Plaagdoders: Dís hoekom pryse skerp gaan styg
Sonder ’n doeltreffende geïntegreerde plaagbestrydingstrategie kan tussen 50% en 80% van die wêreld se oeste in die slag bly. Die plaagdoderbedryf ondergaan tans ingrypende veranderinge, wat ’n invloed op die prys en beskikbaarheid van middels het. ’n Ken
Boere moet hulle regmaak dat ’n skerp styging in die prys van landbouchemikalieë om die draai wag. Dit is die gevolg van ingrypende veranderinge in die Chinese voorsieningsketting, maar ook weens die koste om nuwe aktiewe bestanddele op te spoor – veral in die lig van ’n vlaag oornames en samesmeltings in die bedryf.
Mnr. Rudolph Geldenhuys, uitvoerende hoof van InteliChem, het tydens Hortgro se tegniese simposium op Somerset-Wes toonaangewende neigings in die landbouchemiese bedryf uitgelig.
PRYSSTYGINGS EN CHINA
Die pryse van plaagdoders kan in die afsienbare toekoms met tussen 20% en 30% styg. Dié hoë pryse sal minstens 18 tot 24 maande lank geld.
“Daar is nog baie voorraad in Suid-Afrika (teen ou pryse) beskikbaar omdat ons in ’n droogtesituasie is, maar wanneer die voorraad uitgeput is, rondom die derde of vierde kwartaal, sal ons die prysstygings begin ervaar,” sê hy.
China se nuwe, strenger regulasies oor plaagdoders dra grootliks by tot die stygings. China is ’n wêreldleier met die vervaardiging van generiese plaagdoders. Sowat 90% van die wêreld se aktiewe bestanddele word daar vervaardig. Altesaam 50% van die Chinese produkte word uitgevoer. Die land het verlede jaar eers nuwe regulasies vir die bestuur van plaagdoders in sy plaaslike mark afgekondig en in September ook ’n omgewingsrisikoasseseringswet aanvaar wat die reëls in China heeltemal verander het.
“Die groot fokus was op besoedeling, en dit het meegebring dat verskeie fabrieke moes sluit. Na verwagting sal meer as 40% van China se klein en mediumgroot fabrieke oor die volgende vyf jaar uitgefaseer word as deel van ’n plan wat in 2015 in werking gestel is. China is baie ernstig daaroor. Ons sien dit in die feit dat meer as 12 000 staatsamptenare dissiplinêr verhoor is omdat hulle nie voorheen die reëls en regulasies afgedwing het nie.”
Geldenhuys sê die fabrieke wat hul deure moes sluit, het ’n groot invloed op die vraag en aanbod van produkte gehad, wat uiteraard pryse beïnvloed het.
“Ons het stygings van tussen 10% en 90% reg oor die spektrum van produkte gesien. Chinese uitvoerpryse het sedert Oktober ’n bullopie aangeteken en hul landbouchemiese indeks het op ’n jaargrondslag met bykans 32% gegroei.”
Hy verwag dat China se nuwe strenger omgewingsfokus nie ’n storm is wat sal oorwaai nie, maar hier is om te bly.
“’n Groter fokus op die verbetering van geriewe en die transformasie van ondernemings sal beslis oor die volgende vyf jaar plaasvind.”
SAMESMELTINGS EN OORNAMES
Dosyne maatskappye wat plaagdoders vervaardig het, het die afgelope jaar of wat die bedryf verlaat weens samesmeltings en oornames. Teen die einde van vanjaar sal net vier van 2010 se groot ses vervaardigers van plaagdoders nog bestaan. Van 2012 tot 2016 het sowat 90 maatskappye verminder tot net 20, as gevolg van konsolidasies.
Bayer se beoogde oorname van Monsanto sal waarskynlik ook in die volgende weke
‘Boere het ’n hele gereedskapskas nodig met verskillende oesbeskermingsmiddels. In die lig van die regulatoriese vereistes en minder produkte gaan biologiese middels al hoe belangriker raak.’
wêreldwyd goedgekeur word.
“Die samesmeltings word aangedryf deur die voordele daaraan om risiko te versprei en skaalvoordele te benut, sodat hulle kan aanhou belê in tegnologie, maar ook om aandeelhouerwaarde te beskerm.”
Saam met al die konsolidasies word egter ook minder aktiewe bestanddele aan die mark beskikbaar gestel.
Volgens Geldenhuys is die rede daarvoor die groot skuif van gepatenteerde na nie-gepatenteerde na generiese middels.
“Dit beteken ons het nie nuwe tegnologie om ons te help met volhoubare landbou nie.”
Boonop het die prys om nuwe molekules (aktiewe bestanddele) aan die mark bekend te stel die afgelope 20 jaar verdubbel. In 1995 het dit sowat $145 miljoen gekos, maar tans jaag dit ’n maatskappy tot $300 miljoen – bykans R4 miljard – uit die sak.
“Een uit 52 000 molekules wat getoets word, was suksesvol in die verlede. Vandag is dit omtrent een uit elke 160 000 molekules. Drie keer meer molekules moet dus getoets word en dit duur nou drie jaar langer – sowat elf jaar – om dit na die mark te bring. Dit dra alles by tot die koste en die natuurlike uitvloeisel is dat maatskappye bymekaar kom, koste probeer verminder, en navorsing en ontwikkeling kombineer in ’n poging om voordele te ontsluit.”
OMGEWINGSREGULASIES
Hoewel die akute toksisiteit van plaagdoders die afgelope vyf dekades gehalveer het, slimmer tegnologie daagliks die lig sien en volgehoue navorsing lei tot voedselveilige produkte is die Europese Unie (EU) vasbeslote om voort te gaan om aktiewe bestanddele te verbied of te beperk.
“Minder as ’n maand gelede het die EU baie na aan ’n algehele verbod geplaas op plaagdoders uit die neonikotinoïed-groep, tans die grootste groep plaagdoders ter wêreld. Dit verbied die gebruik daarvan in die buitelug, en die middels mag nou slegs in kweekhuise gebruik word.”
Die EU het die afgelope agt jaar meer as 265 tradisionele chemiese aktiewe bestanddele verbied.
“Switserland is vasbeslote om binne die volgende drie jaar ’n algehele verbod te plaas op die gebruik van sintetiese plaagdoders. As dit slaag, sal hulle naas Bhoetan die enigste land ter wêreld wees wat dit doen. Maar dieselfde geld vir Frankryk, wat hierdie middels oor vyf jaar wil uitfaseer.”
Geldenhuys is bekommerd dat hierdie soort besluite deur politiek, eerder as wetenskap, aangedryf word.
“Dis groot veranderinge wat plaasvind en dis onwaarskynlik dat regulatoriese harmonisering wêreldwyd sal plaasvind. Dit het dus ’n regstreekse invloed op Suid-Afrika as uitvoerland. Ons sit ook met die kwessie van verskillende MRL’e (minimum residuvlakke) wat in verskillende lande sal geld.”
GLIFOSAAT IN DIE WEEGSKAAL
Teen ’n markwaarde van ongeveer $7 miljard is glifosaat tans die wêreld se grootste aktiewe bestanddeel.
“Na verwagting sal dit oor vyf jaar ongeveer $10 miljard werd wees. Dit is dus steeds ’n baie belangrike produk. Navorsing in Amerika, op byna 55 000 gelisensieerde plaagbestrydingstoepassings, het getoon daar is nie ’n verband tussen glifosaatblootstelling en kanker nie, maar in die EU is dit steeds ’n warm debat.”
Geldenhuys sê die gebruik daarvan sal in 2023 hersien word.
“Dit kan potensieel die einde van glifosaat beteken, ten spyte van die oorweldigende wetenskaplike bewyse dat dit veilig, doeltreffend en omgewingsvriendelik is.”
’n Wêreldwye verbod op glifosaat kan lei tot ’n jaarlikse verlies aan plaasinkomste van sowat $6,8 miljard – veral by gewasse soos soja, mielies en kanola.
BIOLOGIESE MIDDELS
Biologiese middels is hier om te bly. Selfs multinasionale landbouchemiese maatskappye het hul vertroue daarin gewys deur in sulke middels te belê. Volgens Geldenhuys is die verwagting dat biologiese middels teen ’n saamgestelde groeikoers van 14% sal groei tot 2020. Konvensionele plaagdoders sal glo net 5% groei.
Die navorsing- en ontwikkelingsfokus is veral op natuurlike metaboliete, teenswammiddels, mikro-biome en molekulêre biologiese tegnieke.
“Boere het ’n hele gereedskapskas nodig met verskillende oesbeskermingsmiddels. In die lig van die regulatoriese vereistes en minder produkte gaan biologiese middels al hoe belangriker raak. Tans is daar meer as 60 maatskappye met sowat 1 000 biologiese middels wat ons gereedskapskis aanvul en beskikbaar is vir geïntegreerde plaagbestryding.”
BETROUBARE VENNOOT
Die dae van ’n gifsmous wat ’n transaksie beklink en aanbeweeg, is iets van die verlede. In die huidige landbou- en kleinhandellandskap is die “betroubare sake-adviseur” baie belangrik, sê Geldenhuys.
Tegnologie, kunsmatige intelligensie en outomatisering raak aan die orde van die dag en die “betroubare sake-adviseurs” sal groot data oor verskillende lae in ag moet neem, en kan interpreteer om boere met raad en daad te bedien.
“’n Boer het ’n spesialis nodig wat saam met hom kan werk en verskeie jare se data kan interpreteer. In dié opsig moet die bedryf ook met universiteite en ander instellings skakel,” meen Geldenhuys.
“Die vraag bly egter of aanbevelings en verkope van mekaar geskei sal kan word en hoe databestuur deel gaan uitmaak van die dienste wat aangebied word.”
E-HANDEL
Geldenhuys verwys na die neiging om landbouproduksiemiddele regstreeks via die
internet en teen ’n vaste prys te verkoop as die “Amazon vir boere en verskaffers”. Op die oomblik word sowat 20% van alle aankope van landbou produksiemiddele in Amerika deur die internet gedoen. Die e-handelneiging het in 2015 in Australië opgevlam, maar ’n stille dood gesterf. Dit steek nou ook kop uit in China.
Dis nog ’n ope vraag of hierdie tipe e-handel in Suid-Afrika gaan posvat of nie, maar Geldenhuys glo nie dit sal die huidige verspreidingskanale heeltemal op sy kop keer nie.
“Ek dink dit sal wel ontwikkel, uit noodsaak en as vernuwende verkoopsmetode, en die groter en meer gesofistikeerde boerderye sal beslis voordeel daaruit trek.”
Meer as 70% van Amerikaanse verskaffers van landbou produksiemiddele het tans die een of ander vorm van varieer bare toepassings tegnologie( basies presisie tegnologie ).
Geldenhuys het nog ’n paar voorbeelde genoem van beleggings wat tans in landbou tegnologie plaasvind, soos kamera tegnologie in meganiese skoffels as alternatief vir onkruid bestryding en slim spuit tegnologie wat onkruid met kameras identifiseer. Dan is daar ook die vraag oor blok ketting tegnologie, wat groot potensiaal in die landbou het, soos laer transaksiekoste, verbeterde logistiek en verhoogde naspeurbaarheid.