Liefde vir beeste gedy ná dekades
Bonsmaras is wetenskaplik geteel en streng geselekteer vir ekonomiese produksie in ekstensiewe beesweidingsgebiede in Suid-Afrika. Die Bonsmara is uniek en die streng toepassing van standaarde deur bevoegde en toegewyde personeel het baie bygedra tot die
Bonsmaras is onlosmaaklik deel van die Ralfe-egpaar van KwaZulu-Natal se daaglikse bestaan. Mnr. Derek en me. Tutu Ralfe boer met Bonsmarastoetbeeste en ’n kommersiële kudde BonsmaraHerefordkruisings. Hul plaas, Up George, is in die omgewing van Elandslaagte.
Derek en Tutu is al boere vir so lank hulle kan onthou.
Derek het op sy familieplaas in die omgewing van Estcourt in KwaZulu-Natal grootgeword waar met kommersiële Bonsmara-tipe beeste geboer is. Later het hulle verhuis en ’n gemengde boerdery met beeste en suikerriet gehad.
Tutu het ook op ’n familieplaas grootgeword waar met beeste geboer is. Dié plaas was in die omgewing van Highflats/ Dumisa in KwaZulu-Natal en daar was ’n Herefordstoetery en kommersiële vee.
“Ons het albei van ’n vroeë ouderdom af ’n liefde vir beeste gekweek. Ons het 30 jaar gelede met die Bonsmarastoetery begin toe Derek en sy pa, Lawrence, die plaas Up George gekoop het,” sê Tutu.
Die oogmerk met Bonsmaraseleksie vir die Ralfes is ’n strewe na versnelde reproduksie met spesifieke verwysing na die tussenkalfperiode (TKP) en die vers se ouderdom met haar eerste kalf. In albei gevalle presteer die Bonsmara beter as die gemiddelde nasionale geregistreerde kudde in Suid-Afrika.
“Die Bonsmara is die getalrykste Suid-Afrikaanse beesras met meer as 100 000 geregistreerde diere. Die Bonsmara is ’n gewilde keuse by stoet- en kommersiële telers danksy die ras se ekonomiese eienskappe, en die bekostigbaarheid daarvan,” sê Derek.
GROOTTE VAN KUDDE
In die Ralfes se kuddes kalf 600 vroulike diere per jaar – 450 stoetkoeie en 150 kommersiële koeie. Die stoetkudde word op ’n beheerbare getal van 450 teelkoeie bestuur. Derek en Tutu is deurgaans self by alle aspekte van die boerdery betrokke. Die stoetery is geskoei op ’n ingebore liefde vir beeste en daarom werk hulle graag self met die diere en behartig self die bestuur.
“Ons delegeer nie sommer enige praktiese en fisieke take rakende die inenting- en gesondheidsprogram nie,” sê Tutu.
“Ons het 400 tot 420 stoetkalwers, na gelang van die seisoen. Sowat 150 van hierdie speenkalwerbulletjies ondergaan van Junie tot vroeg in Oktober ’n fase D-toets op raaigras, hooi en ’n energielek.
“Die jong bulle wat hierdie toets en die druk van visuele seleksie slaag, word dan na natuurlike veldtoestande in ’n harde, heuwelagtige terrein verskuif om hard te word voordat hulle voorberei word vir die produksieveiling 16 maande later.”
Nadat die jong vervangingsverse gekies is, gaan hulle veld toe totdat hulle twee jaar oud is. Daarna sluit hulle weer by die hoofkudde aan.
VOERKRALE
Die Bonsmara het al oor en oor bewys hy is ’n gewilde ras in die voerkraalmark.
“Die ras se voerkraalprestasie is ekonomies en die diere se temperament is ideaal vir die voerkraal. Gevolglik is hul vleis sag en van goeie gehalte. Karkasse word goed van die veld tot die voerkraal gegradeer met ’n
hoë uitslagpersentasie, goeie vetneerlegging, marmering en ’n uitstekende spier-tot-beenverhouding,” sê Tutu.
BELANGRIKE EIENSKAPPE
Vrugbaarheid en melkproduksie is van die belangrikste ekonomiese eienskappe waarvoor die Ralfes selekteer.
“Die omgewing het ’n groot invloed op reproduksie en melkproduksie. Dit is daarom belangrik om vroulike diere te selekteer wat goed by die toestande op die plaas aangepas het. Die koeie word op geen manier gepamperlang nie en word op die veld gehou met ’n lek wat vir die seisoen (winter, somer en herfs) geskik is,” sê Derek.
“Sodoende word slegs goed aangepaste koeie wat goeie kalwers lewer en sonder aanvullende voeding kan reproduseer, vir die kudde geselekteer.”
Die speenkalf se gewig is belangrik in die Ralfes se teelbeleid om bulle vir die speenkalfmark te lewer.
“Voeruitgawes is die grootste deel van ’n voerkraal se koste. Met die oog op winsgewendheid is die voeromsettingsverhouding (VOV) dus ’n belangrike eienskap vir voerkrale. Dit word ook al hoe belangriker weens die toenemende koste van voer. Naas reproduksie het die VOV die grootste invloed op wins. Dit moet veral in ag geneem word wanneer bulle vir die mark gelewer word.”
VELDVOER
Up George se beeste loop almal op natuurlike weiveld. Weens die heuwelagtige omgewing, wat 1 400 m tot 1 600 m bo seevlak is, moet Up George se beeste nie net op natuurlike grassoorte op die pieke van die heuwels wei nie, naamlik ’n suurder, korter Hoëveldse gras, maar ook in ’n warmer klimaat in die valleie met akasiabome en lang, klam grasveld.
“Sowat 50 ha van die raaigrasweivelde word jaarliks onder gravitasiebesproeiing beplant. Dit word gebruik om die speenkalwers vir die supergraad-mark in Desember af te rond. Die teelkudde loop die hele jaar op natuurlike weiveld. Hulle kry lekke, maar geen aanvullende voeding nie. In die winter wei hulle op gespaarde weiding wat die kudde tot in die somermaande dra,” sê Tutu.
KIES REGTE BUL
“Ons is baie versigtig om die korrekte Bonsmarabul te kies en te koop om in ons teelprogram vir ‘bloed van buite’ te gebruik,” sê Derek. “Ons is wel bewus van die nadele van inteling in ’n geslote kudde en probeer om die intelingsyfer onder 6% te hou.”
Die korrekte keuse sal die gehalte van die koeikudde binne een geslag in die regte rigting laat beweeg.
Die teel van swaar speenkalwers en vrugbare verse wat in die kudde sal bly, asook topgehaltebulle vir hul kudde en om op hul jaarlikse produksieveilings te verkoop, is dus belangrik.
Die Ralfes lê klem op die genetiese eienskappe en teling van die potensiële kuddevaar en sy bloedlyn. Die bul se bouvorm is waarskynlik die belangrikste faktor.
“Ons hou van goeie kloue, goeie testikels, ’n manlike kop, ’n mediumraam, breedte oor die skouers en die agterkwart, en nie ’n fyn beenstruktuur of oorgespierdheid nie.”
Hulle gebruik die beraamde teelwaarde-indekse as hulpmiddel om ’n besluit te neem en bly weg van ’n teelwaarde wat té hoog of té laag is.
Afgesien van die kuddevaar gebruik die Ralfes gewoonlik sowat agt tot tien van hul eie tweejarige bulle tydens hul stoetery se dektyd.
“Tydens die seleksietydperk wei ons bulle in die winter op weiding op ’n steil, harde bergagtige terrein sonder bykomende voeding, afgesien van ’n goeie lek. Die bul wat goed aanpas by dié moeilike toestande, asook die bul met die beste bouvorm en die minste ongunstige eienskappe is die een wat ons kies om te hou.”
VEILINGS
Die Ralfes bied elke jaar in Julie ’n produksieveiling op hul plaas aan – vanjaar is die veiling op 6 Julie. Hulle bied 70 driejarige bulle en 70 koeie aan.
“Met die Bonsmaras wil ons eenvormige bulle van die hoogste gehalte aan die stoet- en kommersiële mark bied. Ons streef na toppresteerders wat visueel goed is. Die bulle moet gehard wees en in kopers se behoeftes voorsien,” sê Tutu.
Derek meen ’n beesboer weet gewoonlik wat hy in sy kudde wil verbeter – melk, swaarder speenkalwers of vrugbaarheid. Hulle wil dus bulle lewer met die hoogste vlak van dié spesifieke eienskappe.
“Visuele voorkoms is vir ons die belangrikste. Dit word gevolg deur gesonde teelwaardes, met melk, vrugbaarheid en swaar speengewigte.
“Eenvormigheid is belangrik in die strewe na topklasdiere. Wanneer al die goeie eienskappe in die kudde gehou word, sal eenvormigheid wel op ’n sekere tyd in die kudde gesien word. Jy sal meer selfvertroue hê oor hoe die bulle wat jy jaarliks lewer, aan die einde van die ketting sal teel wanneer hulle op ’n veiling verkoop word.
“Ons kopers se tevredenheid is uiters belangrik en ons wil trots wees op elke dier wat ons verkoop,” sê Tutu.