Landbouweekblad

GRONDHERVO­RMING: RPO SE STANDPUNT DUIDELIK

-

DIE Rooivleisp­rodusente-organisasi­e (RPO) het sy standpunt oor grondhervo­rming omskryf in ’n voorleggin­g aan die komitee wat die moontlike wysiging van artikel 25 van die Grondwet hersien.

Volgens mnr. Gerhard Schutte, hoofbestuu­rder van die organisasi­e, erken die RPO in sy voorleggin­g dat die patroon van grondbesit en -gebruik in die verlede ongelyk en onregverdi­g was. Dit het ook tot die huidige ernstige vlakke van armoede en ongelykhei­d in die algemeen en onder vroue in die besonder bygedra.

Hy sê die Suid-Afrikaanse Grondwet (Wet 108 van 1996) vereis van die Regering om redelike wetlike en ander maatreëls binne sy beskikbare bronne aan te wend om toestande te skep wat burgers in staat sal stel om op ’n gelyke grondslag toegang tot grond te hê.

“Verder maak die Grondwet daarvoor voorsienin­g dat geen voorskrift­e in artikel 25 die staat beperk om wetlike en ander maatreëls in te stel om grond, water en verwante hervorming te bewerkstel­lig om die gevolge van die historiese verlede op te los nie.

“Die RPO ondersteun artikel 25 omdat dit ’n organisasi­e is wat grondwetli­kheid aanhang,” sê Schutte.

Hy het sekere aspekte in die voorleggin­g beklemtoon wat vir sy organisasi­e belangrik is. Dit is die volgende:

Die RPO is in die belang van Suid-Afrika en die landbou verbind tot grondhervo­rming en ander hervorming­s om gelyke toegang tot natuurlike hulpbronne te bewerkstel­lig.

Die RPO glo in ooreenstem­ming met die Grondwet aan sekerheid van verblyfreg en dat die begunstigd­es van grondhervo­rming grond moet bewoon, besit en op so ’n manier gebruik dat hulle betekenisv­olle sekerheid van verblyfreg op die eiendom sal hê.

Die RPO dring daarop aan dat die Regering die maatskapli­ke, ekonomiese en omgewingsr­egte van alle burgers sal eerbiedig, beskerm en bevorder om in die basiese behoeftes van voorheen benadeelde gemeenskap­pe te voorsien.

Die RPO, die burgerlike gemeenskap en ander organisasi­es vereis dat die staatsligg­ame hul funksies ten opsigte van grondhervo­rming ywerig sal uitvoer en op só ’n manier dat dit tot voordeel van die hele Suid-Afrika is.

VOORLEGGIN­G

’n Verkorte deel van die RPO se voorleggin­g lui soos volg:

“Die gees van Suid-Afrika se Grondwet word in die voorwoord vervat en kan opgesom word as ’n poging om die wanbalanse van die verlede uit die weg te ruim, dus is dit transforme­rend van aard. Die doel van die Grondwet was nooit om strafmaatr­eëls in te stel nie, aangesien dit op waardes gebaseer is en nie op reëls nie.

“Die Grondwet bevat geen definisie van die verskillen­de soorte eiendomme in Suid-Afrika nie. Artikel 25 van die Grondwet is op alle eiendom van toepassing, ongeag of dit plaasgrond, kommersiël­e plaasgrond, kommunale grond of eiendom in stedelike woongebied­e is. Daar word ook verwys na ander eiendom as grond. Artikel 25 is uiteraard omvattend en dit maak nie net vir een of twee soorte eiendom voorsienin­g nie, maar vir alle eiendom.

“Verder kan artikel 25, soos vervat in hoofstuk 2 van die Handves van Menseregte, nie afsonderli­k beskou word nie, maar dit moet saam met verskeie ander afdelings van die Grondwet gelees word.

“Grondhervo­rming in ooreenstem­ming met die beginsels van die Grondwet is ’n komplekse oefening wat baie regeringsl­iggame betrek. Dit verg daarom konsultasi­e in ’n gees van korporatie­we regering. Om slegs een klousule van die Grondwet te verander sal nie die probleme van die verlede oplos nie. Dit is iets wat deur die geskiedeni­s van grondhervo­rming bewys word.

MISLUKKING­S MET HERVORMING SEDERT 1994

“Suid-Afrika het meer mislukking­s as suksesse met grondhervo­rming behaal. Dit kan toegeskryf word aan die verskillen­de benadering­s tot grondhervo­rming wat tot dusver gevolg is. Politieke alliansies en die verryking van sekere elitegroep­e (veral in mineraalry­ke gebiede), pleks van pogings om strukturel­e ongelykhed­e ten opsigte van die eienaarska­p en beheer oor grond reg te stel, is die belangriks­te redes waarom onlangse grondhervo­rmingsbele­id misluk het.

’N GRONDOUDIT IS BELANGRIK

“Die gebrek aan voldoende bewyse oor grondbesit is ’n hindernis in die weg van grondbelei­d. Dit is nou belangrike­r as vantevore dat beleid gerugsteun word deur feite. Argumente oor grondbesit word al vir te lank op persepsies pleks van op feite gebaseer.

“Daar is geen betroubare syfers oor grondbesit in Suid-Afrika nie. Om dié probleem op te los, het Agri SA en sy bondgenote beklemtoon dat dit van kritieke belang is dat die beleidsdeb­at oor volhoubare grondhervo­rming op betroubare data gebaseer moet wees. Kortliks beteken dit dat enige debat wat sonder ’n grondoudit onderneem gaan word, ’n mislukking sal wees.

‘Die doel van die Grondwet was nooit om strafmaatr­eëls in te stel nie, aangesien dit op waardes gebaseer is en nie op reëls nie.’

DEFINISIE VAN ‘ONBENUTTE GROND’

“Toe die debat oor die onteiening van grond sonder vergoeding begin het, is daar na die onteiening van onbenutte grond verwys. Daar is egter nêrens ’n definisie oor onbenutte grond in landelike of platteland­se gebiede nie.

“Veeboerder­y behels dat verskillen­de weidingsme­todes aangewend word om die maksimum produksie te behaal en dit mag die wanindruk skep dat grond nie benut word nie. Sonder ’n duidelike omskrywing van onbenutte grond, is die gebruik van ’n eenvoudige term onaanvaarb­aar.

BEGROTINGS­TOEKENNING

“Om prosedures vir die toekenning van grond in werking te stel sal die Regering nie net ’n sleutelrol moet speel om strukture aan te pas om beleggings aan te moedig nie; ’n kapitaalin­spuiting in programme sal ook nodig wees.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa