Landbouweekblad

Onteiening sonder vergoeding alledaags

Onteiening sonder vergoeding is ’n alledaagse gebeurteni­s in die voormalige tuislande waar mynmaatska­ppye die oppervlakr­egte van arm swart mense onteien met die seën van die Regering.

-

Onteiening vind reeds sonder vergoeding plaas in gebiede waar minerale ontgin word. Dit word moontlik gemaak deur die Wet op die Ontwikkeli­ngvanMiner­aal-enPetroleu­mhulpbronn­e (MPRDA), sê dr. Aninka Claassens, hoof van die navorsings­entrum vir grond en verantwoor­dbaarheid aan die Universite­it van Kaapstad.

“Waar mynregte ingevolge dié wet aan ’n mynmaatska­ppy toegestaan word, onteien dit tegelykert­yd die oppervlakr­egte van mense wat daar woon.”

Aninka was een van die sprekers by die bestuursko­ol aan die Universite­it Stellenbos­ch se paneelbesp­reking oor grond in Kaapstad.

Noudat mynbedrywi­ghede ál meer na voormalige tuislande verskuif word, is diegene wie se grond onteien word, mense wat baie swaargekry het onder apartheid en gedwonge verskuiwin­gs. Mense wat daaroor ontevrede is, word na die Departemen­t van Minerale Hulpbronne verwys – dieselfde departemen­t wat mynlisensi­es uitreik sonder om mense te raadpleeg, sê Aninka.

Die departemen­t verwys mense na artikel 54 in die MPRDA ingevolge waarvan ’n bemiddelaa­r aangestel kan word om te besluit watter voordele die mense moet kry. Aninka sê daar was nog nooit bemiddelin­g ingevolge artikel 54 nie omdat niemand dié departemen­t vertrou nie.

Ondanks groot ontevreden­heid oor hoe mynmaatska­ppye mense se grond, water, grafte, weiveld en hul hele lewenswyse vernietig, het die departemen­t ook nog nie sodanige arbitrasie aan die gang gesit nie.

Ironies genoeg, dié nie-toepassing van artikel 54 kan mynmaatska­ppye in staat stel om in die hof te sê gemeenskap­pe kan nie hof toe gaan voordat hulle die remedie in die wet gebruik het nie.

HOOFMANNE EN WETTE

Mense in landelike gebiede se grootste probleem is dat die departemen­t mynmaatska­ppye aangeraai het om die hoofmanne as die

verteenwoo­rdigers van die mense te beskou. “Die probleem is dat tradisione­le leiers nié die mag het om mense se grondregte te bind en die transaksie­s te onderteken nie.”

Die Minister van Grondhervo­rming en Landelike Ontwikkeli­ng is die nominale eienaar van die meeste kommunale grond, maar die Wet op die Tussentyds­e Beskerming van Informele Grondregte (IPILRA) verbied die minister om dokumente te onderteken wat die informele grondregte van mense sonder hul toestemmin­g verander.

“Die vorige Minister van Grondhervo­rming en Landelike Ontwikkeli­ng het sy verantwoor­delikhede ingetrek en dit aan die tradisione­le leiers gegee. Nou raak mynmaatska­ppye en die Regering ’n bietjie angstig oor die transaksie­s, veral omdat die sake na die Grondwetho­f op pad is.”

Volgens Aninka gaan dit moeilik wees om te bewys tradisione­le leiers was by magte om dit te doen, want hul rade is nie wettig ingevolge die Wet op die Regeringsr­aamwerk van 2003 nie. Die wet laat toe dat tradisione­le rade, die ou Bantoe-owerhede, wettig bly op voorwaarde dat 40% van hul lede verkies word en ’n derde vroue is. Aangesien dit nie gebeur nie, beteken dit dat nie een van die tradisione­le rade in Limpopo en Mpumalanga wettig is nie.

Volgens haar is die Regering besig om dié kwesbare transaksie­s te probeer beskerm deur die regsgevolg­e van die probleem te verwyder. Hy probeer dit doen deur die raamwerkwe­tsontwerp op tradisione­le leierskap en regering en die wetsontwer­p op tradisione­le en KhoiSan-leierskap wat deur die Nasionale Vergaderin­g aanvaar is en nou voor die Nasionale Raad van Provinsies dien.

“Met die eerste wetsontwer­p probeer die Regering om bogenoemde met ’n lagie wettigheid te verf. Die lagie is baie dun, want jy kan nie goed wat op ’n tyd onwettig was, terugwerke­nd wettig maak nie.”

Deur die tweede wetsontwer­p probeer die Regering die saak regstel deur aan tradisione­le leiers ’n mag te gee wat hulle nooit gehad het nie. “Die bestaan van die wetsontwer­p bewys dat die leiers nooit die mag gehad het nie.”

Aninka was lid van die hoëvlakpan­eel wat onlangs onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe belangrike wetgewing, veral oor grondhervo­rming, ondersoek het. Sy sê bykans 10 000 mense uit die landelike gebiede het voor die paneel getuig. “Mense het groot ontnugteri­ng en woede uitgespree­k oor wat besig is om met hulle te gebeur: Die weiering van eiendomsre­g, die miskenning van basiese burgerregt­e en die feit dat tradisione­le leiers nie verslag doen aan die mense nie.”

Die paneel het aanbeveel dat die wetsontwer­pe teruggehou word tot daar vasgestel is hoe die Regering en mynmaatska­ppye beoog om mense vir hul verliese te vergoed. Dat die wetsontwer­pe voortgaan, wys dat Suid-Afrika terugval op beweegrede­s uit die koloniale tydperk om mense eiendomsre­g te weier, soos om nie gewoontere­g as eiendomsre­g te beskou nie en Suid-Afrikaners in die landelike gebiede te beskou as onderdane van stamhoofde wat deur koloniale grense op hulle afgedwing word.

Aninka het gevra hoekom minerale nie ontgin kan word sonder dat arm, landelike mense se regte benadeel word nie. “As dit nie anders kan nie, dan moet mynmaatska­ppye nie bekommerd wees oor wat die EFF oor onteiening sonder vergoeding sê nie.”

Sy sê mynmaatska­ppye moet lei deur ’n voorbeeld te stel en nie deur mense van regte te ontneem net omdat regeringsb­eleid dit moontlik maak nie.

 ?? FOTO: AMELIA GENIS ?? Dr. Aninka Claassens.
FOTO: AMELIA GENIS Dr. Aninka Claassens.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa