DIERE KÁN PYN VOEL
Die bydrae “Diere & emosie” (“Manie”, LBW, 8 Junie 2018) het betrekking.
Dit is goed om te sien die etiek van diereproduksie en die mense se karnivoriese geneigdheid word in ’n landboutydskrif bespreek. Manie is braaf om te waag om van mense en groepe soos Peta te verskil wat bekend is vir hul onortodokse protes
en dat hulle nie juis verskille met hulle duld nie.
Ek moet egter sê die punt dat diere nie soos mense dink en by implikasie nie soortgelyke ervaringe k-an ervaar nie omdat hul brein nie dieselfde is nie, kan nie ongekwalifiseerd bly nie.
Die punt behoort eerder te wees dat diere, soos soogdiere, ’n soortgelyke senuweestelsel het wat pynstimuli registreer en wat van ervaring van trauma kan getuig. Ons brein, anatomie en fisiologie is sekerlik nie dieselfde nie, maar daar is talle aanduidings dat die mens diere aan ervarings onderwerp wat ons onsself spaar, maar wat hulle soortgelyk as ons ervaar.
Ek self eet lekker vleis, maar ’n kind het eenmaal ’n ete vir my bederf toe hy gesê het die bul en koei is ’n gesin en ons mag hulle nie van mekaar wegneem nie. Toe hy nie wou eet nie, was my aptyd ook sommer weg.
Ek dink alles kondig net die koms van ’n nuwe generasie aan wat wil sê: Die diere het die mensdom evolusionêre treë help neem. Met hul vel, vleis en been het hulle ons gevoed, beskut en beskerm. Hulle het ons tot by en in beskawing gehelp. Nou het ons egter hul habitat vernietig en hulle is op ons aangewese.
Die tyd het aangebreek vir die mensdom om die volgende tree na volwassewording te gee deur nou diere te eer en vir hulle verantwoordelikheid te aanvaar. Een ding is seker: Dit gaan nie maklik wees nie!