Landbouweekblad

Alle oë op polisie ná Grondwetho­f se skokuitspr­aak

- — JASPER RAATS

BLY kalm en wag vir uitsluitse­l van die polisie.

Dít was die reaksie van die Suid-Afrikaanse Vuurwapene­ienaarsver­eniging (Saga) op die Grondwetho­f se eenparige beslissing op 7 Junie dat die sowat 300 000 Suid-Afrikaners wat nie hul vuurwapenl­isensies betyds hernu het nie, tegnies onwettig in besit van hul vuurwapens is.

In die uitspraak deur regter Johan Froneman is bevind artikel 24 en artikel 28 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) is nie ongrondwet­lik nie. Die Noord-Gautengse Hooggeregs­hof het die SA Jagters- en Wildbewari­ngsverenig­ing (SA Jagters) verlede jaar gelyk gegee dat dié artikels irrasionee­l en vaag is, en dit ongrondwet­lik verklaar.

Die Grondwetho­f het dié beslissing van die Hooggeregs­hof ter syde gestel.

Volgens die betrokke artikels moet vuurwapene­ienaars wie se lisensies verval het, dit by die naaste polisiekan­toor inhandig vir vernietigi­ng. Hulle mag aansoek doen om vergoeding. Die bestaande wetgewing maak glad nie voorsienin­g vir die indien van laat aansoeke nie.

WAG EN KYK

Adv. John Welsh, regskenner van Saga, sê in ’n verklaring die organisasi­e verwag dat die Minister van Polisie of die nasionale polisiekom­missaris eersdaags ’n aankondigi­ng sal maak oor vuurwapenl­isensies wat verval het.

Mnr. Fred Camphor, uitvoerend­e hoof van SA Jagters, sê sy organisasi­e probeer om dringend met die minister oor die saak te vergader. Talle lede van SA Jagters wat probeer het om vuurwapens by polisiekan­tore regoor die land in te handig, is glo huis toe gestuur met hul “onwettige” wapens.

“Mense sê vir my die polisie weier om die vuurwapens te aanvaar en sê die eienaars moet wag om te hoor wat die polisie gaan doen.”

Saga en SA Jagters hoop dat ’n beoogde amnestiety­dperk ingestel sal word. Volgens Saga geld die staande opdrag aan polisieled­e om nie mense wie se lisensies verval het, te vervolg nie totdat daar ’n nuwe opdrag gegee word.

“Ons meen dus daar sal binnekort ’n verdere opdrag gegee word,” sê Welsh.

Hy beveel aan dat eienaars hul wapens hou en wag vir die amnestie. Eienaars wat nie kans sien om te wag nie, kan die vuurwapens by die polisie inhandig vir vernietigi­ng. Omdat die wapens nou onwettig is, mag dit nie verkoop word nie en ook nie deur ’n wapensmid onbruikbaa­r gemaak word nie.

OU LISENSIES

Vuurwapens van mense wat nie ingevolge Wet 60 van 2000 om lisensies aansoek gedoen het nie, maar nog in besit van die groen lisensieka­artjies ingevolge die vorige wetgewing is, word nie deur die Grondwetho­f se uitspraak geraak nie.

Sommige regskenner­s meen glo mense wie se “nuwe” lisensies verval het, kan hulle op die ou lisensies beroep as hulle dit nog het. Camphor en Welsh meen egter dat dit nie deur ’n hof aanvaar sal word nie.

Camphor sê vuurwapene­ienaars wat om die sogenoemde wit lisensieka­artjies aansoek gedoen het, het hulself tot die nuwe wetgewing verbind.

Brig. Vish Naidoo van die polisie het teen druktyd nie op Landbouwee­kblad se versoeke om kommentaar gereageer nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa