WAT IS ONS BYDRAE?
Die omvang van die gemors in Suid-Afrika vang ’n mens van tyd tot tyd.
Verlede naweek was my broer in die situasie dat hy nie Sondagaand op die plaas kon kom van Oos-Londen af nie. Dordrecht se hoofstraat is met brandende bande versper en voertuie met klippe bestook. Dieselfde het by Lady Frere gebeur. Sy enigste opsie was om die aardige ompad oor Jamestown te ry.
Waaroor het dit gegaan? Niemand weet nie. Dit kan deel wees van die ANC se provinsiale magstryd of die EFF wat amok maak of gewone mense wat genoeg gehad het van sukkel. Wie weet? Dié oproerigheid het nie eens die nuus gehaal nie. My broer was nie té ontsteld nie, want dit is maar hoe dit op die afgeleë platteland gaan.
Later in die week lees ek ’n storie deur Piet van Heerden, ons Noordwes-korrespondent, oor ’n nuwe hommeltuig van R350 000 wat Schweizer-Reneke se boerevereniging gekoop het om nagpatrollies mee te doen. Dit het gevolg ná die ontvoering van en moord op mev. Elsa Erasmus van Amalia. Toe bure laatmiddag onraad vermoed het, was haar huis reeds verlate en die nagtelike soektog na haar tevergeefs. Haar lyk is die volgende dag gevind.
Elsa is die elfde mens wat in die distrik Schweizer-Reneke op ’n plaas vermoor is, en dit was die 47ste plaasaanval in die distrik. Nou het die boere ’n hommeltuig wat mense in die nag met ’n hittebeeld kan opspoor. Met die operateur wat in ’n bakkie volg, het die hommeltuig ’n onbeperkte vliegafstand. Dit is ’n wêreldklasoplossing vir ’n probleem wat nie behoort te bestaan nie.
Die omstandighede wat gewone mense elke dag moet verduur, dreig om jou onder te kry. Die basiese goed is nie reg nie. Funksionele skole en hospitale, aanvaarbare paaie, doeltreffende misdaadvoorkoming, dieregesondheid, ’n goeie polisiediens en die ontsluiting van ekonomiese potensiaal is meestal afwesig, veral op die platteland. Suid-Afrika se munisipaliteite is ’n wanfunksionele skande, en geen haan kraai daaroor nie.
Die totale afwesigheid van enige verantwoordelikheidsin vang jou. Prof. Jan Bonsma het daardie besef so goed verwoord as “die skuld waarmee almal teenoor hul gemeenskappe gebore is”. Die geniale prof. Bonsma het sy lewe daaraan aangewy om dié “skuld” terug te betaal. Met die Bonsmarabeesras as sy nalatenskap het hy meer as sy deel gedoen.
Wat sou die oubaas tog gesê het van die traak-my-nie-agtigheid waarmee ons land bestuur word?
’n Boer van Somerset-Oos in die Oos-Kaap het R2,5 miljoen betaal vir die oordrag van ’n buurman se waterregte waarmee hy 50 ha sitrusboorde wou vestig. Dit sou 40 heeltydse en 200 seisoenale werksgeleenthede geskep het in ’n gemeenskap met ’n baie hoë werkloosheidsyfer. Maar toe kom die Departement van Water en Sanitasie en besluit lukraak die koopkontrak is teenstrydig met die Nasionale Waterwet. Sommer net so, en dít ondanks ’n omsendbrief wat die direkteur-generaal van die destydse Departement Waterwese en Bosbou in 2001 uitgereik het wat dié praktyk bekragtig.
Die departement meen hy hoef nie eens die saak met die boer te bespreek nie. Finish en klaar. Die gevolg? Nie ’n nuwe beesras nie, maar eerder ’n duur hofsaak waarin die staat met belastingbetalers se geld baklei teen die einste mense wat amptenare se ruim salarisse betaal met van die hoogste belastingkoerse ter wêreld. Hoe maak dit sin?
Ja, sommige dae vang dit jou net. — CHRIS BURGESS