Landbouweekblad

Tyd en gesondheid is al wat ons het

Nuwejaarsv­oornemens van ’n gesonder leefstyl beland dikwels in die snipperman­djie. Klein verstellin­gs aan jou gesondheid­regime gaan jou nie net gesonder laat nie, maar dit kan jou ook heelwat geld bespaar.

-

Laas maand het ek ’n elektronie­se horlosie gekry wat aan ’n versekeraa­r se gesondheid­saansporin­gskema gekoppel is. Dit is verbasend hoe so ’n horlosie jou lewe kan oorneem.

Vinnig het die horlosie met my begin raas. “Jy sit te veel! Staan op en beweeg!” “Gegewe wat jy geëet het, het jy te min geoefen. Kan ek aanbeveel dat ons gaan stap?”

En as jy die slag luister: “Pragtig, hierdie 10 minute was regtig ’n goeie stappie. Kom ons probeer volgende keer 15 minute.” En op hierdie wyse het die horlosie binne ’n baie kort tyd my lewenspatr­oon begin verander.

Soggens gaan draf ek nou 30 minute en tydens middagete gaan stap ek nog 10 minute. As jy meer as 10 000 treë in ’n dag afgelê het, kry jy punte. Dit het nou al twee keer gebeur dat ek op pad bed toe is, net om te sien dat ek minder as 1 000 treë benodig vir die dag. Dan trek ek maar my drafskoene aan om my treë vir die dag te bereik . . .

Natuurlik is dit nie die horlosie alleen wat hierdie veranderin­g tot gevolg het nie. ’n Mens moet gewoonlik eers ietwat van ’n gesondheid­skok kry om te besef dat jy jou lewenswyse moet verander. Die horlosie is net ongeloofli­k goed daarin om jou te herinner aan wat jy moet doen en om te keer dat jy weer in jou vorige leefstyl terugval.

VOORDELE VAN GESONDER LEEF

Navorsing sê dat ons gemiddeld sewe jaar ouer gaan word as ons ouers. Volgens Sanlam is daar ’n 50%-kans dat jy of jou gade 95 jaar oud sal raak.

Die vraag is dus nie meer of jy oud gaan raak nie, maar eerder wat jou lewensgeha­lte gaan wees in daardie laaste 20 jaar van jou lewe. Gaan jy in ’n rolstoel sit en van ander afhanklik wees vir alles? Of gaan jy nog in jou tagtigs in staat wees om op ’n wêreldtoer te gaan en elke oomblik daarvan te geniet?

Ek het in die verlede al baie geskryf oor hoeveel geld jy nodig het om in aftrede te kan oorleef. Die kort antwoord is dat jy R1 000 000 nodig het vir elke R4 000 wat jy per maand wil trek. Maar dit help nie om genoeg geld te hê as jy dit nie kan geniet nie.

Daarom raak dit belangrik om reeds van ’n vroeë stadium af te begin werk aan jou gesondheid. Die wonderlike van hierdie leefstyl is dat jy nie alleen voordeel gaan trek wanneer jy oud is nie, maar anders as met beleggings, begin die voordele onmiddelli­k.

Jy slaap beter en jy het meer energie gedurende die dag. Jou brein vind vinniger oplossings en jy kan meer druk hanteer sonder dat dit jou nadelig beïnvloed. Omdat jy gewig verloor, is jou bloeddruk beter en die druk op jou gewrigte, soos jou knieë, is minder. Gegewe dat mobiliteit ná 70 een van die belangriks­te aspekte van jou gesondheid is, is dit belangrik om jou heupe en knieë beter te beskerm. Dit word gedoen deur die regte dieet te volg, gereeld te oefen en gewig te beheer. (Dit help ook om nooit in jou lewe rugby te gespeel het nie . . .)

INVLOED OP GELDSAKE

Goeie gesondheid het egter ook ’n drastiese invloed op jou finansies. Mediese inflasie is tans naby 10%. Dit beteken dat medies jaarliks ’n al groter deel van ons uitgawes sal uitmaak.

As jy ná aftrede in een van die top- mediese fondse wil wees, het jy R2 000 000 nodig om dit te finansier. As jy egter gesond genoeg is om tien jaar langer op ’n hospitaalp­lan te bly, het jy amper R1 000 000 minder nodig. As jy vandag by een van die versekeraa­rs se gesondheid­sprogramme aansluit, gaan jy ook afslag op jou lewensdekk­ing en ander produkte kry omdat hulle weet jy gaan langer en gesonder leef.

Namate jy ouer word, besef jy daar is net twee dinge wat belangrik is: tyd en gesondheid. Miskien moet jy vir jou ook een van hierdie nuwe moderne horlosies kry. Dit werk goed om albei te bestuur.

Adv. Ronald King is hoof van strategies­e navorsing by PSG. Hy is ook te sien op die TV-program Landbouwee­kliks op Via (kanaal 147 op DStv), Dinsdae om 19:30.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa