DIE ‘ONBREEKBARE’ LANZ Ás dit gebreek het, moes die boer dit self kon herstel.
Baie Suid-Afrikaners ken die Duitse Lanz Bulldog-trekker, die grysblou eensilindertrekker waarvan die aanskakelmetode ’n soort ‘toeskouersport’ op skoue van veteraan-plaasmasjinerie is.
Hoewel dié unieke trekker sy ontstaan net minder as ’n eeu gelede gehad het, is die organisasie wat Lanz-produkte vervaardig het, veel vroeër in Mannheim gestig. Dit was toe Heinrich Lanz in om en by 1860 besef het die groeiende Duitse stedelike bevolking se behoefte aan kos is groter as die Duitse boere se produksie. Boonop was Sentraal-Europa ’n reusemark vir die invoer van landboumasjinerie en misstof uit Engeland.
Die Lanz-organisasie het vinnig gegroei. Lanz het egter nie net op invoer staatgemaak nie, en algaande sy eie produkte, soos ’n konvensionele Lanz-trekker, ontwerp en gebou. In 1885 was dit die grootste vervaardiger van landboumasjinerie in Europa. Wat daartoe bygedra het, was Lanz se waarborg dat die ingevoerde masjinerie versien en herstel sou word waar nodig. Ook op die gebied van stoomaandrywing was Lanz ’n leier.
DIE EENVOUD SELF
Die Lanz Bulldog was die breinkind van dr. Fritz Huber, ’n ingenieur wat in 1916 by Lanz begin werk het. Nie net die enjin nie, maar ook die res van die trekker was die eenvoud self.
Huber se idee was om ’n trekker te maak wat “nooit” sou breek nie, en ás dit breek, moes die boer dit self kon herstel. Huber se idee het in die praktyk gewerk – die trekker wás byna onbreekbaar.
In 1921 was die revolusionêre Lanz met die gloeikop op die mark – ’n horisontaalwerkende eensilinder-tweeslagenjin met slegs drie bewegende dele. Dit kon op bykans alle soorte swaar olies loop, solank dit net deur die oliepomp kon gaan.
Aan die voorste deel van die ontbrandingskamer is ’n ysterpot wat met ’n vlam rooiwarm gemaak word. Wanneer die pot, en natuurlik ook die ontbrandingskamer, warm genoeg is, word die vliegwiel met die stuurwiel (wat afgehaal word vir die doel) gedraai en die brandstof in die ontbrandingskamer gespuit om te ontbrand vir die kragslag.
Die eerste Lanz-enjins, met ’n inhoudsmaat van 6,3 liter, het teen effens minder as 500 omwentelinge per minuut geloop en 8,9 kW gelewer.
In die byna 40 jaar dat die Lanz Bulldog op die mark was, het baie modelle met verskillende kraglewering die lig gesien. Die laaste modelle se inhoudsmaat was 10,3 liter en het 41 kW gelewer. Sedert 1955 was dit ’n volledige dieselenjin, maar die basiese konsep is behou.
NABOOTSING IS DIE GROOTSTE KOMPLIMENT
Ongeveer 20 nabootsings van Huber se Lanz Bulldog is gemaak, en net enkeles in lisensie. In sommige gevalle is net die masjien nagemaak en op die fabrikant se eie raam gebruik. Soms kon die nabootsing nie juis van die oorspronklike Lanz onderskei word nie. Altesaam vier fabrikante het hul geluk in Italië op die proef gestel.
Die bekendste is die Landini, waarvan ’n paar in Suid-Afrika te sien is. Die Ursus is tot 1965 in Pole gemaak. En sowat 90% van die Australiese Kelley Lanz se onderdele is uitruilbaar met die oorspronklike Duitse Lanz.
’n Interessante stukkie naboots-geskiedenis is dié van die Pampa van Argentinië. In 1952 wou genl. Juan Perón sy land ekonomies onafhanklik maak. Argentynse boere moes dus genoeg kos lewer vir plaaslike gebruik én uitvoer. Maar daarvoor het hulle trekkers nodig gehad. Die boere was arm, en tot in dié stadium is alle trekkers ingevoer. Hulle was dus duur.
Dan maak Argentinië self een, het Perón besluit. Die boere wat kon kies, het die Lanz Bulldog verkies, want die trekker was maklik om te bedryf en goedkoop om te onderhou. Ingenieurs het toe twee identiese Lanz Bulldogs in Uruguay gekoop en aan die werk gespring.
Die een Lanz is heeltemal uitmekaargehaal en die onderdele aan ingenieursfirmas gegee om nabootsings te maak en dit te be- gin vervaardig. Binne drie maande was die oranje Pampa-trekker in produksie en tot 1955 is sowat 3 600 Pampas vervaardig.
JOHN DEERE-OORNAME
In Amerika en baie ander lande het John Deere in die dekade ná die Tweede Wêreldoorlog gefloreer, maar min trekkers na Europa uitgevoer. Om ’n mark vir sy volgende reeks trekkers in Europa te verseker, het John Deere in 1956 die sukkelende Lanz-maatskappy gekoop om sy fabrieke en handelaarsnetwerk tot sy beskikking te hê. Eers is die kleur van die ikoniese Lanz-trekker na groen verander, daarna die naam na John Deere-Lanz, en in 1960 is vervaardiging van die trekkerreeks gestaak. Sedertdien het John Deere met sy nuwe reeks trekkers só gegroei dat hy in 1970 die grootste trekkervervaardiger in Europa was.
Van die meer as 200 000 Lanz Bulldogs wat vervaardig is, het baie tot niet gegaan, maar ’n gerestoureerde Lanz, in enige versamelaar se besit, is basies onverganklik.
Hennie Richter van Yzerfontein is redakteur van die gereelde nuusbrief van SAVTEK, die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraan-trekker-en-enjinklubs.
Volgende week: Die konsep wat behoue gebly het …