‘GRONDWET NIE DIE PROBLEEM’
DIE grondkrisis kan opgelos word sonder om die Grondwet te verander, sê die vakverbond Cosatu, die ANC se belangrikste alliansievennoot.
Daar moet eerder ’n klousule by die wetsontwerp oor onteiening gevoeg word rakende die omstandighede op grond waarvan vergoeding nie geld nie of wanneer markwaarde betaal moet word.
In ’n striemende aanval op die Regering het die vakverbond gesê dit is onvergeeflik dat miljoene Suid-Afrikaners steeds in ellende in informele nedersettings woon. Dit is 105 jaar sedert die Wet op Naturelle-grondbesit op 19 Junie 1913 in werking getree het en plaaswerkers – diegene wat die grond bewerk – het steeds nie verblyfsekerheid nie.
Cosatu sê sedert 1994 het die krisis vererger en ten spyte van die Regering se pogings, asook miljarde rande wat reeds bestee is, is die meeste plaasgrond steeds in wit mense se hande. Cosatu sê ’n veelvoudige benadering is nodig om die skeefgetrekte eienaarskappatrone van grond te verander om dit gebalanseerd en volhoubaar te maak.
MAAK SÓ
Net soos op die onlangse ANC-grondberaad stel Cosatu voor dat wetgewing duidelik moet aandui binne watter raamwerk vergoeding moet plaasvind al dan nie. Die vakverbond noem dié spe- sifieke grondkategorieë:
Ongebruikte grond; verwaarloosde grond met afwesige eienaars; grond wat in onbruik is en vir produktiewe openbare gebruik aangewend kan word; staatsgrond; grond wat histories deur huurarbeiders bewoon word; grond waarvan die waarde kunsmatig verhoog is weens belegging deur die staat; grond wat vir spekulasie gehou word; grond wat aan die Regering geskenk is; grond wat gedurende die apartheidsjare onteien is, waar markwaarde nie aan die oorspronklike eienaar betaal is nie en waar die huidige eienaar dus bevoordeel is; en grond van eienaars wat voordeel getrek het uit lenings gedurende die apartheidsera, soos boere wat lenings teen minder as markwaarde gekry het en nou markwaarde as vergoeding vra.
DUIDELIKE MANDAAT
Cosatu meen die Grondwet kan nie die skuld kry vir die Regering, grondeienaars en die samelewing se mislukking om te transformeer nie. Hy glo artikel 25 van die Grondwet gee die Regering ’n duidelike mandaat. “Dit bring eiendomsregte tot stand, waaronder die reg op vergoeding wanneer grond onteien word, maar dit verplig ook die Regering om grondhervorming en -restitusie te bevorder.
“Dit verplig die Regering om verblyfsekerheid aan die ontneemdes te bied en dui aan dat eiendomsregte nie hierdie omvattender transformasiemandaat kan verhinder nie.”
—