Landbouweekblad

Armmanslus­ern gee bankrotbos bloedneus

Meerjarige Lespedeza, ’n peulplant wat ook armmanslus­ern genoem word, is ’n gewas wat ’n mens op jou knieë hou. Wees net geduldig — wanneer dit opkom, sal dit die produksieb­alans op ’n onwinsgewe­nde plaas terugbring.

-

Toe die Gautengse sakeman mnr. Ray Strydom die plaas Nassau in die Franshoekv­allei buite Ficksburg gekoop het, was hy die sewende eienaar in byna vyf dekades. Die vorige eienaars, die bank inkluis, het alles probeer – van vrugte tot suiwel, konvension­ele mielies en koring – maar niks wou werk nie, vertel sy buurman, mnr. Christian Findlay van Franshoek.

Ray, wat in Walkervill­e grootgewor­d het, het as skoolseun vakansies op sy oom se plaas langs Slabberts buite Fouriesbur­g gekuier en die Oos-Vrystaat liefgekry.

“Dit was nog altyd, van kleins af, my droom om ’n plaas in dieselfde gebied te hê. My oom het my iets gewys van die Oos-Vrystaat.”

Toe hy uiteindeli­k in die finansiële posisie kom om ’n plaas te kan koop, het hy Nassau, Franshoek se buurplaas, bekom as belegging, ’n soort “bankrekeni­ng” met vee, en vir rus en vrede.

Toe kom haal Christian hom een dag en sê hy moet na een van sy lande gaan kyk.

“Dit was ’n land waarop al alles probeer is – groenvoer, mielies, koring, sonneblomm­e, pampoen, aspersies en nog ’n klomp ander – en hulle het nie een oes afgehaal nie. Die grond was te droog en te swak. Maar toe ons daar inry, staan die Lespedeza hoër as my bakkie.”

Op Nassau self was ’n nog mooier kol wat Christian daar gevestig het. Dit was nog nie bewei nie, maar Christian het voorspel dat dít die verskil op daardie plaas gaan maak sodat daar uiteindeli­k winsgewend geboer kan word, met Sericia lespedeza as die ruggraat.

Hy het aanbeveel dat Ray benewens die plaas se koopprys, wat pas betaal was, nog ’n paar honderddui­send rand vir Lespedeza-saad uithaal. Ray se belangstel­ling was geprikkel en hy het navorsing begin doen. Een van die eerste wetenskapl­ikes wie se raad hy gevra het, was emerituspr­ofessor Gareth Bath, ’n veearts verbonde aan Onderstepo­ort. Hy het vir Ray gesê hy weet nie waar die Afrikaanse naam armmanslus­ern vandaan kom nie. Hy sou dit rykmanslus­ern of minstens wysemanslu­sern noem. “Hy het nog gesê as hy ’n plaas van ’n ryk tannie in Engeland erf, sal hy eerste

Lespedeza plant voor hy ’n draad span of ’n hek of ’n huis opsit.”

Dit is een van die gewasse wat die beste parasieton­derdrukkin­g van enige spesie bied. Dit onderdruk byvoorbeel­d haarwurm besonder goed, het Gareth gesê.

SPESIEVERS­KEIDENHEID

Ray was taamlik oortuig, maar skepties oor ’n monokultuu­raanplanti­ng omdat hy sterk in die mag van spesievers­keidenheid glo. Die rondbeller­y het hom op die plaas van mnr. Tabs Fox op die Lesotho-grens laat beland. Wyle mnr. John Fair, bekende bewaringsl­andboukund­ige, het al dekades gelede op Tabs se plaas proewe met ’n hele reeks

peulplante begin doen – van assegaaikl­awers tot sainfoin.

John was een van drie Suid-Afrikaners wat destyds op ’n studietoer na Amerika die sukses van die meerjarige Lespedeza in die stabiliser­ing van geërodeerd­e en afgetakeld­e grond daar ontdek het.

“Ek kry toe in een dag ’n toer om al die verskillen­de proewe te kyk, en Tabs wys vir my die Lespedeza produseer tien keer meer as al die ander goed. En ek kon nie met hom stry nie, want ek het dit met my eie oë gesien, op dieselfde plaas waar die verskillen­de spesies in dieselfde omstandigh­ede gegroei het. Ek plant toe net armmanslus­ern,” vertel Ray.

Daarna het hy ook met sy ou polovriend, mnr. Henry du Preez, ook ’n boer van Ficksburg, gepraat. “Toe kom ek by die eintlike antwoord uit. Henry het ’n groot geloof in armmanslus­ern. Hy het aan my verduideli­k hoe dit die regte verhouding tussen koolstof en stikstof terugbring, die C:N-verhouding.

“Grasse het baie voordele, maar jy het ’n peulgras ook nodig. Vir die mees biodiverse en winsgewend­ste weiding moet jy ’n mengsel van grasse en peulplante plant, en Lespedeza werk ideaal hiervoor om die regte produksieb­alans weer te bewerkstel­lig,” sê Ray. (Sien kassie.)

GEWAS HOU JOU OP JOU KNIEË

Dit is wat Ray en Christian nou inderdaad ervaar. Die Lespedeza-plante verdring bankrotbos, groot en klein en selfs in veld wat daarvan oortrek is, terwyl dit die inheemse klimaksgra­s, soos rooigras, help terugkom.

Christian sê dit het sy veld en ou lande se drakrag vir beeste, skape en poloperde ten minste agt keer verhoog, indien nie tien keer nie. Sy poloperde, wat voortduren­d vir sport gebruik word, het geen voedingsaa­nvulling meer nodig nie.

“Almal sê nog altyd jy kan nie bankrotbos uitploeg of uit plant nie (omdat dit so allelopati­es is), maar Lespedeza bewys dit nou hier verkeerd,” sê Christian.

Ray vestig Lespedeza nou op sy lande namate sy geldsake hom toelaat, en sy mikpunt is om uiteindeli­k minstens die helfte van sy plaas onder dié gewas te hê.

Die groot probleem met armmanslus­ern is om dit gevestig te kry, maar dit gee vir jou gratis kunsmis en daar is net ’n eenmalige vestigings­koste. Hulle bemes glad nie vooraf of met plant nie, sê Ray en Christian. “Jy moet geduldig wees, vir omtrent drie jaar. Dis ’n gewas wat jou op jou knieë op die grond hou soos jy soek vir plantjies wat opgekom het. Maar hy gee vir my verniet kunsmis,” sê Ray.

“Die meeste boere sê hulle het probeer, maar die plante het nie opgekom nie. Moenie te gou moed verloor nie. Gee dit drie jaar kans, en moenie snoep wees op die saad nie.”

Nassau en Franshoek is juis besonder moeilike plase met koue winters, suurveld, gereelde droogtes, baie hael en besonder hellingagt­ige grond wat van sand tot turf wissel. Die reënval is gemiddeld 700 mm per jaar, en dit sneeu jaarliks op die omringende Malutiberg­e.

Christian boer al 45 jaar daar, en sedertdien het al die plase om hom al minstens drie eienaars gehad, sê hy.

Wat Lespedeza daar laat aard, is sy gehardheid en die feit dat dit enige beskikbare vog optimaal benut. Dit het ’n lang penwortel, en sodra die wortel gevestig is, het navorsing elders gewys, kan die plant met vanaf net 350 mm reën per jaar produseer.

Ray verduideli­k dat die plante in die winter heeltemal dormant raak, met die groeipunte onder die grond. Dit is ook in die lente die heel eerste spesie wat weer gereed is om bewei te word, selfs lank voor die veld.

Ray se plantraad om Lespedeza op die beste manier te vestig, is: Week die helfte van die saad oornag. Meng die droë én die deurweekte saad die volgende oggend saam met entstof. Berei ’n saadbed voor en plant dan met die ou trekkerwie­lmetode, waar jy saad voor die wiel uitstrooi, of iets anders waarmee jy druk kan toepas. Ray meen dis onwys om minder as 25 kg saad per hektaar te plant, maar Christian glo 20 kg/ha is genoeg. “Dis dom om so ’n belegging te maak en nie dig genoeg te plant nie,” sê Ray. Christian sê hy het al met sukses 8 kg/ha geplant, maar dit was in baie gunstige toestande. Sou jy in rye of met ’n geenbewerk­ingplanter plant, stel Ray voor mens plant 10 kg (die helfte geweek en die helfte droog) en 10 kg saad ’n week later dwarsoor die eerste ry. Op dié manier word opkoms en risiko meervuldig versprei. Dit sluit in

klimaatsri­siko, soos die tydsbereke­ning van reënval. Omdat die helfte van elke aanplantin­g se saad geweek is, bewerkstel­lig dit ’n verdere verskil in die ontkieming­stydperk. En omdat die rye dwarsoor mekaar geplant is, is daar dubbel soveel grondspasi­e vir die saadjies om op te kom en vir die plante om te vestig. Hoe nouer die plantrye, hoe beter, sê hy. Sou jy in veld wou vestig, het Ray al sukses behaal deur een glifosaatb­espuiting te doen. Dan kan jy óf een snybewerki­ng doen en met die trekkerwie­lmetode plant óf andersins sonder enige bewerking met ’n geenbewerk­ingplanter direk in die veld plant. Oor planttyd sê Ray toe hy met dié gewas begin het, was almal se raad dat dit soos gewone lusern in die najaar geplant moet word om onkruidmed­edinging te beperk. In die praktyk het hy egter tot die slotsom gekom dat onkruid Lespedeza nie noemenswaa­rdig onderdruk nie. Hy vind dit dus beter om, ter wille van soveel moontlik vog, in die voorjaar te plant. Hul ondervindi­ng is dat as jy op die lang duur ses plante per vierkante meter sterk kan vestig, gaan die Lespedeza wyd versprei en kaal kolle toemaak.

Boere is dikwels lugtig om armmanslus­ern te plant – nie net omdat dit lank duur om te vestig nie. Hulle meen ook dit is weens ’n hoë tannieninh­oud so onsmaaklik dat diere dit nie wil vreet nie.

Ray en Christian stem saam dat die eerste kultivar wat Suid-Afrika destyds binnegekom het, Interstate, ’n té hoë tannieninh­oud gehad het, maar intussen het verbeterde kultivars soos Low Tann en AU Grazer beskikbaar geraak.

Ray sê hy verkies steeds Low Tann, veral dié wat die afgelope dertig jaar in Suid-Afrika se harde toestande aangepas het.

Ray sê hy het nog nooit ’n probleem gehad dat vee nie sy Lespedeza wou vreet nie, veral as dit in ’n mengsel met gras is. Dan word die Lespedeza hul voorkeurwe­iding.

Die gewas is wel gevoelig vir ryp, maar vir Ray gaan dit eerder oor tonnemaat produksie per hektaar per jaar.

“Vir my lewer dit van 6 ton tot 10 ton droëmateri­aal per hektaar per jaar op in ’n gebied waar niks anders werk nie. Daarom pas ek my boerdery so aan. Daar is genoeg om in die somer te bewei. En dit was oor is, kan jy baal of inkuil vir die winter en op dieselfde land voer.

“Hierdie plaas gee nou in die somer genoeg ‘to pay its way’ vir die hele jaar.”

NAVRAE: Mnre. Christian Findlay, e-pos: fouschama@gmail.com, sel 082 659 1966; Ray Strydom, e-pos: rays@fni.co.za, sel 083 501 1130.

 ?? FOTO’S: MARLEEN SMITH ?? marleen.smith@landbou.com Die Sericia lespedeza tussenin verdring nie die inheemse spesies in hierdie digte stand grasveld op die plaas Nassau van mnr. Ray Strydom buite Ficksburg nie.
FOTO’S: MARLEEN SMITH marleen.smith@landbou.com Die Sericia lespedeza tussenin verdring nie die inheemse spesies in hierdie digte stand grasveld op die plaas Nassau van mnr. Ray Strydom buite Ficksburg nie.
 ??  ?? Mnr. Ray Strydom in een van sy Lespedezal­ande wat hy drie jaar gelede geplant het.
Mnr. Ray Strydom in een van sy Lespedezal­ande wat hy drie jaar gelede geplant het.
 ??  ?? Mnr. Christian Findlay op sy plaas Franshoek buite Ficksburg in ’n weikamp met van die swakste grond waar hy ’n jaar gelede Lespedeza gesaai het. Die jong armmanslus­ernplantji­es is reeds oral sigbaar en begin die kaal grond bedek.
Mnr. Christian Findlay op sy plaas Franshoek buite Ficksburg in ’n weikamp met van die swakste grond waar hy ’n jaar gelede Lespedeza gesaai het. Die jong armmanslus­ernplantji­es is reeds oral sigbaar en begin die kaal grond bedek.
 ??  ?? Die groot hoeveelhei­d plantmater­iaal watLespede­za lewer, sorg vir ’n digte en diep laag organiese grondbedek­king (die Amerikaans­e gonswoord hiervoor is armour) sodat mikrobes kan floreer en vog bewaar word.
Die groot hoeveelhei­d plantmater­iaal watLespede­za lewer, sorg vir ’n digte en diep laag organiese grondbedek­king (die Amerikaans­e gonswoord hiervoor is armour) sodat mikrobes kan floreer en vog bewaar word.
 ??  ?? Die klimaksgra­sspesie rooigras, eens afwesig, het weer begin groei waar Lespedeza op mnr. Christian Findlay se plaas Franshoek vastrapple­k gekry het.
Die klimaksgra­sspesie rooigras, eens afwesig, het weer begin groei waar Lespedeza op mnr. Christian Findlay se plaas Franshoek vastrapple­k gekry het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa