Grootskaalse verstedeliking verg nuwe landbou- en voedselbeleid
Tensy Suid-Afrika grondhervorming gaan gebruik om die staat se besteding en beleid meer ten gunste van die landbou en voedselvoorsiening te verander, kan voedselsekerheid in die gedrang kom, veral in ’n toenemend verstedelikte omgewing.
Die groot debat oor grondhervorming omvat baie meer aspekte as om bloot die rasseverdeling van grondbesit te hervorm en “grondlose” mense toegang tot hul eie grond (nie stamgrond of staatsgrond nie) te gee. Dit raak ook ál duideliker dat stamgrond, grond in staatsbesit en veral grond wat grens aan stedelike gebiede die groter kwessies is. Dan is daar ook die druk om groter getalle nuwe, swart kommersiële boere te vestig.
Ek het in my vorige rubriek (“Landbou vereis samehangende beleid”, LBW, 15 Junie) gewys op die tekortkoming dat geen gesprek gevoer word oor die noodsaaklikheid van hervorming in landboubeleid nie. Volgens dié beleid word beoog om boere met boerderye van verskillende groottes suksesvol in die toekoms te probeer vestig. Ek het gewys op die elemente waaraan só ’n hersiene en oorhoofse nuwe landboubeleid aandag behoort te gee.
Die ander aspek wat nie duidelik bespreek word nie, is die doelwit van die landbousektor in suksesvolle ekonomieë: Om genoeg voedsame en bekostigbare voedsel te voorsien aan ’n bevolking wat toenemend verstedelik.
Daar is lande wat op groot skaal kos invoer en so ’n hoë mate van voedselsekerheid en lae vlakke van hongersnood bewerkstellig. Dié lande het egter groot surplusse op hul buitelandse handelsrekenings waarmee hulle vir ingevoerde kos kan betaal.
Suid-Afrika kan dit nie bekostig nie en het jaarliks buitelandse handelstekorte van R150 miljard tot R200 miljard, asook ’n tekort aan kapitaal. Die uitvoer van landbouprodukte oorskry tans die invoer. Nogtans is daar heelwat mense wat honger ly en onder die armoedsgrens in Suid-Afrika leef. Dit is ten spyte van jaarlikse welsyntoelaes van sowat R180 miljard wat onder meer grootliks bedoel is vir basiese behoeftes, soos kos.
Die GRAFIEK toon die begroting vir die volgende vier jaar vir maatskaplike toelaes. Die aantal begunstigdes waarvoor begroot word, gaan na raming styg van sowat 16 miljoen tot meer as 18 miljoen mense. Navorsing toon byna die helfte van die toelae word aan kos bestee. Dit is dus ’n onregstreekse stimulus vir die binnelandse voedselmark.
Nog ’n realiteit van Suid-Afrika is dat byna 70% van die bevolking na raming al verstedelik is en dat dié persentasie in die afsienbare toekoms vinnig gaan styg. Dié mense is heeltemal afhanklik van voedsel wat op winkelrakke beskikbaar is teen bekostigbare pryse, mits hulle die middele het om dit te kan koop.
Die feit dat Afrika teen ’n snelle tempo verstedelik, skep probleme met voedselvoorsiening. Die miljoene klein- en bestaansboere is egter nie gerat om in te skakel by ’n kommersiële aanbodketting nie, waar groter volumes produkte op ’n slag vereis word.
Die ANC se beleidmakers is ook geneig om oorsese konsultante te kry om hulle raad te gee oor ’n beleid vir kleinboere. Terloops, daar is heelwat wit klein- en deeltydse boere. Die feit is dat die meeste van die hulpbronne in Afrika suid van die Sahara van só ’n aard is dat ’n kleinboer op 5 ha vir sy gesin ’n bestaan kan maak. Die konsultante kyk dan egter na Suid-Afrika se oppervlakte en maak dieselfde som.
Daar was onlangs weer ’n nuwe slagspreukbeleid van 1 hektaar met een koei per gesin. En dít terwyl daar sover ek weet min grond in Suid-Afrika is met ’n drakrag van 1 GVE per hektaar – indien enige.
Die werklikheid is dat net minder as ’n miljard mense in die wêreld tans ondervoed is. Die meeste is in Afrika, veral in Afrika suid van die Sahara. Afrikalande is ook dié wat die grootste behoefte aan voedselsekerheid en -hulp het. Dit is meestal weens korrupsie
en gebrekkige landbou- en grondbeleid, ten spyte van die vasteland se puik natuurlike hulpbronne.
WÊRELD-HONGERINDEKS
Die Verenigde Nasies se Voedselen Landbou-organisasie (VLO) gee nogal heelwat aandag aan voedselvoorsiening en om honger in Afrika en Afrika suid van die Sahara te beperk.
Die TABEL gee ’n opsomming van enkele aanwysers wat onlangs gepubliseer is. Daarin word veral na honger gekyk en watter beleidsaspekte nodig is om toenemende verstedeliking en honger te takel. Die klem skuif dan ál meer na die werklikheid en die groter wordende kwessie, naamlik ondervoeding by kinders en mense wat honger ly. Dit is ’n toenemend stedelike probleem wat vinnig vererger.
Teen 2020 sal sowat 85% van die arm bevolking in Suid-Amerika na verwagting in stedelike gebiede woon. In Afrika gaan dié syfer meer as 50% wees. Dit weerspreek die ou mite en denke dat die armes op die platteland bly en dat hulle grond nodig het om armoede en/of honger te verlig.
Die toekomswerklikheid is anders. Die probleem van werkloosheid in stedelike gebiede sny dus diep en is een van die oorsake van onder- en wanvoeding. Daar is onthutsende navorsing wat die invloed van onder- of wanvoeding op die ontwikkeling van kinders se breine op ’n jong ouderdom toon, wat kan lei tot volwassenes met beperkte vermoëns.
Dit gaan dus in die volgende dekade of twee herbesinning verg oor die voorsiening- en aanbodketting van voedsel na stedelike gebiede. Die kos moet beskikbaar wees naby die plekke waar die mense woon en dit moet bekostigbaar wees.
Hoe word kleiner boere deel van die kommersiële voedsel-aanbodketting? Is groot supermarkgroepe die regte benadering of eerder kleiner familiebesighede, spazawinkels en straatsmouse wat kos (en werkgeleenthede) tot in die kleinste township voorsien? Daar is bevind dat straatsmouse (wat vir hulself werk skep) ’n belangrike rol in Suid-Afrika speel om groente en vrugte na die verbruiker te neem, maar beleid erken nie dié feit nie.
Navorsing wys dat namate mense verstedelik, die patrone van wat hulle eet, ook verander. Dit hou weer implikasies vir voedselproduksie en ’n gesonde voedingstatus in. Die sterk groei in die vraag na kitskos is die resultaat van die duur prys van energie om kos voor te berei. Dit lei egter ook tot ’n swakker voedingstatus, met meer onder- en wanvoeding by kinders.
Die geïdentifiseerde beleidsknelpunte strek redelik wyd, van gebrekkige beleid en navorsing tot die hele aanbodketting en bygaande doeltreffendheid om genoeg produkte in die ketting by kleinboere te kry, sonder om al die skaalvoordele te verloor.
Die tabel toon die rangorde van ’n aantal lande in Suider-Afrika, asook ander opkomende ekonomieë waarmee Suid-Afrika van tyd tot tyd vergelyk word. Die sogenoemde honger-indeks word saamgestel uit ’n aantal faktore en die tabel wys hoe dit oor die laaste dekade of twee meestal verbeter het. Suid-Afrika, met sy suksesvolle kommersiële landboubedryf en titelaktes vir die kommersiële landbou, beklee die eerste plek in die streek, maar haal slegs nommer 51 uit sowat 109 lande.
Die neiging kan sekerlik teenoor ander lande in die tabel beskryf word as redelik suksesvolle voorsiening van genoeg bekostigbare kos aan ’n ekonomie waar mense toenemend verstedelik.
Die laaste kolom toon staatsbesteding aan die landbou as ’n persentasie van die totale staatsbesteding. Dit gee ook ’n aanduiding van die belangrikheid van die landbou en voedselvoorsiening in die totale beleidsraamwerk. Suid-Afrika se lae persentasie van staatsteun aan die landbou spreek boekdele. Dit is net Angola wat minder steun aan sy landboubedryf bestee het. En dit is boonop ’n land wat veral op sy olie-inkomste staatmaak om voedsel ten duurste in te voer. Dié land se swak voedingstatus is ook duidelik te sien.