SONDER OPTREDE WAG NÓG ’N BRANDRAMP
DIE Knysna-gebied kan weer deurloop onder ’n brandramp soos die een wat verlede jaar duisende hektaar in puin gelê het as grondeienaars nie dringend van indringerplante ontslae raak nie.
Etlike kenners het presies ’n jaar ná die verwoestende brand, wat 22 000 ha se plantegroei vernietig het, op ’n beraad in Knysna gewaarsku oor die gevare wat spesies soos swartwattel, swarthout, rooikrans, portjackson, stinkboon, denne- en bloekombome vir die omgewing en vir die volhoubaarheid van die landbou in dié gebied inhou.
Op die beraad, aangebied onder die vaandel van die inisiatief vir Suid-Kaape grondeienaars (SCLI), is grondeienaars gewaarsku dat hulle self verantwoordelikheid moet antvaar vir die uitroei en vernietiging van indringerplante op hul grond.
Mnr. Japie Buckle van die Departement van Omgewingsake se direktoraat vir natuurlikehulpbronbestuur het gesê sy departement sal koördineer en help waar hy kan.
GRONDVRUGBAARHEID
Hy het grondeienaars ook gemaan om brandbane op hul grond te oorweeg. “Daar word aanvaar dit kos baie geld en party mense kan dit nie bybring nie. Ons standpunt is dat ons moet kyk hoe ons mekaar kan bystaan.
“Almal besef hoe gevaarlik (indringerplante) is. Dit gebruik ons water, dit is ’n groot brandgevaar vanweë van die hoër ‘brandstoflading’ en dit bedreig biodiversiteit.
“Die volgende ramp wag op ons. Dit kan môre gebeur. Daar waar dit gebrand het, is dit kaal. Dié dele is vir die volgende vyf jaar skoon. As ’n brand nou moet ontstaan in die gebiede om 2017 se brandletsel, is daar ’n massiewe probleem,” het Buckle gesê.
Buiten die brandgevaar en hoë watergebruik van hierdie plante verlaag dit ook die grondvrugbaarheid.
Buckle het gewys op die moontlikhede vir sekondêre bedrywe uit indringerplante, soos die vervaardiging van kompos, bio-kool, houtskool, brandhout, grondbedekking en meubels.
MOED GEBREEK
Mnr. Cobus Meiring, voorsitter van die SCLI, sê ’n steekproef in die Rheenendal-gebied het getoon heelwat van die boere het soveel skade gely dat hulle nie meer wil boer nie. Veral infrastruktuur, soos heinings en skure, asook voertuie, is beskadig.
Mnr. Carl Stoltsz, ’n onkruidbekampingskenner van Arysta, het Buckle se waarskuwing herhaal en gesê daar was al voorheen pogings om die indringerprobleem aan te pak. Hy sê mense wat onkruiddoders teen indringerplante, wil inspan, moet dit verantwoordelik doen en byvoorbeeld seker maak die middels wat hulle gebruik, vernietig nie gras nie, want gras is belangrik om grond te bind.
Grondeienaars moet ook waak dat indringerplante nie die oorhand kry in ’n bepaalde gebied nie. As die grootte en omvang van die plante vermeerder, moet die bestrydingsmaatreëls ook toeneem.