Mielies: Bemes vir wins, nie opbrengs
Dis maar net die oortjies van die seekoei, sê ’n veteraan-grondkundige oor waarskuwings dat saaiboere dikwels oorbemes. Optimale wins, en nie die hoogste opbrengs nie – of anders gestel geld in die sak en nie skuld by die bank nie – behoort jou doelwit te
Oorbemesting is ’n kwessie wat al dekades gelede aan die lig gebring is, maar waaroor steeds groot wanopvattings bestaan, sê dr. Gawie du Toit, afgetrede mielieboer en grondkundige van die Landbounavorsingsraad se Nooitgedacht-instituut by Ermelo.
’n Oormaat misstof is omtrent van dag een af in Suid-Afrika se mielieproduksie aan die orde van die dag, sê hy.
“’n Nuwe helderheid oor die bemesting met stikstif (N), fosfaat (P) en kalium (K) van mielies is uiters noodsaaklik om plaaslike mielieboere weer rigting te gee in ekonomies gesonde en volhoubare produksie.
“Boere moet daarteen waak om ’n swaar NPK-inset te maak om die een of ander denkbeeldige groot oes na te jaag – en in die proses te veel te bestee, met gevolglike aansienlike geldverlies en onnodige insetrisiko.
“Volg eerder ’n konserwatiewe benadering en gaan oordeelkundig te werk.
“Besluit dan self: Wil jy die winsbeker of die opbrengsbeker wen?” ( Sien ook die artikel “Pasop vir oorbemes”, LBW ,11 Mei 2018.)
Gawie sê hy waarsku al die afgelope vier dekades teen lukrake bemesting wat boere duisende rande kos.
Hy is steeds oortuig dat ’n oormaat misstof, wat nie net stikstof insluit nie, mielieproduksiekoste onnodig die hoogte in jaag, met gevolglike onnodige finansiële druk op die boer.
Die ander nadeel is dat oormatige stikstoftoediening ernstige grondsuurheid veroorsaak, wat verreikende finansiële gevolge vir die boer inhou weens die ekstra koste van kalktoediening.
VERSURING
Gawie glo grondversuring in die somersaaigebied word heeltemal onderskat. “Moenie uit die oog verloor nie dat die jaarlikse grondversuring in die verbouing van mielies minstens sowat 1 ton kalk per hektaar verg om dit te neutraliseer. Dít is vanweë stikstoftoediening, en veral oormatige N-toediening wat die plant nie gebruik nie.
“Statistieke toon ook dat drie
tot vier keer te min kalk gebruik word net om grond-pH op sy bestaande vlak te probeer hou, om nie eens te praat van regstelling van pH tot die vereiste vlak vir optimale plantprestasie nie.
“Die regstelling van veral ondergrondsuurheid is ongetwyfeld die grootste enkele probleem in die behoud van mielie-opbrengste op ’n gesonde vlak en vir betroubare voedselsekerheid.”
Gawie stem saam met dr. Hendrik Smith, grondkundige van die
onderneming FAKTOR2, dat alle ammoniumprodukte grond versuur, veral die onnodige en oormatige gebruik daarvan.
Stikstof is egter hoofsaaklik op die mark beskikbaar in ammoniumvorm, en is die hoofdrywer van goeie produksie. Maar dan moet in gedagte gehou word dat grondversuring net met die toediening van die regte hoeveelheid kalk van die regte gehalte reggestel kan word. ’n Korrekte kalkbehoefte-bepaling moet dus
in ’n laboratorium gedoen word en nie van ’n rekenaarprogram afgelees word nie.
Gips is nie vir hierdie doel geskik nie. Dit behoort net toegedien te word om té hoë pH van brak grond te verlaag, sê Gawie.
MISSTOFRIGLYNE
Bestaande NPK-riglyne, volgens die Misstofvereniging van Suid-Afrika (Fertasa) se handleiding, geld nie vir ’n dinamiese stelsel van wisselwerking tussen grondvrugbaarheid, die plant en reënval nie, meen Gawie. (Sien ook KASSIE .)
Hy sê dit is veral eienaardig dat wetenskaplikes, soos prof. Fred Below, spreker op vanjaar se Graan SA-kongres, nie kennis neem van omvattende navorsing oor hierdie dinamika nie.
“Daarom is dit nie vreemd nie dat puik oeste soms met baie min of geen stikstof behaal kan word.”
Amerikaanse proewe oor ’n groot gebied wys ook dat boere daar te veel stikstof, fosfaat en kalium toedien, sê Gawie.
Hy het dit veral teen die gebruik van Fertasa se bemestinghandleiding om, afgesien van stikstof, ook fosfor, die duurste voedingselement, in die grond reg te stel “tot die een of ander denkbeeldige grond-P-waarde.
“Die bandplasing van ’n fatsoenlike hoeveelheid ‘vars’ fosfor, saam met ’n klompie stikstof en kalium met planttyd, is besonder doeltreffend om winsgewende oeste te lewer.
“Boere moet mooi dink voordat hulle ’n klomp duur fosfaat in hul grond inwerk.”
Hy voeg by dat optimale wins, en nie die hoogste opbrengs nie, nagejaag moet word. In dié verband verwys hy na ’n onlangse proefneming waarin dié statistieke vergelyk is ( sien GRAFIEKE ).
Dít het gewys dat die hoogste opbrengs nie die grootste wins opgelewer het nie. Die grootste oes van 9,4 t/ha het ’n heelwat laer netto inkomste gelewer as die kleiner oes van 9,1 t/ha. Daarby was die rendement (opbrengs in rand vir elke rand aan NPK bestee) ’n baie gunstige R8,80 vir die 9,1 t/ha-oes, teenoor net R4,60 vir die 9,4 t/ha-oes.
“Die doelwit van droëlandsaaiery in Suid-Afrika se somersaaigebied met sy hoë klimaatrisiko behoort ’n meer betroubare inkomste te wees, eerder as om ’n klomp NPK toe te dien waarmee vir ’n denkbeeldig groot en duur oes gemik word,” sê Gawie.