Van oraloor
DIE groot verloorders in onteiening sonder vergoeding gaan Suid-Afrika se reeds gemarginaliseerde swart mense wees. Dít was die mening van drie sprekers op ’n geleentheid waartydens die Vryemarkstigting onteiening sonder vergoeding onder die loep geneem het.
Mnr. Themba Nolutshungu,
’n direkteur van die stigting, het gesê daar is ’n wanindruk dat onteiening sonder vergoeding slegs op wit mense gerig is. “Swart mense moet verstaan dat onteiening sonder vergoeding elke persoon gaan raak wat eiendom in Suid-Afrika besit. Tans het ons ’n Regering wat dalk op geoormerkte stukke grond klem lê, maar in die toekoms kan dit ontaard in ’n situasie waar ’n nuwe regering besluit om grond volgens stamverband op te eis, of volgens taal of herkoms. Ons kan nie toelaat dat dit gebeur nie,” het Nolutshungu gesê.
Die debat oor grond en veral onteiening sonder vergoeding het ontaard in ’n rasse-moddergooiery, het Nolutshungu gesê. “Wit mense durf nie hul mening daaroor lug nie, dan word hulle aangeval en beskuldig dat hulle die deugde van apartheid wil besing. Terselfdertyd word swart mense wat ook oor die kwessie wil debatteer, beskuldig van manteldraaiery en verraad.”
Dít terwyl die kwessie juis met intelligensie gehanteer moet word, want indien dit nie gebeur nie, loop Suid-Afrika die gevaar om ’n land te word waarvoor Nelson Mandela hom sou skaam, het hy gesê.
Benewens goedkoop politiekery om stemme vir volgende jaar se verkiesing te wen, glo Nolutshungu die beweegrede vir onteiening sonder vergoeding lê in wraak en jaloesie. “Dieselfde mense in magsposisies wat aandring op onteiening sonder vergoeding en beperkte besitreg, het reeds vir hulself sekere stukke grond geoormerk. Ek gaan dit waag om te voorspel dat indien die mosie van onteiening sonder vergoeding deurgevoer word, ons dit gaan sien gebeur,” het hy gesê.
Daar is ’n alternatief vir die blote onteiening sonder vergoeding, het Nolutshungu gesê. “Maak dit moontlik vir diegene wat reeds vir geslagte lank op staatsgrond bly om hul eie eiendom deur middel van titelaktes te besit. Dit kan baie maklik toegepas word. Hoewel dit bemoedigend is dat die Regering reeds die regte geluide in daardie opsig maak, is dit nog geensins gewaarborg dat dit gaan gebeur nie.”
UITSPRAKE OOR PRODUKSIE ‘ONSIN’
Nolutshungu het gewaarsku dat uitsprake van regeringskant af – naamlik dat onteiening sonder vergoeding nie voedselsekerheid in die gedrang gaan bring nie – is louter onsin. “Natuurlik gaan dit voedselsekerheid, produksie en gehalte in die gedrang bring. Indien die Regering die reeds produktiewe boere van hul grond verwyder en hulle vervang met mense wat geen snars van boerdery verstaan nie, gaan jou hele voedsel waardeketting indies lag bly. Dit is ’n teenstrydigheid en maak geen sin nie,” het hy gesê.
Die beskerming van privaatreg moet onaantasbaar wees, het Nolutshungu gesê. “Verwyder dit (privaatreg) en jy tas individuele vryheid regstreeks aan.”
Nolutshungu sê Suid-Afrika benodig nou leiers wat met integriteit en visie – wat nie op die kort termyn gerig is nie – kan lei. “Ons benodig leiers wat met doelgerigtheid die regte beleid volg en besluite neem tot voordeel van almal in Suid-Afrika in gedagte.”
UITEINDELIKE DOEL
Mnr. Terrence Corrigan , ’n navorser verbonde aan die Instituut vir Rasseverhoudings, het op sy beurt gesê navorsing deur die instituut wys dat tot 2% van respondente meen landbougrond sal hul lewe ekonomies verander.
“Die kwessie wentel dus nie soseer om grond as om eiendom self nie. Daar was sedert 2007 reeds 20 verskillende pogings om eiendomsreg deur middel van verskillende wetgewende veranderinge in te perk. Die uiteindelike doel is om die teenwoordigheid en diskresie van die staat in die ekonomie te vergroot.”
’n Bewys daarvan, sê Corrigan, is die staat se pogings om as voog vir alle landbougrond op te tree. “Indien dit deurgevoer word, hoef die staat nie die Grondwet te verander nie – en boonop nie ’n sent te betaal nie, aangesien hy bloot as voog optree en dus nie die grond besit nie. Die staat sal dan egter wél die laaste sê hê oor wat met die grond gedoen mag word.”
Corrigan sê ook die huidige kwessie oor onteiening sonder vergoeding skuif die klem weg van belangriker institusionele kwessies ten opsigte waarvan die Regering misluk het. Dit sluit sake in, soos ’n gebrek aan politieke dryfkrag om grondrestitusie te laat slaag, ’n gebrekkige projekontwerp, beperkte en onvoldoende finansiering, administratiewe onbevoegdheid, swak interdepartementele samewerking en’ n korrupte elite. “Onteiening sonder vergoeding gaan nie hierdie probleem oplos nie. Inteendeel, dit gaan dit net vererger,” het hy gesê.
GROND REEDS SONDER VERGOEDING ONTEIEN
Mnr. Leon Louw, uitvoerende direkteur en stigter van die Vryemarkstigting, het gesê swart mense se eiendom word steeds sonder vergoeding onteien. “Wanneer die Regering infrastruktuur, soos ’n pad of hoofweg wil bou, word die grond daarvoor onteien. Die eienaars van die grond, wat titelaktes besit, word daarvoor vergoed, maar diegene wat in nedersettings woon en nie die grond besit nie, se grond word eenvoudig sonder vergoeding afgeneem. Onteiening sonder vergoeding is dus niks nuuts vir Suid-Afrika se swart bevolking nie. Afgesien van die apartheidsregering se optrede word dit steeds toegepas .”
Louw het saamgestem dat titelaktes een van die antwoorde is om swart Suid-Afrikaners eiendom te gee. “Dit beteken dat ons vinnig 10 miljoen nuwe eienaars met grond ter waarde van amper R1 biljoen rand sal kan vestig.”
Hy het ook daarop gewys dat, indien die Regering ernstig was oor grondhervorming, hy lankal reeds die beskikbare landbougrond op die ope mark sou kon aankoop.
“Die totale waarde van alle kommersiële landbougrond in Suid-Afrika word op sowat R192 miljard geraam. Die helfte daarvan is reeds te koop.
“Pleks daarvan om dus ’n nuwe kragsentrale te bou en die begroting te oorskry met die koste, kan die Regering al hierdie beskikbare grond aankoop teen ’n fraksie van die prys, en ekonomiese transformasie in SuidAfrika teweegbring. Dit sal hulle baie min werklike kapitaaluitgawes kos,” het Louw gesê.