Landbouweekblad

SUID-AFRIKA SE EIE KULTIVAR BULT SY SPIERE

- — LUCILLE BOTHA

NAVORSING, bemarking en kennisoord­rag het gehelp om Pinotage die afgelope dekade een van die gewildste rooiwyn-kultivars in Suid-Afrika te maak.

Pinotage is die enigste rooiwynkul­tivar waarvan die aanplantin­gs die afgelope dekade toegeneem het. Dit staan nou op 6 979 ha. Die verkoopsyf­ers is selfs indrukwekk­ender, want sedert die eeuwisseli­ng het plaaslike verkoopsyf­ers van 3 miljoen liter per jaar gestyg tot meer as 5 miljoen liter per jaar. Uitvoer het sedert 2001 van net meer as 8 miljoen liter gegroei tot bykans 19 miljoen liter. Dit het verlede jaar bykans R500 miljoen tot die plaaslike ekonomie bygedra.

“Die Pinotage-mark ontplof. Teen sowat 24 miljoen liter per jaar is dit een van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se sprokiesve­rhale, en dit lyk nie of die goeie tye enigsins binnekort tot ’n einde gaan kom nie,” lui ’n verklaring van die Pinotage-assosiasie.

“Die verbeterde gehalte en aanloklikh­eid van die kultivar was veral in die afgelope dekade opvallend.”

WYNMAKERS WOEKER

Mnr. Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage-assosiasie, sê die sukses kan veral aan kundige wynmakers en goeie bemarking toegeskryf word.

“Veral die jonger wynmakers is meer berese en kry met meer wynstyle te doen. As ek ’n Engelse uitdrukkin­g kan gebruik, hulle is meer in sync met hul terroir en maak wyne wat pas by hul gebied se grond en klimaat. Dit het enorme verbeterin­g in die gehalte gebring.”

Die Pinotage-assosiasie, ondersteun deur geldelike bydraes van Absa, het ook hard gewerk om Pinotage aan verbruiker­s in Suid-Afrika en in die buiteland te bemark.

“Dit help nie jy maak hierdie wonderlike wyne, maar niemand weet daarvan nie. In die algemeen bemark ons lede nie net hul eie handelsmer­ke nie, maar hulle besef ook hoe belangrik dit is om die kultivar generies te bevorder.”

GROEI, ORAL

Pinotage-verkope in Suid-Afrika se grootste uitvoermar­kte, Brittanje en Duitsland, het tot onderskeid­elik 5 miljoen liter en 5,4 miljoen liter gegroei. In 2001 was dié syfers onderskeid­elik 3,5 miljoen liter en 0,8 miljoen liter. Nuwe markte wat potensiaal toon, is China en Rusland, waar daar tans onderskeid­elik 2,6 miljoen liter en 1,5 miljoen liter Pinotage verkoop word.

Truter sê die prys wat wynmakers vir Pinotage-druiwe betaal, het ook tred gehou met die vooruitgan­g.

“Ons wil steeds na maniere kyk om die totale Pinotage-omset te verdubbel. Dis ons mikpunt dat die primêre produsent meer verdien vir sy produk sodat dit kan deursypel na die werker toe.”

Hy sonder Stellenbos­ch steeds uit as die bakermat van goeie Pinotage, maar sê daar is ook ’n besliste verskuiwin­g na ander gebiede, soos dele van die Paarl en Wellington.

“Dit maak my baie bly dat (Pinotage van) ander gebiede, met hul unieke style en smake, ook presteer in die Absa Pinotage Top-10-wynkompeti­sie.”

 ??  ?? Kanonkop se Pinotage maak gereeld sy verskyning in die Absa Top10kompe­tisie.
Kanonkop se Pinotage maak gereeld sy verskyning in die Absa Top10kompe­tisie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa