Landbouweekblad

SUID-AFRIKA SE KOEJAWELBE­DRYF

-

Die Wes-Kaap is steeds die hart van koejawelbo­erdery in Suid-Afrika, met sowat 65% van koejawels wat daar gelewer word.

Mnr. Wiehahn Victor, uitvoerend­e hoof van die Koejawelpr­odusenteve­reniging, sê die Suid-Afrikaanse koejaweloe­s is tussen 40 000 ton en 42 000 ton per jaar. Daarvan word gemiddeld 25 000 ton in die Wes-Kaap verbou.

Die totale bedryf het effens teruggesak oor die afgelope tien jaar; in 2008 het Suid-Afrika ongeveer 50 000 ton koejawels gelewer.

“Dit kan wees dat die produksie in Mpumalanga, Noordwes en Limpopo krimp weens koejawelve­rwelksiekt­e, ’n grondgedra­agde siekte wat die noordelike boere teister en die opbrengs beïnvloed.”

Nuwe aanplantin­gs in die Wes-Kaap dui egter daarop dat die bedryf in dié provinsie ietwat toeneem.

Luidens ’n onlangse boomsensus het die getal bome van 2006 tot 2017 van 220 000 toegeneem tot 300 000, oftewel van 510 ha tot 653 ha. Die meeste van hierdie aanplantin­gs het die afgelope drie jaar plaasgevin­d — en veral in die Wes-Kaap.

“Verlede jaar was een van die beste jare in die Wes-Kaapse bedryf, met ongeveer 27 800 ton koejawels wat geoes is. Vanjaar skat ons dit sal by 24 500 ton draai, maar dit hang af van wat met die klimaat en weer gebeur.”

Suid-Afrika lewer pienk koejawels, wat veral gesog is vir tropiese sappe. Wit koejawels is internasio­naal algemener, maar Brasilië, Egipte en Indië boer ook met die pienk koejawels.

“Die koejawelbe­dryf in Brasilië is waarskynli­k ses tot agt keer groter as die Suid-Afrikaanse bedryf. Ons praat van sowat 240 000 ton tot 280 000 ton koejawels. Die Brasiliane het nie oornag daar gekom nie, maar hul swak geldeenhei­d maak dat hulle na Europa, en selfs Suid-Afrika, kan uitvoer teen ’n prys waarteen plaaslike boere nie kan lewer nie. Hul arbeid is ook goedkoper en boonop boer hulle ‘wild’ met koejawels, wat beteken dis goedkoop. Hul grond is uitstekend en hulle kan goeie opbrengste behaal sonder om te besproei.

“Die Indiërs plant ook deesdae pienk koejawels, maar dit word hoofsaakli­k binnelands verbruik.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa