Klop só duur brandstof, hoër BTW
BOERE moet hulself verskans teen moontlike stygings in die pryse van produksiemiddele en voorsiening maak vir ander dinge wat hul begrotings kan raak.
Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, sê die groot styging in die brandstofprys gaan veral ’n groot invloed op die graanbedryf – ’n groot verbruiker van diesel – hê.
“Benewens die regstreekse nadelige invloed op produksiekoste, is daar natuurlik die onregstreekse invloed op die vervoerkoste van produksiemiddele na die plaas en produkte na markte.
“Ek raai boere aan om aan die begin van die produksietyd hul
dieselkoste te verskans, hetsy om vooraf diesel te bestel – maar dan loop die boer die risiko dat die prys kan daal – of om afgeleide instrumente te koop om pryse te verskans.”
Maree sê sulke moontlikhede bestaan, maar word nog nie algemeen in die landbou benut nie.
Die stygende oliepryse gaan ongelukkig ook kunsmispryse laat styg omdat laasgenoemde ’n neweproduk daarvan is.
Maree sê boere wat groot hoeveelhede diesel koop, “moet natuurlik met die verskaffer stoei
om afslag”. Dít is nie vir kleiner boere so maklik nie, maar sulke boere kan wel saamwerk in koopgroepe, wat reeds suksesvol in Suid-Afrika bedryf word.
‘DELG NOU SKULD’
Maree sê stygings in die brandstofkoste het ’n inflasionêre invloed op die ekonomie. “Die Reserwebank sal nie skroom om op te tree deur die rentekoers te verhoog as die inflasieverwagtinge buite sy teikenband van 3% tot 6% beweeg nie.”
Hy sê inflasie is nog nie onder
beheer nie, en die opwaartse druk is klaar te bespeur weens die styging in die brandstofprys die afgelope paar maande.
Die rentekoers, oftewel rentekoste, speel gewoonlik ook ’n groot rol in ’n boer se begroting omdat boere baie geld leen. “Ons het definitief die einde van rentekoersdalings gesien,” sê Maree.
Hy verwag dat die rentekoers die res van die jaar dieselfde kan bly en, na gelang van gebeure, moontlik middel volgende jaar kan begin styg. “Ek raai boere aan om ingeligte toekomsbe-
sluite te neem. Indien moontlik, moet hulle nou soveel moontlik skuld delg.”
WEES AANPASBAAR
Oor die onlangse swak groei in die bruto binnelandse produk (BBP) sê Maree die BBP-syfers is baie seisoenaal van aard en dat ’n mens nie nou al te veel daaruit moet aflei nie.
Boere moet wel kennis neem van die druk waaronder verbruikers is en ook van verbruikers se voorkeure.
“Ons kan nie voortgaan om te boer met die verwagting dat die produkte verkoop sal word nie. Boere moet aanpasbaar wees. In die vrugtebedryf neem boere byvoorbeeld kennis van die internasionale verbruikersvraag na sitrus wat maklik skil en pas hul produksiebesluite daarby aan.”
Wat oorlaatskuld ná die droogtes betref, sê Maree dit beloop nog nie buitensporig baie nie. “Tot nou toe het die groei in batewaarde danksy stygende grondpryse dit teengewerk. Ek verwag egter dat grondpryse stadiger kan styg weens politieke faktore.”
Oor die rand wat die afgelope tyd weer verswak het, sê Maree die wisselkoers is altyd die onbekende faktor. Hy meen dit kan vanjaar en volgende jaar, wanneer Suid-Afrika weer ’n verkiesing hou, deur politieke gebeure en die prestasie van die ekonomie beïnvloed word.
‘Ons het definitief die einde van rentekoersdalings gesien.’