedrang moet kom of skade aan die ekonomie aangerig moet word
weens grondonteiening nie.
Boshoff sê dit is gerusstellend dat enige onteiening volgens die ANC steeds binne die konteks van die wet moet plaasvind en dat grondgrype nie geduld sal word nie. Hoewel in Februarie besluit is om artikel 25 te hersien, is die besluit nie gemaak dat die Grondwet wel gewysig sal word nie, maar dat eers net daarna “gekyk” word. Die hersieningskomitee sal tot 30 Augustus daaraan aandag skenk.
WAT IS REGVERDIG?
Tydens die ANC se grondberaad in Mei is besluit geen wysiging aan artikel 25 is dalk nodig nie. Die ANC wil egter die onteieningswetsontwerp wysig om onteiening
sonder vergoeding moontlik te maak vir die volgende grondkategorieë: ■ Onbenutte grond, veral grond wat deur staatsentiteite besit word; ■ Verlate geboue; ■ Grond wat slegs as ’n belegging of vir spekulasiedoeleindes gekoop is; ■ Grond wat deur huurarbeiders bewerk word en waar die eienaar afwesig is. Daar is besluit dat die voorsiening vir regverdige en billike vergoeding in die artikel getoets moet word. “Dus gaan die staat grond begin onteien om te toets wat ‘regverdige en billike kompensasie’ is. Die staat wil onteiening sonder vergoeding gebruik
‘Wees deel van die proses, want die staat soek nog na goeie idees en werkbare planne.’
as een van die instrumente om grondhervorming te verhaas. Dit is nie die enigste instrument nie,” het Boshoff gesê. “Grondhervorming mag selfs na die Presidensie toe verskuif.”
“Dit is waarskynlik ’n konstruktiewe stap om nie die Grondwet te wysig nie, maar ’n moeilike spel wag op die landbou.”
Grond sal steeds onteien kan word, maar dit is onwaarskynlik dat dit sonder enige vergoeding sal plaasvind, hoewel die vergoeding onder markwaarde kan wees, het Boshoff gewaarsku.
“Niks is egter tans ’n uitgemaakte saak nie – die Grondwet mag dalk nie gewysig word nie, maar onteiening sonder vergoeding kan steeds moontlik wees. Al word die Grondwet gewysig om onteiening sonder vergoeding in sekere omstandighede toe te laat, is daar steeds ander regte wat teen grondgrype keer, soos: ■ Niemand kan sonder ’n hofbevel uit sy/haar woning gesit word nie; ■ Alle staatsoptrede moet ’n billike proses volg; ■ Niemand se eiendom mag arbitrêr weggeneem word nie – dit moet volgens die wet plaasvind; ■ As daar ’n geskil is, moet die hof dit besleg. Die huidige debat gaan net oor maniere hoe grond bekom kan word. Boshoff waarsku ook dat
’n goeie SEB-telkaart en ’n transformasieskema geen waarborg is dat iemand vrygestel sal word nie, “maar dit kan in jou guns tel”.
Die moontlike impak van onteiening op werkskepping en transformasie behoort in ag geneem te word.
“Die voordeel van Agri-SEB of jou eie inisiatief is dat jy jou eie vennote kan kies. Sodoende kan transaksies teen markwaarde gedoen word. Soek dus jou vennote – baie banke soek sulke projekte om te finansier.”
“Wees deel van die proses, want die staat soek nog na goeie idees en werkbare planne. As jy nie by die tafel sit nie, is jy dalk self op die spyskaart,” sê Boshoff.
—