Waterregte: Groot bakleiery dreig
DIE Hooggeregshof in Grahamstad moet eersdaags besluit of ’n sitrusboerdery van Somerset-Oos mag voortgaan met sy aansoek om waterregte wat hy ten duurste van ’n ander boer bekom het nadat die Departement van Water en Sanitasie intussen sy beleid oor die verhandeling van waterregte verander het.
Regskenners met wie Landbouweekblad gepraat het, meen die verandering is eensydig en klaarblyklik terugwerkend.
Die BF Joubert-familietrust het op 21 April 2016 ’n kooptransaksie aangegaan met mnr. Johannes Lombard van die plaas Wagenaarsdrift, distrik Somerset-Oos, om waterregte vir 50 hektaar uit die Groot Vis-Tsitsikammarivier-staatswaterskema van Lombard oor te koop teen R110 000 per hektaar.
Ingevolge die koopkontrak sou die trust R2,5 miljoen deposito betaal in ruil vir Lombard se afstanddoening van sy waterregte om sodoende die aansoek vir die onttrekking van dieselfde hoeveelheid water op die koper se eiendom moontlik te maak.
Die rede vir hierdie proses is volgens die departement sodat die reserwevermoë van die waterbron nie beïnvloed word nie.
Die trust sou die water op ’n ander plaas by Somerset-Oos gebruik het vir die vestiging van ’n sitrusboerdery en gepaardgaande werkskepping vir 40 heeltydse en 200 seisoenswerkers.
Dit is een van die dorpe met die hoogste werkloosheidsvlakke in die Oos-Kaap.
WETTIG
Bogenoemde praktyk was wettig ingevolge ’n omsendbrief wat die direkteur-generaal van die destydse Departement van Waterwese en Bosbou in 2001 uitgereik het.
Mnr. Francois Joubert, trustee van die BF Joubert-familietrust, sê in ’n verklaring voor die hof dat sulke ooreenkomste tussen naburige grondeienaars algemeen is en gesien word as ’n manier om bestaande waterregte
optimaal te benut. Hy sê ook dat die Groot Vis-Tsitsikamma-watergebruikersverenigings sulke ooreenkomste as wettig beskou.
PROBLEEM
Die eerste aanduiding aan Joubert dat daar probleme met die waterlisensie-aansoek was, was toe mnr. Hammond Visagie, die amptenaar van die departement wat die aansoek behartig, hom op 10 Oktober verlede jaar gekontak het om ’n plaasinspeksie tedoen.
“Gedurende die gesprek het Visagie sy kommer uitgespreek dat die voorgestelde aansoek nie suksesvol sal wees nie omdat daar ’n siening by die departement is dat sulke aansoeke nie langer toegelaat sal word nie.”
Visagie het tydens die plaasinspeksie ’n week later sy bedenkinge herhaal.
“Dit blyk dat die departement meen die koopkontrak is teenstrydig met die Nasionale Waterwet en dat dit dus nie nodig is dat die departement die meriete van die aansoek oorweeg nie,” sê Joubert in sy verklaring.
Hy vra dat die hof die koopkontrak wettig verklaar, en ook verklaar dat die kontrak nie
teenstrydig is met die Nasionale Waterwet nie.
“Die situasie het ontstaan waarin die trust ’n koopkontrak aangegaan het op ’n tyd toe die departement se beleid so ’n ooreenkoms as wettig gesien het, maar die departement beskou nou sulke ooreenkomste as strydig met artikel 25 (2) van die wet,” sê hy.
OMSENDBRIEF
Op 19 Januarie vanjaar, in ’n skrywe getiteld Omsendbrief no. 1 van 2017, sê mnr. Sifiso Mkhize, waarnemende direkteur-generaal van die departement, as die wet die private verhandeling van waterregte toegelaat het, sou dit uitdruklik daarvoor voorsiening gemaak het.
Mkhize redeneer indien dié praktyk wettig was, sou die wet nie in ’n afsonderlike artikel voorsiening gemaak het dat wettige watergebruik aan die verantwoordelike waterbestuursliggaam prysgegee kan word nie. Hy sê ook dat sulke private transaksies dit onmoontlik maak vir die Minister van Water en Sanitasie om uitvoering te gee aan bepalings in die wet om te verseker dat waterregte op ’n billike wyse toegeken word.
Die departement staan die aansoek teen. Die saak word na verwagting in Augustus aangehoor.
‘Dit blyk dat die departement meen die koopkontrak is teenstrydig met die Nasionale Waterwet.’