Koester die landbou!
Suid-Afrika moet landbou-uitvoer bevorder. Indien ons landbou wêreldstandaarde kan klop, kan dit voldoende en goedkoop voedsel vir almal verseker.
Die landbou het in die eerste kwartaal van vanjaar met 24,2% gekrimp teenoor die vorige kwartaal. Dit kom nadat die sektor se goeie vertoning verlede jaar ’n groot bydrae gelewer het om die Suid-Afrikaanse ekonomie aan die gang te hou.
Die rand het ’n impak op alle uitvoerbedrywe gehad, sowel as op bedrywe wat met invoer moet meeding, soos braaihoenders en eiers. Die rand se gemiddelde waarde was in die eerste kwartaal van verlede jaar R13,24 teenoor die VSA$, vergeleke met R11,96 in die eerste kwartaal van vanjaar. Die rand was dus op ’n kwartaallikse grondslag meer as 14% sterker as ’n jaar gelede.
Die onderstaande bedrywe maak 75% van die landbou se bruto produksiewaarde uit. Hier volg ’n kort oorsig oor hoe dié bedrywe se produksiewaarde in die eerste kwartaal van vanjaar met die eerste kwartaal van verlede jaar vergelyk. Dit verklaar die daling in Suid-Afrika se ekonomiese groei in die eerste kwartaal en werp ook lig op die belangrikheid van die landbou.
BEESTE EN KALWERS
Produksie is beperk weens laer slagsyfers en kleiner kuddes as gevolg van die droogte. Dit lyk of die slagsyfer in die eerste kwartaal van vanjaar 21% laer was teenoor ’n jaar gelede. Beesvleiskarkaspryse het op ’n kwartaallikse grondslag met 11% gestyg. Speenkalfpryse het met 35,4% gestyg.
Boere bemark meer vroulike diere vanweë die hoë speenkalfprys en lae mielieprys. Die herstel van die nasionale beeskudde gaan dus langer duur en Suid-Afrika gaan op mediumtermyn meer afhanklik van ingevoerde lewende hawe wees. Die invoerwaarde van beeste het op ’n jaargrondslag met 128% toegeneem vanaf R277 miljoen tot R632 miljoen.
BRAAIHOENDERS
Die plaaslike prys van braaihoenders het op ’n jaargrondslag met sowat 6% gestyg, terwyl die slagsyfer met 10% vanaf 52 miljoen kuikens tot 57 miljoen toegeneem het. Die randwaarde van die invoer van hoendervleis het met 3,7% vanaf R1,46 miljard in die eerste kwartaal van verlede jaar gestyg tot R1,51 miljard in die eerste kwartaal van vanjaar.
Voëlgriep hou steeds ’n risiko vir braaihoenderproduksie in.
MIELIES
Die sterk rand en lae internasionale pryse het uitvoer beperk. Mielie-uitvoer het in die eerste kwartaal vanjaar met 28% in randwaarde gedaal. Teenoor uitvoer van R1,26 miljard in die eerste kwartaal van verlede jaar het Suid-Afrika in die eerste kwartaal van vanjaar slegs R910 miljoen se mielies uitgevoer. Die internasionale mielieprys het oor ’n jaartydperk met ’n geringe 1,4% gestyg, terwyl die rand 14% sterker is.
SAGTEVRUGTE
Die sterk rand het uitvoer beperk. Die uitvoerwaarde van steen- en kernvrugte het op ’n jaargrondslag met 14% gedaal. Dit stem ooreen met die persentasie waarmee die rand versterk het. Uitvoer het met R431 miljoen vanaf R3,1 miljard tot R2,6 miljard gedaal.
GROENTE
Die droogte in die Wes-Kaap het groenteproduksie, soos uie, geknel. Gevolglik het die uieprys met 110% tot R5 520/ton op die varsproduktemarkte gestyg. Die meeste groentepryse het egter op ’n jaargrondslag gedaal. Goeie produksietoestande en reënval elders het tot goeie oeste gelei.
SITRUS
Die meeste sitrus word in Junie, Julie en Augustus uitgevoer, met uitvoer wat dan meer as R3 miljard per maand beloop.
EIERS
Voëlgriep het ’n impak op eierproduksie gehad. Eierproduksie het in die eerste kwartaal met 9% gedaal vanaf 35,9 miljoen eiers tot 32,7 miljoen eiers teenoor ’n jaar gelede. Pryse het egter met 34% gestyg vanaf R13,30 per dosyn tot R17,76 per dosyn.
SUIKERRIET
Die sterk rand en lae internasionale prys het uitvoerpryse benadeel. Suid-Afrika het in die eerste kwartaal van verlede jaar R2,65 miljard se suiker en suikerprodukte ingevoer, en produkte ter waarde van R774 miljoen uitgevoer. Vanjaar is produkte van R1,36 miljard uitgevoer en produkte van R1,45 miljard ingevoer.
KORING
Die Wes-Kaapse droogte en lae internasionale prys het produksie geknou. Suid-Afrika het in die eerste kwartaal van vanjaar koring ter waarde van R1,43 miljard ingevoer, teenoor R1,06 miljard ’n jaar gelede.
LANDSKAP VERANDER
Die bedrywe wat tien jaar gelede ’n groot bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) gelewer het, het plek gemaak vir nuwe bedrywe weens onder meer veranderde verbruikersvoorkeure en nuwe kultivars. Sagtevrugte was tien jaar gelede die leier in randwaarde, maar dié bedrywe het gekrimp.
Tafeldruiwe, lemoene, appels en suurlemoene neem nou die voortou met produksiegroei.
Die topbedrywe in dié sektor, van groot tot klein, is sitrus, sagtevrugte, groente, aartappels, druiwe, subtropiese vrugte en neute.
By die akkerbougewasse maak mielies meer as 40% en met tye meer as 50% van die bruto produksiewaarde uit. Mielies as ’n stapelstysel se jaarlikse bydrae tot die BBP neem op lang termyn af, terwyl die belangrikheid van proteïenryke produkte, soos sojabone en lewende hawe, toeneem.
Braaihoenderproduksie, gevolg deur beesvleis- en suiwelproduksie, maak gesamentlik sowat 70% van die lewendehawesektor se uitsette uit. Die orige 30% word min of meer gelykop verdeel tussen die produksie van eiers, skape en bokke, ander lewende haweprodukte en varke, gevolg deur bokhaar.
Die vraag na goedkoper proteïene, soos eiers, styg. Suid-Afrika het ’n tekort aan rooivleis en voer toenemend lewende hawe in.
GEVOLGTREKKING
Droogtes sal verbygaan en die landbou sal herstel. Die landbou kan egter ’n baie groter bydrae lewer as Suid-Afrika met sy landbounavorsing en opleiding dieselfde standaarde kan handhaaf as sy oorsese mededingers.
Die land moet groter ondersteuning vir sy bedrywe beding, soos vir die koringbedryf. Suid-Afrika se biosekerheid vir lewendehaweproduksie moet aan uitvoervereistes voldoen en die staat moet die vermoë hê om dit reg te bestuur. Gunstiger ooreenkomste vir voorkeurhandel en uitvoer moet beding word.
Die land moet groter belegging in die landbou bevorder deur meer beleidsekerheid.
’n Land wat uitvoer, voorsien voldoende en goedkoop voedsel aan sy eie mense. Landbou-uitvoer én die beleid wat dit ondersteun, moet bevorder word.