Landbouweekblad

GAAN GENOMIKA NIE TE VER NIE?

- GIELIE DE KOCK Witsand

Die briewe van Johann Zietsman (“Probeer natuur reg ‘lees’ ”, LBW, 15 Junie 2018) en dr. Japie van der Westhuizen (“Beesboere móét op die hoogte bly”, LBW, 25 Mei 2018) het betrekking.

Sedert ek in die laat 1960’s begin boer het, het die registrere­nde bedryf (telersgeno­otskappe, SA Stamboek en die Landbounav­orsingsraa­d) baie verander. Koeikaarte is met rekenaarpr­ogramme vervang en briewe met e-posse.

Wat egter kommerwekk­end is, is dat die getal aangeteken­de diere verminder het.

Ons het wel mettertyd goeie vordering gemaak met prestasiet­oetsing deur bulle met ’n beproefde nageslag te gebruik.

Maar word teling nie nou te ver gevoer met genomika nie? As dit waar is dat jy ’n dier se kans om goed te presteer, met DNS kan bepaal, is teling mos nou net papierwerk, wat sekerlik nie die geval is nie. In die verlede is baie aan my gesê: As jy op papier wil teel, sal jy die diere deur die pos moet verkoop, bedoelende dat hulle nie goed sal lyk nie. ’n Vriend van my het drie bulkalwers genomies laat ontleed. Omdat daar op die betrokke dag meer as een kalf gebore is, moes hy die moederskap met DNS laat bepaal. Groot was sy verbasing dat die kalf met die beste ontleding, die swakste moeder het.

Wie gaan nou die bul koop as hy die stamboom sien?

’n Regte stockman het iets wat die wetenskap nooit sal kan vervang nie: Hy kan sien en waarneem en dan ’n besluit neem wat waarde het.

Jersey SA se diergetall­e het afgeneem van 90 000 tot minder as 50 000. Waarom? Waarde vir geld, is die antwoord. Telers kan inligting maklik via die internet bekom. In die verlede het ons as ’n familie gewerk. Nou is dit elkeen vir homself. Op die afgelope algemene jaarvergad­ering was daar glo net 13 lede, waarvan seker vyf raadslede was. As dit nie ’n slegte beeld vir registrasi­e is nie, weet ek nie.

Ons melkboere sal egter moet organiseer om te weet hoeveel melk ons lewer en gáán lewer. Dit is ons bedryf, en ons moet die vraag en aanbod beheer. Ons het te lank toegelaat dat die huisvrou melk bloot as ’n wit vloeistof ken. Die vet-, proteïen- en kalsiuminh­oud is nog nooit onder hul aandag gebring nie.

Die aangewese ding vir ’n koue skoolkind is ’n glas warm, volroom Jerseymelk. Sit ’n kaastoebro­odtjie daarby, en die eksamenuit­slae sal jou verbaas.

Ons moet sorg dat ons telers saam oor die toekoms besluit oor die dinge wat werk, al staan dit nie in wetenskapl­ike aantekenin­ge nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa