Elektrisiteit: Kragmonopolie dalk beëindig
VOORGESTELDE veranderings aan elektrisiteitswetgewing wat pas vir kommentaar in die Staatskoerant afgekondig is, kan die elektrisiteitsbedryf in Suid-Afrika ingrypend verander, sê kenners wat die voorstelle onder oë gehad het.
Mnr. Danie Coetzee, Noord-Kaapse sonkrag-entrepreneur en direkteur van Solar Trends, sê indien die voorstelle aanvaar word, kan dit die einde beteken van die huidige monopolistiese bedryf wat oënskynlik “afperstegnieke” gebruik om buitensporige tariefverhogings op die publiek af te dwing.
Mnr. Jeff Radebe, Minister van Energie, het aangedui hy wil ’n konsepkennisgewing oor vrystelling van lisensiëring en registrasie wat 20 November verlede jaar afgekondig is, herroep. Hy wil dit vervang met die voorstelle wat nou op 8 Junie afgekondig is. Belanghebbendes het 30 dae om daarop kommentaar te lewer.
Coetzee sê die drastiese afname in die koste van hernubare energie, tesame met die styging in die prys van elektrisiteit, maak dit al lank vir baie verbruikers lonend om hul eie krag op te wek.
“Tot nou toe was wetgewing in hierdie verband egter nie baie duidelik nie. Die voorgestelde wetgewing sal sekerheid bring en burokratiese hindernisse uit die weg ruim.”
LISENSIEVRY
Coetzee sê volgens die voorstelle word die volgende bedrywighede vrygestel van lisensiëring: ■ Die bedryf van ’n netwerkgekoppelde kragopwekkingsgerief kleiner as 1 MW vir eie gebruik (100 kW volgens huidige regulasies). ■ Die bedryf van ’n opwekkingsgerief kleiner as 1 MW met ’n enkele kliënt waar die opgewekte elektrisiteit deur die nasionale netwerk na die kliënt vervoer word. ■ Die bedryf van ’n opwekkingsgerief wat nie aan die netwerk gekoppel is nie en vir eie gebruik van kleiner as 1 MW. ■ Die bedryf van ’n demonstrasie-aanleg waar die krag nie verkoop word nie. ■ Die bedryf van ’n opwekkingsgerief wat afvalmateriaal of neweprodukte gebruik en wat die elektrisiteit self gebruik. Hier word geen beperking op die grootte daarvan gestel nie. ■ Die verkoop van elektrisiteit waar die koopprys laer is as die prys van die huidige lisensiehouer. “Dit is ’n groot stap in die regte rigting en kan ongekende geleenthede vir boere skep,” sê Coetzee.
GROTER DUIDELIKHEID
Dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, sê die klarigheid wat die nuwe afkondiging verskaf, kan help met die opstel van die reëls vir registrasie en die proses bevorder. “As die reëls afgehandel is, sal boere die proses kan volg om ’n registrasiesertifikaat te bekom en by die kragnetwerk aan te sluit. Dit sal boere aanmoedig om te belê in maniere om hul eie krag op te wek en ’n besparing in hul elektrisiteitskoste meebring.”
Wait sê die afkondiging het betrekking op lisensiëring én registrasie. Daar is ’n sleutelonderskeid tussen bedrywighede waarvoor ’n lisensie nie benodig word nie, maar waar daar ’n vereiste is om by Nersa te registreer, en bedrywighede waarvoor daar nie ’n lisensie óf registrasie vereis word nie.
Agri SA het al verskeie kere met Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van SuidAfrika (Nersa) oor die regulasies vergader.
Wait sê hulle sal voortgaan met hul pogings om te verseker dat die registrasieproses op ’n gesonde ekonomiese en kommersiële benadering gegrond is.
Oor die dreigende Eskom-Nersa-hofgeding oor loonverhogings sê Coetzee dit is uiters kortsigtig van Eskom om die hof te nader om die tariefverhoging, soos goedgekeur deur Nersa, tersyde gestel te kry. “Nersa het dit duidelik gestel dat enige buitensporige verhoging grootskaalse migrasie weg van die netwerk tot gevolg sal hê, met katastrofiese ekonomiese gevolge vir Suid-Afrika. Eskom sal meer baat daarby vind om op verhoogde produktiwiteit klem te lê.”
Wait sê dit beklemtoon Eskom se moeilike finansiële posisie. “Dit dui egter daarop dat daar nog nie ’n daadwerklike verandering in Eskom se sakeplan ingestel is nie. Verbruikers kan nie verdere verhogings bekostig nie.
“’n Alternatiewe en kreatiewe benadering is nodig, pleks daarvan om koste vir ’n hofsaak aan te gaan wat probeer om meer van verbruikers te verhaal.”
‘Eskom sal meer baat daarby vind om op verhoogde produktiwiteit klem te lê.’