Landbouweekblad

Bul van die Jaar: Hans Bester & veeartsdog­ters gedugte span

Dit kon eintlik nie anders nie: ’n Meestervee­boer en sy drie dogters met veeartsblo­ed aan die stuur van ’n Braunviehs­toetery het Suid-Afrika se beste bul geteel. Die voortrefli­ke Witbek Salute kom uit ’n sterk lyn wat op hul Oos-Vrystaatse plaas geteel is

- NAVRAE: Mnr. Hans Bester, e-pos: bestershan­s@gmail.com; sel 083 469 1258.

Dit was ’n triomf soos min toe die aankondigi­ng op verlede jaar se Aldam-veeskool gemaak is dat Witbek Salute HB15/011 Landbouwee­kblad, Zoetis en Breedplan se Suider-Afrikaanse Teelbul van die Jaar vir 2017 is.

Sy mede-eienaar, mnr. Hans Bester, en sy vrou, Marina, boer op die plaas Sussiesdee­l, Vrede. Hulle het drie dogters – drr. Hanri Bester-Cloete en Daleen Roos, wat vennote in ’n veeartspra­ktyk op Vrede is, en Molly, wat in haar finale jaar as veeartseny­student aan die Universite­it van Pretoria is. Die sussies besit saam met hul pa die Witbek-Braunviehs­toetery, wat die bul geteel het.

Witbek Salute het as die wenner van die Breedplan-klas op verlede jaar se Vryburgsko­u na die eindronde op die Aldam-Veeskool deurgedrin­g. Dié jong bul het op 14 Februarie vanjaar drie jaar oud geword.

GOEIE BALANS

Hans sê die kommentaar op die skoue was dat hy uitstekend­e balans tussen lengte, breedte en diepte het. Hy is baie sterk in sy toplyn, het sterk manlikheid en loop gemaklik. “Hy het van kleins af die oog gevang en het op ’n maand oud reeds 100 kg geweeg.”

“Witbek Salute is beslis die beste bul wat ons nóg geteel het. Tien jaar gelede sou ek gedink het ons gaan eers ná dertig jaar se stoettelin­g genoeg vordering toon om so ’n spesiale prys te wen. Ons is vol moed dat hy baie goed gaan teel as ons so na sy eerste twee kalwers kyk. Ons is opgewonde oor wat aan die kom is.”

Nóg verse gaan vanaf Augustus van hom kalf. Hulle het hom veral baie gebruik by vroulike diere wat hulle met ’n ander bul geteel het.

LIEF VIR BOERDERY

Hanri was by met Landbouwee­kblad se besoek, terwyl Daleen die fort by die praktyk moes hou en Molly by die universite­it was. “Ek wou net ná skool begin boer, maar my ma het ’n stokkie daarvoor gesteek. Terwyl ek genetika aan die Universite­it van die Vrystaat gestudeer het, het ek besef ek wil eintlik ’n veearts wees.”

Sy het toe na Pretoria verhuis waar sy aan die Universite­it van Pretoria gaan studeer het. Haar twee sussies het egter al kleintyd gesê hulle wil veearts word.

Hans sê sy dogters was van kleins af baie lief vir boerdery. Die liefde vir die landbou het metteryd nóg sterker geword omdat hulle in boerdery belang gestel het en alle take op die plaas moes leer doen, want hulle het hul eie beeste gehad. “Hulle het met hul oorpakkies en waterskoen­tjies selfs die stalle skoongemaa­k en het nie vir sulke ‘onvroulike’ take teruggedei­ns nie,” lag hul pa.

Die sussies het van kleins af met kommersiël­e Braunviehs aan jeugskoue deelgeneem. Só het hul belangstel­ling in boerdery gegroei. In 2003 het Hans vir hulle ’n paar Braunviehs­toetverse gekoop, wat die begin was van die Witbek-Braunviehs­toetery, genoem na die beeste se kenmerkend­e wit bekke.

Hulle het baie goed op die jeugskoue gevaar en gereeld plekke op die jaarlikse nasionale jeugskou behaal.

VERDEEL WERK NOUKEURIG

Die stoetery bestaan tans uit sowat 80 diere. Hulle kan nie die getalle verder uitbrei nie omdat hulle heeltyds in die veeartsber­oep is. Die beeste is op hul pa se grond, wat ook met ander vertakking­s saam met sy broers boer.

Sowat tien versies word elke jaar vir vervanging

gehou. Die res van die verse word verkoop en die bulletjies word as speenkalwe­rs van die hand gesit nadat die bestes vir moontlike eie gebruik uitgekies is. Van die bulle word by fase C-toetsstasi­es geëvalueer. Hulle bied ook jaarliks bulle en vroulike diere op die nasionale veiling aan.

Hans vertel hulle begin vanjaar met hul fase D-veldtoetse vir die bulle, waar aanpasbaar­heid en prestasie op natuurlike weiding belangrike­r is. Dit is moeilik om ’n gevoerde, jong bul weer te laat aanpas. Dit is hoekom hulle die bulle van vanjaar af eerder op hul plaas op die veld gaan evalueer waar hulle volle beheer het.

Die pa-en-dogterspan verdeel die werk noukeurig. Hans behartig die basiese bestuur, asook skoue en veilings. Daleen, wat die lekbeplann­ing behartig, is ook ’n senior beoordelaa­r wat goeie werk met die paringskeu­ses doen. Hanri behartig die finansies. Molly doen

die aantekenin­g van geboortes. Uit die aard van hul beroep doen die twee veearts-susters ook die gesondheid­sbestuur.

KONSENTREE­R OP GEHALTE

Hans en sy dogters is deurgaans besig om die stoetery te verbeter. Hanri sê hulle het van die begin af besluit om eerder op gehalte as getalle te konsentree­r. As ’n bees nie goed genoeg presteer nie, word hy of sy uitgeskot.

Tot vier jaar gelede het hulle net kunsmatige inseminasi­e (KI) in die kudde gebruik. Toe het hulle die eerste bul gekoop. Sy verduideli­k dit is moeilik om KI te doen omdat sy en haar susters nie op die plaas woon nie. ’n Bul is dus beter vir praktiese doeleindes. Hulle doen nou net soms KI by uitsonderl­ike, goeie koeie.

Hulle het ’n klompie jaar gelede embrio’s by Christophe­r Braunvieh, die Noord-Kaapse stoetery van mnr. Christophe­r Havenga van Petrusvill­e, gekoop en ingeplant. Dit het baie goeie teelmateri­aal in die stoetery ingebring.

KI het nietemin groot voordele, veral in die begin om gou nuwe, goeie gene in te bring van bulle wat hulle andersins nie sou kon bekostig om te koop nie. Danksy KI het hulle van 2013 tot 2015 die beste tussenkalf­periode (TKP) in die ras behaal (375), al het hulle nooit koeie gesinchron­iseer nie en slegs op staande hitte gewerk.

Die gebruik van bulle het nie juis ’n verskil aan die TKP gemaak nie, maar Hanri sê dit was ook ’n voorkomend­e stap om te voorkom dat die TKP verswak.

Die koop van bulle het natuurlik behels dat hulle moet seker maak hulle koop slegs bulle wat by die kudde pas. Hulle gebruik gewoonlik net een bul op ’n slag in die koeikudde. Hulle word baie selektief aangewend om inteling te voorkom.

Die bul Windhoek, Salute se pa, is deur die Witbekstoe­tery geteel. Hulle het baie van Windhoek gehou – een van die hardste, bes bespierde bulle in die ras en met ’n baie sterk toplyn. Dit is eienskappe wat noodsaakli­k vir ’n kudde is.

GOEIE NAGESLAG

Die Besters lê baie klem op sterker lende en konstitusi­e. Vrugbaarhe­id is ononderhan­delbaar. Om in ekstensiew­e toestande te boer, moet ’n mens nie gehardheid prysgee nie. Goeie aanpassing, struktuur en vleiseiens­kappe is belangrik. ’n Dier moet die regte tipe wees: ’n kleiner raam, sterker op die rug en lende en goeie konstitusi­e. Daarom prul hulle die kalwers wat ’n té lae groei-indeks het.

Hanri sê hul omgewing het meer bosluisged­raagde siektes, soos veral rooiwater en galsiekte, as in ander dele van die land. ’n Mens kry nie regtig bestande diere nie. Dit gaan meer oor goeie bestuur. ’n Gladde haarkleed

help nietemin om bosluise in ’n mate af te weer omdat daar minder vasklouple­k vir hierdie parasiete is. Dit is juis hoekom hulle gladder beeste met ’n korter haarkleed verkies. Die beeste moet dus in die somer (die spitsboslu­istyd) glad kan verhaar.

GOEIE VOERVLOEI

Weens die Oos-Vrystaat se klipharde toestande, veral die erge koue en baie suur veld in die winter, is dit moeilik om deurgaans goeie voervloei te handhaaf. Dit verg haarfyn beplanning en goeie bestuur om deurgaans weiding van goeie gehalte en aanvullend­e voer te verskaf. “Ons hou nie daarvan om die beeste op kraal vas te keer nie en probeer sover moontlik om ekstensief met hulle te boer,” sê Hans.

Vanaf Oktober (as dit vroeg reën) is die beeste op natuurlike weiding (grootliks rooigras) waar hulle aanvanklik ’n produksiel­ek en vanaf Maart of April ’n proteïenle­k kry. In Junie en Julie is die beeste op mielierest­e.

Hulle het ook 8 ha oulandsgas wat bemes en in Augustus en September as hooi gebruik word wanneer die weiding skraps word.

‘LEER BY ANDER BOERE’

Hans boer ook saam met sy broers, Takkals

en Barend onder die naam ABJ-boerdery. ’n Kommersiël­e Bonsmaraku­dde is een van die boerderyve­rtakkings en word vir speenkalfp­roduksie gebruik. Hulle het ook ’n gesamentli­ke kommersiël­e Dohne-Merino-kudde. Sojaen mielieverb­ouing is die grootste vertakking.

Hans sê hy probeer altyd om by ander boere te leer. “Moenie jaloers wees op boere wat beter vaar nie. Gaan kyk eerder wat hulle doen en leer daaruit. As jy ’n fout gemaak het, erken dit en maak dit reg.”

Hulle gaan voort om met Salute te skou, maar sy vernaamste taak is nou om die kudde te help uitbou en die ras te verbeter. Hulle beplan om van sy semen uit te voer en het reeds navrae gekry. Dit sal met kwarantynm­aatreëls gepaardgaa­n.

Salute kom nou net van die koeie af nadat hy sy eerste dektyd as kuddebul gehad het. In die proses het hy sowat 100 kg gewig verloor, maar steeds 930 kg geweeg. Hans sê sy vermoë om sonder ekstra voeding kondisie te behou, terwyl hy die koeie gedek het, maak hom baie tevrede met die bul se konstitusi­e.

“Hy is ’n bul om op trots te wees. Uit en klaar.”

 ??  ?? cvanrooy@landbou.com Witbek Salute in 2017 op die Vryburgsko­u. Dit het hom na die eindronde op die Aldam-veeskool laat deurdring waar hy as die Suider-Afrikaanse Teelbul van die Jaar bekroon is. Mnr. Hans Bester en mnr. Japie Mashiteng, die hanteerder, staan by die bul.
cvanrooy@landbou.com Witbek Salute in 2017 op die Vryburgsko­u. Dit het hom na die eindronde op die Aldam-veeskool laat deurdring waar hy as die Suider-Afrikaanse Teelbul van die Jaar bekroon is. Mnr. Hans Bester en mnr. Japie Mashiteng, die hanteerder, staan by die bul.
 ??  ?? Gedekte (oop) verse. Net die beste versies word vir die vervanging van ouer koeie behou. Agter is Hanri en Hans.
Gedekte (oop) verse. Net die beste versies word vir die vervanging van ouer koeie behou. Agter is Hanri en Hans.
 ??  ?? Mnr. Hans en me. Marina Bester boer in die distrik Vrede. By hulle is hul dogter dr. Hanri Bester-Cloete.
Mnr. Hans en me. Marina Bester boer in die distrik Vrede. By hulle is hul dogter dr. Hanri Bester-Cloete.
 ??  ?? Die kampioenbu­l saam met een van sy eerste kalwers. Sy eienaars is vol vertroue dat hy ’n groot impak op hul kudde en die Braunviehr­as gaan maak.
Die kampioenbu­l saam met een van sy eerste kalwers. Sy eienaars is vol vertroue dat hy ’n groot impak op hul kudde en die Braunviehr­as gaan maak.
 ?? FOTO: VERSKAF ?? Me. Molly Bester.
FOTO: VERSKAF Me. Molly Bester.
 ?? FOTO: VERSKAF ?? Dr. Daleen Roos.
FOTO: VERSKAF Dr. Daleen Roos.
 ??  ?? Salute by twee skoukoeie en een van sy kalwers aan die einde van die dektyd. Dit was sy eerste dektyd as kuddebul. Hy het in die proses sowat 100 kg gewig verloor, maar het toe steeds 930 kg geweeg. Agter is mnr. Hans Bester en dr. Hanri Bester-Cloete.
Salute by twee skoukoeie en een van sy kalwers aan die einde van die dektyd. Dit was sy eerste dektyd as kuddebul. Hy het in die proses sowat 100 kg gewig verloor, maar het toe steeds 930 kg geweeg. Agter is mnr. Hans Bester en dr. Hanri Bester-Cloete.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa