Veebedryf op hete kole: EU herbesin oor SA se bek-en-klouseervrye status
VRESE bestaan dat die Europese Unie Suid-Afrika se status as vry van bek-en-klouseer kan ophef – nie weens die voorkoms van dié siekte nie, maar weens ’n verslapping in die bestrydingsmaatreëls.
Dit volg op die ontevredenheid van gesondheidsinspekteurs ná ’n besoek aan Suid-Afrika sowat drie maande gelede, oor ’n verslapping in sommige van die plaaslike bekampingsmaatreëls.
Dié vrese het op die kongres van die Vrystaatse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) aan die lig gekom.
Suid-Afrika het sy bek-en-klouseervrye status van 2011 tot 2014 verloor, wat tot verliese van sowat R4 miljard per jaar aan buitelandse valuta gelei het.
“Indien ons nie ons dieregesondheidstatus na behore in stand hou en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se direktoraat veeartsenydienste dwing om sy bestrydingstelsels doeltreffend te onderhou nie, kan Suid-Afrika sy siektevrye status verloor,” het mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die RPO, gesê. Dit het implikasies vir marktoegang in die Europese Unie en Amerika.
“Dit sal niks met die hernieude uitbreking van die siekte te doen hê nie, maar bloot weens die swak administrasie van ’n stelsel,” sê hy.
GEREELD GEWAARSKU
Mnr. Koos van der Ryst, RPO-voorsitter, het vroeër op die Noord-Kaapse RPO-vergadering gesê die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) doen gereeld inspeksies om lande se toepassing van sy gesondheidsprotokolle te beoordeel. “Dié inspekteurs het ons herhaaldelik gewaarsku die departement moet sy sake in orde kry, anders is Suid-Afrika se status as vry van bek-en-klouseer in die gedrang.”
Volgens prof. Johan Willemse, ’n onafhanklike landbouekonoom, voer Suid-Afrika tans sowat 4 500 ton verkoelde en bevrore beesvleis per maand uit, ver- al na Afrika en die Arabiese lande.
“Die aanduidings is as ons klas A-beesvleispryse verby huidige vlakke (R45/kg-R47/kg) styg, sukkel geïntegreerde voerkrale om uit te voer. So met die groot druk op die slag van diere in die droogtejare het die uitvoer van vleis die druk op gedwonge bemarking in die binneland verlig en pryse vir boere het behoue gebly.”
VOËLGRIEP
Intussen is die eerste uitbreking vanjaar van die hoogs aansteeklike H5N8-voëlgriepvirus onder kommersiële pluimvee vroeër vandeesmaand suid van Johannesburg aangemeld.
Dr. Celia Abolnik, voëlgriepkenner en -navorser van die Universiteit van Pretoria, het dié inligting op die AVI Africa-pluimveekonferensie in Kempton Park bekend gemaak. Die pluimveebedryf is baie bekommerd oor die bedreiging wat voëlgriep hierdie winter kan inhou.
Dr. Mpho Maja, direkteur vir dieregesondheid van die departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het dit egter op die konferensie duidelik gemaak dat die departement nié daarvoor verantwoordelik is om siek pluimvee van kant te maak nie. Die departement is ook nie daarvoor verantwoordelik om vergoeding volgens markwaarde te betaal vir siek pluimvee wat boere weens die siekte verloor nie.
“Die ware rol van die Regering is nie om baba-oppasser vir die bedryf te speel nie,” het sy gesê, maar om eerder norme en standaarde vir siektebestryding en protokolle vir waarneming op te stel, hulpbronne (soos beskikbare laboratoriums) te voorsien en waarborge aan Suid-Afrika se handelsvennote te verskaf. Dié stelling het kwaai kritiek by die gehoor ontlok.
Dr. David Allwright, Wes-Kaapse hoenderboer, het uit die gehoor sy kommer uitgespreek oor hoe die siekte verlede jaar gehanteer is en wat vanjaar op pluimveeboere kan wag.
“Van die hoenderhuise waar voëlgriep uitgebreek het, staan 90% (in die Wes-Kaap) nog leeg. As ons vanjaar dieselfde benadering as verlede jaar volg, gaan ons dieselfde resultate hê.
“Die staat se rol is om die nasionale pluimveegroep te beskerm, en die optrede tydens ’n aaneenlopende uitbreking moet anders te wees as ná ’n enkele geval.”
— JOHAN NORVAL en CARIEN KRUGER * Nog berigte op Landbou.com.