’N DERDE VAN WYNBOERE BOER TEEN ’N VERLIES
WYNDRUIFBOERE verdien tans ’n skamele 1%-opbrengs op hul belegging en Suid-Afrika kan teen 2022 ’n tekort aan 120 miljoen liter wyn hê, sê die wynbedryfsliggaam Vinpro.
“Ná jare se finansiële druk het wyndruifboere ’n inkomste-aanpassing van nagenoeg 30% nodig om ’n winsgewender en volhoubaarder omgewing te verseker,” sê mnr. Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro. Hy sê die lae vlakke van opbrengs op belegging regverdig nie tans die vestiging van nuwe wingerde nie.
Verder moes talle boere weens die kwaai droogte die afgelope seisoen in uiters moeilike toestande boer.
Vinpro het vroeër die week aangekondig dat vanjaar se wynoes na raming op 1 220 920 ton te staan kan kom, wat 15% kleiner as verlede jaar se oes sal wees. Volgens die wynbedryfsliggaam beteken dit vanjaar sal sowat 170 miljoen liter minder wyn gemaak word.
SOWAT 25% MINDER WYNBOERE AS 10 JAAR GELEDE
Meer as ’n derde van wyndruifboere boer teen ’n verlies en die bedryf het sowat 25% minder boere as ’n dekade gelede. Volgens die bedryf se strategiese raamwerk moet wyndruifboere ’n opbrengs gelykstaande aan die verbruikersprysindeks plus 5% verdien om volhoubaar te wees. Die ontwikkeling van ander landbouvertakkings bied wél die geleentheid vir dié vlak van groei in opbrengs, sê Basson.
Suid-Afrika se oppervlakte onder wingerd het die afgelope tien jaar met 9% gekrimp, veral omdat talle boere die bedryf verlaat en wingerde met winsgewender gewasse vervang.
Die Buro vir Ekonomiese Navorsing en die Buro vir Voedselen Landboubeleid voorspel SuidAfrika se wingerdstand kan teen 2022 sowat 10% kleiner wees, met die oppervlakte onder wyndruiwe op ’n geraamde 85 000 ha. Produksie kan dan op 1,3 miljoen ton staan en die bedryf sal ’n tekort van 120 miljoen liter wyn hê.
HOËR WYNPRYSE ÁL UITWEG
“Die enigste manier om te verseker dat ons volhoubaar bly voorsien, is om hoër pryse vir ons wyne te vra,” sê Basson. “Dit sal verseker dat wyndruifboere genoeg geld het om nuwe wingerde aan te plant of ou wingerde te vervang en produksie te verhoog. Dit sal hulle in staat stel om die reeds wesenlike belegging in sosiaalekonomiese aspekte, soos die verdere opleiding en opheffing van werkers, te bespoedig.”
Basson beskryf Suid-Afrikaanse wyndruifboere as vernuwend. Hy sê hulle het die afgelope paar jaar reeds alternatiewe praktyke begin toepas om by veranderende weerpatrone aan te pas. Die boere begin ook belê in nuwe kultivars, terwyl die finansiële lewensvatbaarheid van wingerdblokke voortdurend oorweeg word.
“Dis bemoedigend dat ons op kort termyn reeds bewyse sien van bogemiddelde prysaanpassings in sekere kategorieë in die SuidAfrikaanse kleinhandel. Verdere aanpassings word ook op medi- umtermyn verwag,” sê Basson.
’n Wêreldwye wyntekort het ook ’n gunstige uitwerking op volume- én waardegroei in die belangrikste uitvoermarkte.
SA MOET NOU UITVOERKANSE BENUT
Die feit dat Europa se wynproduksie die laagste in sowat 45 jaar is, bied aan Suid-Afrika geleenthede om goeie uitvoerooreenkomste te vestig. Spanje, Frankryk en Italië is veral hard getref deur uiterste klimaatstoestande, soos ryp en droogte. Die weerstoestande het dié drie lande tegelykertyd getref. Dit dra by tot ’n wesenlike afname in wynvoorraad wêreldwyd.
Die situasie hou nie net voordele vir die plaaslike bedryf in ten opsigte van volume nie, maar bied ook aan boere waarde om te groei. Tegniese aanpassings kan aan Suid-Afrikaanse uitvoerders die geleentheid gee om ware voordeel te trek uit die gehalte van die wyne wat die bedryf bied.
’n Afname in die volumes wat vir uitvoer beskikbaar is, kan plaaslike uitvoerders ook in staat stel om beter pryse met internasionale invoerders te beding.