Vernuf of verneuk
Oom Willem sê Arrie Maarman se van is so toepaslik omdat hy dun is van lyf — nie weens gebrek aan kos nie, maar finansieel verrinneweer en geestelik verwoes deur sy drie telge, Klein Arrie, Jans en Joggem.
Dit was nie vir oom Willem vreemd om te verneem dat oom Arrie in die hospitaal opgeneem is nie. Dis eers toe oom Arrie met terminale kanker gediagnoseer is dat hy geweet het nou gaan die nerwe waai.
Só begin ’n nuwe proses: Een maal per week gaan oom Arrie vir behandeling hospitaal toe en tussendeur boer hy fluks. Mettertyd verswak oom Arrie se gesondheid en hy is meer in die hospitaal as op die plaas.
Toe begin oom Arrie van die hospitaalbed af boer. Besoektyd moet sy vrou verslag doen: Die skape is getel, daar is nie mastitis onder die melkkoeie nie en die trekker is herstel. Terug by die huis dra sy oom Arrie se opdragte aan die werkers oor.
Ná die eerste maand het die drie knape steeds nie besoek by die hospitaal gebring nie. Klein Arrie is naweke glo te besig met die hoër sake van die kerk en in die week kan hy nie verlof kry nie. Jans is net so bedrywig om die glibberige trappies van ’n hiërargiese leer te bestyg. Joggie het sy heil by sy skoonfamilie gevind, waar sy aandele steeds styg as toekomstige eienaar van ’n groot plaas.
Ná nog ’n week of twee vra oom Arrie die tante om vir hom Landbouweekblad te koop. Elke uitgawe raak die ligpunt in oom Arrie se hospitaal-lewe.
Onverwags sê oom Arrie een oggend vir die tante hy wil ernstig met haar praat. Sy moet hulle belegginkie losmaak en vir haar ’n dorpshuis koop. Dis nie veilig om alleen op Donkerpoort of Elandsvlei of Loskoppie te woon nie.
Sy moet ook nie bekommerd wees nie; as hy sterf, sal sy goed versorg wees.
Ná nog ’n week is oom Arrie baie swak. Met ’n fluisterstem vra hy na die jongste uitgawe van Landbouweekblad.
Die middag op pad terug plaas toe bel die tante haar seuns en sê hulle moet kom groet. Hul pa is op sy laaste.
Die volgende oggend wag sy vir hulle in die hospitaalportaal. Ná ’n lang ruk kry sy ’n oproep – hulle gaan laat wees, elkeen is eers na sy erfgrond toe om met die werkers te reël vir die oorname en om die toegangshekke se slotte met hul eie slotte te vervang.
Toe hulle uiteindelik by die hospitaal opdaag, onthou die tante sy moet nog Landbouweekblad koop. Sy draf gou by die hospitaalkafeetjie in om een te kry.
TESTAMENT EN PAPIERWERK
Langs oom Arrie se bed staan die drie seuns plegtig in afwagting dat hul pa moet praat. Ná ’n lang stilte vra Klein Arrie of oom Arrie se testament en papierwerk agtermekaar is.
Oom Arrie maak sy oë op skrefies oop, kyk aandagtig na elkeen en knik instemmend. Toe vra hy dat die tante Landbouweekblad moet oopslaan by “Eiendomme”. Sy oë, net half-oop, gly oor die kolomme. Skielik plooi daar ’n glimlag om sy mond en hy blaas sy laaste asem uit.
Die weduwee en haar seuns gaan sit in die hospitaalrestaurant om hul toekomsplanne te bespreek. Landbouweekblad, nog oopgevou, lê langs die tante.
Dis toe dat Klein Arrie sê hy wonder darem waarom sy pa tot op die laaste oomblik nog so erg was oor die eiendomme. Hy sê sy ma moet bietjie aangee, hy wil lees.
En toe bars al die nate, want onder die hofie “Eiendomme Verkoop” lees Klein Arrie: Die plaas Donkerhoek is verkoop aan so en so, die verkoper is A. Maarman. Die plaas Elandsfontein is verkoop aan so en so, die verkoper is A. Maarman. Die plaas Loskoppie is verkoop aan so en so, die verkoper is A. Maarman.
Oom Willem sê dis toe hy hierdie nuus kry dat hy vinnig ’n berekening gemaak het van wanneer laas hy by sy ou vader ’n draai gemaak het. Hy weet mos sy pa lees gereeld Landbouweekblad. Sas Kloppers is ’n uitgewer, skrywer en navorser.
Skielik plooi daar ’n glimlag om sy mond en hy blaas sy laaste asem uit.