Pakket droëbone brei uit
Met ’n nuweling in sy stal maak Pannar sy stem selfs dikker in die mark vir wit inmaakbone.
Pannar spog met ’n nuwe toppresteerder in die bone-mark. PAN 9141 is ’n klein, wit inmaakboon. Dit is in ’n beperkte vrystellingsfase, terwyl inmaaktoetse op fabriekskaal gedoen word. Dit is geselekteer vir ’n eenvormiger boontjie-grootte om die inmaakgraad te verbeter.
Sy agronomiese eienskappe is soortgelyk aan die vertroude PAN 123, maar met beter weerstand teen antraknose.
Dit bring die maatskappy se totale droëboonpakket op vyf te staan. Die res is die rooi gespikkelde bone: PAN 148, PAN 9292 en PAN 9216.
Van hulle is PAN 148 steeds die gewildste. Dis die kultivar van eerste keuse in Mpumalanga en die Oos-Vrystaat – waar dit jaarliks in die meerjarige nasionale streekproewe uitblink – maar is ook goed vir al die ander produksiestreke aangepas.
Dit reageer goed op bespuitings met swamdoders in omgewings met hoë humiditeit.
PAN 9292 is veral goed vir Noordwes aangepas, met goeie algemene siekteweerstand en opbrengsstabiliteit, wat dit vir kleinboere en groot kommersiële boere ’n goeie keuse maak.
Dit is soortgelyk aan PAN 116, maar met belangrike verbeterings. Sy kleiner, meer geronde bone bied beskerming teen meganiese beskadiging.
PAN 9216, met sy kenmerkende rooi blomme, het ’n onbepaalde groeiwyse. Dié kultivar hou belofte in vir direkte stroop met ’n selfaangedrewe stroper.
Dit het goeie staanvermoë en lewer groot bone met goeie kookeienskappe, wat dit die huisvrou se gunsteling maak. Dit het algemene siekteweerstand teen onder meer roes, hoekige blaarvlek, wortelvrot en boontjiemosaïekvirus.
‘GOEIE BESIGHEID OM IN TE WEES’
Droëbone is steeds een van die skerpste pyle in Pannar se koker, sê mnr. Antony Jarvie, droëboontjieteler.
Droëbone is ’n redelik uitsonderlike bedryf. Net twee teelprogramme is verantwoordelik vir die meeste kultivars wat in Suid-Afrika beskikbaar gestel word. Daarby is daar betreklik min boere wat aan die mark lewer, min handelaars wat plaaslike boonpryse beïnvloed, en China wat die gehalte en prys van ingevoerde bone bepaal.
“Nogtans is dit ’n goeie besigheid om in te wees. Droëboonboere is spesialiste en Pannar is aan die voorpunt om hulle te help meganiseer. Selfs as meganisasie die risiko van die insameling van die oes verminder, gaan die mark min verander,” sê Antony.
Die ontwikkeling van kultivars en die verbetering van verbouingspraktyke vorder egter te stadig, meen hy.
Pannar het self reeds groot verbeterings behaal. Wanneer seisoenale skommelings uit die data verwyder word, het sy teelprogram vir gespikkelde bone by Delmas in Mpumalanga oor tien seisoene vir ’n gemiddelde opbrengsverhoging van 130 kg per hektaar per jaar gesorg.
“Hoewel die mark se aanvaarding van nuwe kultivars om verskeie redes traag is, kan ek jou verseker ons meganisme wat die nuwe kultivars by jou plaashek lewer, is nog blakend gesond,” sê Antony.
‘Droëbone is steeds een van die skerpste pyle in Pannar se koker . . .’